BKS in die Wes-Kaap: Massiewe poging om BKS by Gouda te bekamp

Foot_and_mouth_disease_in_mouth
Verskeie instansies is besig om verbete te keer dat bek-en-klouseer wat verlede week by Gouda in die Wes-Kaap bevestig is, nie verder versprei nie.
Agri Wes-Kaap (AWK), die Rooivleisprodusente-organisasie (ROP) Wes-Kaap in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou se veeartsenydienste (DWLK) het Maandagmiddag bevestig dat die gesamentlike pogings om verdere uitbrekings in die Gouda-gebied te beperk en uit te wis onverpoosd voortduur.
’n Gesamentlike operasionele sentrum, onder leiding van die DWLK en ondersteun deur AWK, is geaktiveer en fokus op deurlopende monitering, data-insameling en die koördinering van alle betrokkenes se optrede.
Biosekuriteit die sleutel
Alle betrokkenes moet besef dat biosekerheid nie ’n eenmalige aksie is nie, maar ’n daaglikse verantwoordelikheid.
Die biosekuriteitsbeheergebied wat oor 10 km strek, bly in plek solank as wat die gebied onder kwarantyn is.
Kontrolepunte is op strategiese plekke opgerig en die publiek word deur verskeie kanale oor die situasie ingelig.
Vervoerders word daaraan herinner om alle vereiste dokumentasie byderhand te hê, insluitend:
- ’n Eienaarsverklaring;
- ’n Ontvangerverklaring vir vee; en
- Sertifikate ingevolge Afdeling 6 en 8 van die Veediefstalwet
Produsente word ernstig versoek om hulle eie biosekuriteitsmaatreëls te hersien en te versterk, en om alle beweging van diere in of uit die kwarantyngebied aan te meld op die departement se vraelys by https://tinyurl.com/AnimalMovementApp
Higiëne- en ontsmettingsmaatreëls
Ontsmetting word daagliks gedoen en die gebruik van F10 word aanbeveel om voertuie en toerusting te ontsmet. Alle voertuie, klere en toerusting wat die gebied binnekom of verlaat, moet deeglik skoongemaak en ontsmet word.
Inentings en monitering
- Alle besmette diere is ingeënt as deel van die goedgekeurde beheermaatreëls.
- Na inenting geld ’n waarnemingstydperk van 14 dae, waarna die diere, mits geen nuwe simptome voorkom nie, slegs by goedgekeurde abattoirs geslag mag word.
- Donderdag (13 November) sal verdere inspeksies van skape en beeste plaasvind.
- Rondloperdiere in die dorp is reeds geïdentifiseer en word deur staatsveeartse gemoniteer.
- Enige dieresterftes – hetsy verwant aan bek-en-klouseer of nie – moet onmiddellik aan die plaaslike staatsveearts rapporteer word.
Koördinering en ondersteuning
AWK fasiliteer daaglikse situasieverslae (SITREPs) aan alle betrokke instansies en ondersteun kommunikasie met produsente deur radio, WhatsApp-groepe en ander platforms.
Verskeie rolspelers is aktief betrokke
- Die SAPS bevestig beskikbare voertuie vir patrollies sowel as bystand.
- Die provinsiale verkeersdepartement sal 24 uur beskikbaar wees by kontrolepunte.
- Die distriksmunisipaliteit bied logistieke ondersteuning.
- Plaaslike sekuriteitsmaatskappye en boere help met toesig en die oprig van borde wat aandui dat die area onder kwarantyn is.
Volgende 72 uur
Die volgende paar dae sal die fokus val op voortgesette monitering, die versterking van kontrolepunte en bewusmaking onder produsente en die publiek.
Kontaknommers van verantwoordelike rolspelers word aan alle betrokke partye beskikbaar gestel.
Boodskap aan produsente
AWK en die RPO Wes-Kaap doen ’n baie ernstige beroep op alle veeboere om streng biosekuriteitsmaatreëls op hul plase toe te pas en alle amptelike protokolle te volg. Hierdie samewerking bly noodsaaklik om die uitbreking doeltreffend te beheer en uiteindelik uit te wis.
Naspeurbaarheidsplatform
AWK en die provinsiale RPO het reeds ʼn naspeurbaarheidsplatform, naamlik Animal Indentification, Movement and Safety-stelsel (AIMS) in die Wes-Kaap van stapel gestuur. Veeprodusente kan dit gebruik om die naspeurbaarheid van hul diere te verseker. Die stelsel is gratis en integreerbaar met kuddebestuurstelsels. Besoek AWK se webtuiste en laai die stelsel af by https://awkaims.co.za/
Kontakbesonderhede
Kontak Louis Wessels by louis@awk.co.za of Helena van Eeden by helena@awk.co.za vir meer inligting.