Categories: NuusPublished On: 23rd February 2022

BEGROTING 2022: Gulde geleentheid vir groei en werkskepping

By 3 min read
536 words

Godongwana

Minister van Finansies, Enoch Godongwana

Ná afloop van die fiskaal korrekte benadering wat in die mediumtermynbegrotingsbeleidstelling van November 2021 gevolg is, sien Agri SA uit na ’n soortgelyke benadering in minister Godongwana se nuwelingstoespraak hierdie Woensdag 23 Februarie 2022.

Die korttermyn-inkomste wat die afgelope paar jaar uit hoë kommoditeitspryse verkry is, moet aangewend word vir ingrypings ter bevordering van volhoubare, inklusiewe langtermyn- ekonomiese groei en werkskepping. Die regering moet ook in die algemeen voortgaan met fiskale konsolidasie en strukturele hervorming.

Terwyl Suid-Afrika hom in ’n moeilike fiskale posisie bevind, het die fiskus oor die afgelope twee jaar ’n korttermyn-hupstoot gekry as gevolg van hoë
kommoditeitspryse. Agri SA hoop dat die regering hierdie fondse sodanig sal bestee dat dit bydra tot ekonomiese herstel, ook vir die landbousektor.

Agri SA sien uit na minister Godongwana se terugvoering oor die vier strategiese prioriteite in dié verband:

Eerstens: Die begroting moet investering in kritieke infrastruktuur prioritiseer. Paaie, spoorweë en hawens is krities en moet in ʼn werkende toestand wees sodat veral die landbousektor op goeie voet kan voortgaan en die ekonomie as geheel kan herstel, groei en meer werkgeleenthede vir Suid-Afrikaners skep. Sodanige groei sal dan SuidAfrika se vermoë bespoedig om dringend sy fiskale probleme aan te spreek.

Tweedens: Die regering moet voortgaan om die land se skuld-tot-BBP-verhouding te verbeter. Die onlangse afname vanaf meer as 90% tot onder 80% teen 2025/26 is belowend, maar sal oor die lang termyn gehandhaaf moet word ten einde die ekonomie te stabiliseer. Agri SA sal ook let op aankondigings rakende salarisse in die staatsdiens en hoe die regering beplan om die uitbreiding van die Social Relief Distress Grant tot en met 2023 te befonds. “Ons hoop ook dat die begroting geen reddingsboeie vir enige sukkelende staatsondernemings sal insluit nie.”

Derdens: Agri SA sal graag wil sien dat die regering fondse beskikbaar stel ter bevordering van ekonomiese inklusiwiteit deur middel van beter toegang tot grond en kapitaal vir opkomende boere. Dit beteken befondsing om sinvolle grondhervormingsprojekte te implementeer eerder as verdere afhanklikheid van die rampspoedige Onteieningwetsontwerp, asook die nodige ondersteuning aan die Land Bank, sodat hy sy belangrike taak om finansiering aan opkomende boere te bied, gestand kan doen.

Ten slotte: Agri SA verneem graag in fyner besonderhede hoe die regering beplan om uitvoering te gee aan president Cyril Ramaphosa se verbintenis tot ’n vennootskap met die private sektor met die oog op ekonomiese groei en werkskepping.

Belastingverligting, veral vir sakeondernemings wat swaar getref is, sal bydra tot groei en werkskepping. Dit is fiskaal moontlik, gegewe die kommoditeit-meevaller. Ander moontlike maatreëls sluit in geen toename in aksynsbelasting sodat die wynbedryf kan herstel, asook heroorweging van die Health Promotion Levy, wat ’n nadelige uitwerking op die suikerbedryf het. Hierdie ingrypings kan die herstel van die betrokke
bedrywe bespoedig en werkskepping bevorder.

Agri SA deel die standpunt dat samewerking tussen die regering, arbeid en besigheid uiters noodsaaklik is met die oog op ’n suksesvolle ekonomie. Ons organisasie en sy lede is daartoe verbind om bestaande werkgeleenthede te beskerm, om nuwe werkgeleenthede vir ons land te skep, en om die landbou se opwaartse tendens te handhaaf. Ons hoop Woensdag se begrotingsrede sal aankondigings insluit wat bydra tot ons pogings om ’n volhoubare, veerkragtige en inklusiewe landbousektor te skep
en wat voedselsekerheid in Suid-Afrika vir toekomstige geslagte sal handhaaf.

Bron: Agri SA

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0