Bonnievale wyne stel Carina Gous aan

Carina Gous Bonnievale Wines
Carina Gous
Bonnievale Wyne het pas ’n a sleutel-ooreenkoms met die gerespekteerde wynbedryf-spesialis, Carina Gous, onderteken. Gous neem ’n adviserende rol aan, terwyl die maatskappy gereedmaak vir die volgende groeifase.
Gous was tot onlangs die globale handelsmerk-direkteur vir Distell se premium wyn- en spiritus handelsmerk-portefeulje. Sy was voorheen Distell se Besigheidsdirekteur: Wynsegment en het ’n deurslaggewende rol in die groei en verbetering van die maatskappy se wynbesigheid, op ’n globale vlak, gespeel. Sy het laat 2017 ook die pos as nie-uitvoerende voorsitter van die invloedryke uitvoer-bemarking organisasie, Wines of South Africa (WOSA), by die finansiële entrepreneur Michael Jordaan, oorgeneem. Haar verbintenis met Bonnievale Wyne sal as strategiese bemarking- en verkoopsadviseur wees. Sy sal hier baie nou met die stigter-HUB, John Barnardt, werk.
“Ons is baie opgewonde om Carina aan boord te hê,” sê Bonnievale Wyne se raadsvoorsitter, Anton Smuts. “Danksy haar dinamiese leierskap en omvangryke ondervinding van alle vlakke van die bedryf – plaaslik en internasionaal – het sy haarself as ’n belangrike bate vir ons bedryf bewys. Haar verbintenis met Bonnievale Wyne kom op net die regte tyd, omdat die maatskappy voorberei vir die volgende vlak.”
Volgens Barnardt, werp Gous se insae reeds vrugte af. “Ons het al verskeie veranderinge in werking gestel, wat ’n beduidende invloed op ons markteenwoordigheid sal hê en Carina se bydrae is van onskatbare waarde,” sê hy.
Gous het op ’n plaas in die Keisie-vallei naby Montagu grootgeword en het ’n spesiale verbintenis met die groter streek, wat die tuiste is van ikoniese wyn-handelsmerke en meer as 100 produsente waaruit Bonnievale Wyne bestaan.
“Die maatskappy het ’n lang en uitstekende geskiedenis van medewerking en samewerking,” sê sy. “Behalwe dat dit ’n formidabele besigheid is met toegang tot ’n wye verskeidenheid kultivars en terroirs, het Bonnievale Wyne ’n unieke ligging in die manjifieke Breederivier-vallei en is deel van ’n lang- en fassinerende geskiedenis. Hulle het al die boustene om ’n oorspronklike, uitsonderlike hoë kwaliteit-handelsmerk na die mark te bring en langtermyn waarde te bou. Daar is ’n ongelooflike positiewe energie by Bonnievale en ek sien uit om by te dra tot sy toekomstige suksesse.”
Haar besluit om nouer betrokke te wees by Bonnievale Wyne, spruit voort uit haar sieninge oor die Suid-Afrikaanse bedryf in geheel.
“Waardeverhoging is noodsaaklik vir die fundamentele veranderinge, wat ons benodig om volhoubaarheid te bewerk, maar dit moet op elke vlak gebeur. Bonnievale Wyne is ’n goed-bestuurde maatskappy met ’n groot produsente netwerk wat die verlangde wyn kwaliteit op verskillende vlakke kan lewer. Ons het ’n wynkopersnetwerk in die plaaslike- en internasionale markte en ons weet waarheen die wyn gaan en hoe dit gebruik word. Hier is die geleentheid om ’n goeie-, langtermyn handelsmerk met ’n rotsvaste verskaffersbasis en sterk finansiële ondersteuning te bou. Ek glo dit is wat benodig word om waarde vir bestaande wynkelders te ontsluit en die winsgewindheid van die groter bedryf dramaties te verander.”
Alhoewel die geskiedenis meer as ’n halfeeu terugdateer, het Bonnievale Wyne in 2016 sy 10de verjaardag gevier. Dit is formeel op 1 November 2006 gestig, ná ’n drieledige samesmelting van die Bonnievale-, Merwespont- en Nordale koöperatiewe wynkelders in wat gereken word as ’n mylpaal en eerste van sy soort transaksie vir die Suid-Afrikaanse landboubedryf.
Die samewerkingsooreenkoms met Carina Gous is net nog ’n stappie in die maatskappy se pioniers-ewolusie. Gous het die grade MSc en MBA en is ’n gekwalifiseerde chemikus.
Bron: Bonnievale Wyne