Baszohn Cattle Co. bied diere om van te kies en keur op die KZN klubveiling

WhatsApp Image 2024-07-19 at 12.46.14
As daar drie woorde is waarmee Wessel Ebersohn die Baszohn Cattle Co. boerdery moet beskryf dan sal dit wees: netheid, doeltreffendheid en presisie. Maar dit is hulle passie en liefde vir teling en hulle diere wat hoofsaaklik gelei het daartoe dat die boerdery in drie jaar se tyd tot ‘n reuse sukses gegroei het.
Wessel is mede-eienaar en bestuurder van Baszohn Cattle Co., hy verduidelik dat hy en Eben Basson in 2021 op ‘n klein stukkie grond in die Mooi Rivier-distrik begin boer het met net 40 koeie. ‘n Paar maande later het hulle die geleentheid gekry om nog ‘n stuk grond te huur en later te koop. Dit is hoe hulle uitgebrei het tot waar hulle vandag met 1 500 melkkoeie en 1 000 vleisbeeste op sowat 4 000 hektaar boer.

Wessel Ebersohn en Eben Basson saam met hulle seuns.
Die Basson-familie boer in Komatipoort met groente, piesangs en suikerriet. Vir die Baszohn Cattle Co. boerdery is familie baie belangrik, en soos wat Wessel hulle groot geword het met beesboerdery, maak hulle ook nou hulle kinders tussen die beeste groot.
Hulle oupa het in 1946 begin boer en het ‘n spog Brahmaan- en Afrikaner stoet bedryf.
“Hopelik het ons seuns ook op die einde van die dag ‘n aanvoeling vir beesboer. Ek dink mens het definitief ‘n aanvoeling nodig om met beeste te teel, om dit te verstaan en te weet hoe om met diere te werk. Ek dink nie dit lê sommer net by enige ou om ‘n beesboer te wees nie,” meen hy.

Die Baszohn Cattle Co. boerdery het onlangs vir LAR20-284 tot hul stoet bygevoeg. Wessel Ebersohn en Eben Basson staan saam met die verkoper, Derick Ralf.
Die Bassons boer al sedert 2010 kommersieel met Bonsmara-beeste.
Wessel is die voorsitter van die KwaZulu-Natal Bonsmara klub wat die KZN Klub Bonsmara veiling op 25 Julie by Baszohn Cattle Co, Amberwood plaas, Hidcote, te Mooi Rivier aanbied. Hy verduidelik dat hy die veiling weer in 2023 lewe gegee het en dat hy graag ‘n platform vir opkomende boere wil skep om hulle diere ook op ‘n veiling te kan aanbied.
“Dit gee ook vir die kommersiële boere ‘n kans om van hulle kommersiële vroulike diere en bulle aan te bied en te verkoop. Daar sal 30 stoet Bonsmara bulle en 120 vroulike diere op aanbod wees. Dit sluit ‘n paar van Baszohn Cattle Co. se beeste ook in.”
Daar gaan volgens Wessel twee besonderse stoetverse op aanbod wees. Hulle bied onder meer tien stoet bulle en tien dragtige verse aan op die veiling. Die tien verse is dragtig van LFR 15-32, die pa van LAR 19-373. LAR19-373 is die welbekende bul wat tydens verlede jaar se UP George veiling vir ‘n allemintige R4,4 miljoen verkoop is. Die tien verse is reeds op 16 Julie as dragtig gesertifiseer.

Die Baszohn Cattle Co. boerdery het tydens die jaar se UP George hierdie prag bul, LAR20-284 aangeskaf.
Die Baszohn Cattle Co. boerdery het meer onlangs gebruik gemaak van genetika soos: Poggenpoel Bonsmaras, UP George Bonsmaras, Thinus Maritz en Fourie Scheepers. Hulle het egter ook die ouer lyne behou soos die JL-lyne, die MMJ-lyne en die AG-lyne.
“As ons kyk na die tien bulle wat ons aanbied is daar bulle wat seuns is van baie bekende bulle in die bedryf, soos BBM 15-51, LAR14-200 en LAR 14-173 wat bekend staan het as Maestro.”
Wessel glo ‘n boer moet boer met die ras waarvan hy hou. Vir hulle is dit die gehardheid en die aanpasbaarheid van die Bonsmaras asook die wye genetiese poel waaruit mens kan kies wat uitstaan. Hy voeg by dat bouvorm ook ‘n groot rol speel.
“Die “sexiness” – hoe mooi is daardie dier vir jou? Soos wat jou vrou vir jou mooi is, dan is dit mos waarvan jy gaan hou,” vertel hy laggend.
Maar om die regte bloedlyne en genetika te verseker is daar nie ‘n maklike resep nie en Wessel sê hoewel een van die maniere is om jou hand in jou sak te steek is dit nie altyd die enigste manier nie. Hy voeg by dat die beste bul is nie noodwendig die duurste bul nie en by elke veiling is daar ‘n geleentheid om goeie genetika te kry vir ‘n goeie prys.

“Die liefde en passie vir teling is amper bonatuurlik by ons. Dit dryf my elke dag om beeste te teel en genetiese vordering te maak. Om beter genetika te teel as wat jy gister gedoen het,” deel hy.
Maar die KZN klubveiling gaan nie net oor bulle en koeie nie, nee, Wessel sê dit is ‘n geleentheid vir die hele gesin en gemeenskap om saam te kom en saam te kuier. Selfs al is jy nie ‘n koper nie, nooi hulle almal uit om die dag saam met hulle te geniet. Daar gaan ook 32 topklas uitstallers wees en ‘n lekker braai na afloop van die veiling.
So merk nou reeds die datum in jou dagboek en maak seker jy mis nie die KZN klubveiling op 25 Julie nie.
Volg die skakel hieronder vir meer inligting oor die veiling:
https://www.agri4all.com/product/kzn-bonsmara-club-sale-25-july-2024-mooi-river-south-africa
