Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 10th February 2023

Balfour Hooidag: Kies reg vir goeie hooi

By 4 min read
747 words

Screenshot 2023-02-10 092117

Nuwe tegnologie en bekende staatmakers het langs mekaar geskitter by die tiende Balfour Hooidag wat na die Covid-onderbreking van twee jaar weer plaasgevind het. Die geleentheid word deur die Balfour Boerevereniging aangebied en boere in die Hoëveldstreek het die geleentheid gebruik om te gaan opweeg watter toerusting die beste vir hulle boerdery sal werk.

Die eerste hooidag is twaalf jaar gelede aangebied toe 65 boere besluit het die beste manier om ՚n besluit te neem oor toerusting is om die verskillende vervaardigers en verspreiders uit te nooi om hulle werktuie te kom demonstreer.

Die werktuie sluit snyers, harke, deurlugters en balers in, en natuurlik ook die wiele wat die sleepwerk doen. Demonstrasies bly die fokus van die dag en boere benut die geleentheid om agter die masjiene aan te loop, die snywerk en harkwerk te bekyk en die bale te bevoel vir die perfekte digtheid en stewigheid.

Hooitoerusting uit elke stal

Met tegnologie wat voortdurend uitbrei, beteken dit dat elke hooidag spog met nuwe verbeterings en bekendstellings. Veral na die tweejaar-onderbreking kon maatskappye spog met toerusting wat nog nie vantevore vertoon is nie.

Vervaardigers en verspreiders wat teenwoordig was, sluit in JWL, Jupidex, Landini, Valtrac, TWK, New Holland, Kubota, John Deere, Orbach Agri, Northmec en CASE IH.

Landboumaatskappye het ook stalletjies opgeslaan waar boere meer inligting kon kry oor ander toerusting en veeprodukte soos dierevoeding, waterberging en dieregesondheid.

By CASE IH se mooi, rooi standplaas kon boere meer inligting kry oor die waarde daarvan om trekkers en werktuie uit dieselfde stal te gebruik wat ontwikkel is om saam met mekaar te werk.

Jupidex was een van min uitstallers wat gewys het wat vierkantbalers vir boere kan bied. Hulle het onder meer die oranje KE 520 Kayhan Ertugrulbaler, wat tot 280 bale per uur kan uitspoeg, gedemonstreer.

Valtrac, al die pad van Parys, het verskeie produkte gedemonstreer. In een van die indrukwekkende demonstrasies is gewys hoe die Pöttinger NovaCat Alpha Motion 301 en Pöttinger NovaCat 352 Vertical-snyer saam ՚n gedugte span vorm om dubbelwerk in ՚n jap trap te voltooi.

New Holland het sy reputasie vir die lewering van digte, stywe bale gestand gedoen met ՚n demonstrasie van die New Holland 125-vastekamerrondebaler. Dit was egter die selfaangedrewe New Holland Speedrower 200 wat veral die aandag getrek het.

Meer as net ՚n hooidag vir Balfour

Die geleentheid is ՚n belangrike instelling vir die dorp en veral die skole met hulle kosstalletjies kan broodnodige inkomste verdien.

Balfour Boerevereniging is by TLU SA geaffilieer en by die organisasie se tent is boere herinner aan die belangrike rol wat hulle speel in Suid-Afrika se boeregemeenskap.

Teen middagete is ՚n gewyde seremonie gehou om die tiende verjaardag van die hooidag te vier. Fakkels is aangesteek as simbool van die volharding en geloof wat ՚n boer moet hê om saad te plant en te vertrou dat dit vrug sal dra.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0