Categories: NuusPublished On: 17th April 2020

Bekende in melkbedryf oorlede

By 2 min read
303 words
bertus

bertus2

Bertus de Jongh

Bertus de Jongh, vir meer as twee dekades die hoofbestuurder van die Melkprodusente-organisasie, is in die ouderdom van 70 jaar oorlede. Dr Chris van Dijk, die uitvoerende hoof van die MPO, deel die volgende huldeblyk:

Op 15 April, terwyl elkeen van ons ons dagtaak in hierdie moeilike omstandighede met COVID-19 begin het, het ons die baie hartseer nuus ontvang dat Bertus de Jongh oorlede is.

Bertus is 70 jaar gelede op Malmesbury gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Swartland, waarna hy ʾn graad in ekonomie aan die Stellenbosch Universiteit behaal. Bertus het in 1991 by die destydse Suiwelraad aangesluit as assistent-bestuurder verantwoordelik vir bemarking.

In Junie 1992 moes hy die deregulering van die destydse Suiwelraad onderneem, en in 1993 is hy aangestel as die bestuurder van die gedereguleerde Melkraad wat van toe af bekend gestaan het as die Melkprodusente-organisasie (MPO). Hy het die MPO met oorgawe en entoesiasme gevestig as een van die vooraanstaande produsente-organisasies in Suid Afrika.

Na meer as 25 jaar in die suiwelbedryf tree Bertus in April 2015 af as uitvoerende hoof van die MPO. In sy jare van toewyding by die MPO het hy ʾn wesenlike verskil in die melkbedryf gemaak. Bertus was altyd ʾn kampvegter vir die boer en hy het ʾn platform gestel wat dit vir my en my span maklik gemaak het om sy visie vir die bedryf verder te dra en uit te bou. Hy was dinamies, beginselvas en het die vermoë gehad om die betrokkenheid van ʾn hele span te verkry.

Ek is seker elkeen wat die voorreg gehad het om saam met Bertus te werk sal saamstem dat hy op baie maniere ons lewens verryk het en dat hy ʾn baie groot voetspoor nalaat.

Aan Lida en haar kinders baie sterkte in hierdie baie moeilike tyd.

Bertus, die suiwelbedryf gaan jou mis!

Bron: Dr Chris van Dijk, uitvoerende hoof, MPO

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0