Categories: NuusPublished On: 16th January 2026

BEK-verwante tierhart-sindroom eis jong kalwers

By 4 min read
830 words

abbey-mackie-bAYqGbqa8A8-unsplash

Suid-Afrikaanse beesboere rapporteer toenemend skielike vrektes onder suipkalwers as gevolg van die sogenaamde tierhart-sindroom. Die sindroom is  ’n ernstige komplikasie wat met bek-en-klouseer (BEK) verband hou, veral by kalwers jonger as drie maande.

Beeste wat met die bek-en-klouseervirus, wat nou as endemies in sewe van die provinsies beskou word, toon soms min van die klassieke simptome soos oormatige speekselvloei, mondletsels of mankheid. Jong diere wat besmet is toon geen van hierdie simptome nie en daar is dus geen waarskuwing dat die diere siek is nie en hulle vrek onverwags.

In jong diere word die hartspier en longe aangetas en dit lei tot kenmerkende gestreepte letsels op die hart en ‘n hoë vrektesyfer.

Volgens dr. Shaun Morris, ’n privaat veearts wat deel is van landbouminister John Steenhuisen se ministeriële taakspan (MTS) vir dieresiektevoorkoming en -beheer, is daar tans verskeie stamme van die bek-en-klouseer-virus in die land.

Die groot toename in nuwe bek-en-klouseergevalle het saamgeval met die kalfseisoen op baie beesplase. Die jong diere se onvolwasse immuunstelsel is nie opgewasse teen infeksie nie, wat lei tot die hoe vrektesyfer.

Volgens dr Danie Odendaal van die Veterinarian Network toon volwasse beeste soms min of geen kliniese tekens nie en word ook lig geraak word sodat hulle volkome herstel. Suipkalwers dra die volle impak van die virus.

Volgens dr Odendaal het die gevalle van tierhart aanvanklik voorgekom in kuddes wat nog nooit teen BEK ingeënt is nie en het dus niks met inenting te doen nie, ook nie met weiding nie.

Gestreepte harte en skielike dood

Tierhart, of tigroïede hart, beskryf die voorkoms van die jong dier se hart nadat hy gevrek het. Die hart vertoon ligte en donker strepe, wat herinner aan ’n tier se pels, wat reeds voor die diere se dood ernstige skade aan die hartspier veroorsaak het.

Hoewel tierhart veral by suipkalwers voorkom, kan dit ook jong diere van ander spesies raak, insluitend melkkalwers, skaap- en boklammers en varkies, en dit is meestal noodlottig.

Volgens dr Morris het Suid-Afrika nog nooit tevore so ’n wydverspreide uitbreking van BEK beleef wat soveel beeskuddes terselfdertyd raak nie, en  veral nie in die piek-kalfseisoen nie.

Daar is in die stadium geen voorkomende of simptomatiese behandeling beskikbaar wat kan voorkom dat suipkalwers vrek sodra hulle met BEK besmet is nie. Suipkalwers van tussen twee tot nege maande oud is veral kwesbaar.

Tierhart toon strepe op die hart wat aan die strepe op ‘n tier se vel herinner, vandaar die naam.

‘Skielike moordenaar’

Emma Niland, ‘n melk- en vleisbeeskonsultant by Intelact, sê die huidige situasie is die ergste wat sy nog in haar loopbaan beleef het.

“Dit is die mees katastrofiese bek-en-klouseer-uitbreking wat ek nog gesien het,” sê Niland. “Die siekte versprei soos ’n veldbrand, en daar is min wat gedoen word om dit betyds te stuit. Duisende kalwers en varkies vrek. Tierhart is ’n skielike moordenaar en kan nie behandel word nie.”

Hoewel tierhart self nie ’n nuwe toestand is nie, verskil die huidige uitbreking beduidend van vorige gevalle. Histories is soortgelyke hartskade al waargeneem by klostridiale siektes soos bloednier, ernstige vitamien E- en seleniumtekorte, swaar parasietbesmettings wat tot bloedarmoede lei, asook toksiese of voedingsverwante stres.

In die huidige situasie blyk die hoofoorsaak egter virale skade as gevolg van bek-en-klouseer te wees, eerder as bakteriële infeksies of voedingstekorte.

“Die verskyning van tierhart op hierdie skaal is nuut en uiters kommerwekkend,” sê sy. “Dit is die eerste keer dat ek dit in sulke groot getalle sien, en dit is uitsluitlik in bek-en-klouseer-positiewe kuddes. Die enigste manier om dit te keer, is deur dringende, grootskaalse inenting.”

Voorkoming die enigste oplossing

Voorkoming eerder as behandeling is die enigste doeltreffende aksie. Aanbevole maatreëls sluit streng biosekuriteit, volledige klostridiale inentingsprogramme, voldoende mineraalaanvulling, en veral selenium en vitamien E,  en doeltreffende parasietbeheer in om bykomende fisiologiese stres te beperk.

Volgens Niland gaan entstoftekorte en vertragings die situasie aansienlik vererger en dat die staat aanspreeklik gehou moet word.

“Die staat moet óf vir ons die entstof voorsien, óf ons toelaat om dit self te bekom, soos met brusellose-entstowwe,” sê sy. “Sonder voldoende entstof sien ek nie hoe hierdie bek-en-klouseer-uitbreking binne die volgende paar jaar beëindig gaan word nie.”

Ekonomiese en emosionele impak

Benewens die onmiddellike verliese aan diere, is die ekonomiese impak op bees- en melkprodusente enorm. Kalwers verteenwoordig toekomstige teeldiere en inkomste, en skielike vrektes ondermyn kuddeherstel, ontwrig kontantvloei en bedreig die langtermynvolhoubaarheid van boerderye.

Die emosionele tol op boerderygesinne is ewe groot. Baie produsente beskryf gevoelens van magteloosheid terwyl kalwers vrek ondanks hul beste bestuurspraktyke.

Totdat doeltreffende inentingsprogramme op groot skaal uitgerol word, waarsku veeartse dat tierhart-vrektes wat met bek-en-klouseer verband hou, waarskynlik sal voortduur – veral in ongeënte kuddes met jong diere.

Bronverwysings

National disaster of catastrophic proportions in South Africa (2026) Daily Investor

https://dailyinvestor.com/south-africa/115904/national-disaster-of-catastrophic-proportions-in-south-africa/

Du Plessis, H. (2026) ‘Tiger heart’ calf deaths surge in FMD-positive herds

https://www.farmersweekly.co.za/agri-news/south-africa/tiger-heart-calf-deaths-surge-in-fmd-positive-herds/

FMD | ‘Tiger heart’ syndrome causing sudden calf deaths (2026) African Farming

https://www.africanfarming.com/2026/01/05/fmd-tiger-heart-syndrome-causing-sudden-calf-deaths/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0