Categories: Artikels, WielePublished On: 9th December 2019

Bakkies, bakkies, bakkies … !

By 6 min read
1130 words
toyota

legend 50

Die span van Ultimate Drive het die afgelope jaar weer ՚n fees van bakkies getoets en geniet sodat ons in die feesgety saam met hulle voet in die hoek kan sit.

Hier is so ՚n paar hoogtepunte:

2019 Toyota Hilux Legend 50 dubbelkajuit 4×4: Is dit Suid-Afrika se kampioenbakkie?

deur Dirk Gallowitz

Toyota se Hilux bakkie storm na vyf dekades steeds voort om verkope in sy segment in Suid-Afrika te domineer. Na 50 jaar op plaaslike bodem bly dit een van bakkie-mal Suid-Afrika se gunsteling bakkies. Toyota SA erken dit dan  ook deur gereeld ՚n spesiale uitgawe beskikbaar te stel wat as die “Legend” bekend staan. Oor die jare was daar die Legend 35, 40, 45 en nou die Legend 50 om die vyftigjarige bestaan van die Hilux-naam te gedenk.

Die Legend 50-pakket is nou die toppakket en vervang die Raider as die topmodel in die Hilux-reeks. Ons toetsmodel was die 4×4 dubbelkajuitweergawe met Toyota se 2,8-liter GD-6 turbodieselenjin van 130 kW en 450 Nm, gekoppel aan die 6-gang outomatiese ratkas.

Voorkoms

Met die bekendstelling van die Dakarweergawe van die Hilux in 2018, het Toyota begin met kosmetiese veranderinge waaronder ՚n nuwe vooraansig met herontwerpte ligte en sierrooster. Dit het groot byval gevind by kopers.

Hierdie veranderinge is behou met die nuwe Legend 50, behalwe dat Toyota nou blinkswart in die plek van chroom by die Legend 50 gebruik vir onder meer die sierrooster, rolstaaf agter, asook in die sierwiele, agterbuffer en met die kantstroke en trappe. Verder is daar Legend 50-kentekens op die rolstaaf, agterklap, sierrooster en voor op die deure onder die kantspieëls. Die LUD-hoofligte het ook nou LUD-dagryliggies.

Die kantspieëls, dakrelings, deurhandvatsels en kentekens op die agterklap is egter steeds blink chroom en sorg vir mooi afwisseling. ՚n Sleepstang en swaardiens bakseil is ook deel van die standaardtoerusting sou jy die Legend 50 koop. Spesiaal ontwerpte tweekleur 18-duim allooiwiele met 265/60/R18 “All Terrain”-rubber maak seker dat die Legend 50 omtrent enige terrein met gemak kan baasraak en selfs die slegste sinkplaatgrondpad met redelike gemak hanteer danksy die 60-profiel bande.

Binneruim

Die Legend 50 se binneruim bied slegs geringe verbeteringe teenoor byvoorbeeld die Dakar-model van die Hilux en sluit onder meer in swart leerafwerking met ligblou stikwerk en ՚n blinkswart inlegstrook oor die breedte van die voorpaneel, wat stylvol met ՚n chroomstrook belyn is.

Verder bied die wit agtergrond van die instrumentepaneel ՚n treffende voorkoms terwyl die 8-duim TFT multi-infoskerm gebruikersvriendelike raakfunksies bied wat in ՚n praktiese en maklike uitleg uitgelê word. Die stelsel is opgegradeer met verbeterde funksionaliteit.

Op die pad

Terwyl die veranderings ooglopend slegs kosmeties is, was daar vir ons tog merkbare verandering in die ritgehalte en stuurgevoel van die nuwe bakkie. Die kajuit was verbasend stil met min pad en windgeraas, selfs teen platvoetspoed. Die nuweling het padvas en stuurgetrou gevoel met min bakrol, terwyl hantering en paddinamika op die teer- en grondpad aangenaam verras het.

Slotsom

Volgens maandelikse NAAMSA-syfers voer Hilux bakkies meeste maande in die jaar die botoon. Verder bevestig statistieke van gebruiktevoertuigverkope dat Hilux bakkies van die hoogste terugkoopwaardes behaal. Spesiale modelle, soos spesifiek die Legend-reeks, is nog meer gesog onder kopers van gebruikte voertuie.

Veral die spesialevoorkomspakket van die Legend 50 behoort kopers van Toyota-bakkies te laat kwyl van begeerte, aangesien dit na my mening die mooiste Hilux bakkie tot datum is!

Prys

Toyota Hilux Legend 50-dubbelkajuit:

• Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 Legend 50 6-spoed handrat – R647 600

• Toyota Hilux 2.8 GD-6 4×4 Legend 50 6-spoed outomaties – R668 800

2019 Ford Ranger 2.0Bi-T DC 4×4 Wildtrak auto

Ons het Ford se opgekikkerde Ford Ranger 2.0Bi-Turbo dubbelkajuit 4×4 Wildtrak outo vir ՚n week onder hande gehad. Aanvanklik was ons maar redelik skepties of ՚n tweeliter-dieselenjin gekoppel aan ՚n 10-spoedratkas dieselfde sal kan doen as die fris vyfsilinder 3,2 turbodiesel.

Wat aangename verrassing was die nuweling nie, en na ՚n week van ooppad-en veldry was ons totaal uitgeboul met die “nuwe” Wildtrak se werkverrigting en vermoë.

Die opgekikkerde Ford Rangerreeks bakkies is in April 2019 plaaslik bekendgestel met slegs geringe en meestal kosmetiese veranderinge aan die uiterlike voorkoms. Dit is egter onder die enjinkap waar die grootste verandering plaasgevind het. Die 2019 Wildtrak word aangedryf deur ՚n nuwe bi-turbo 2,0liter viersilinder dieselenjin wat nou meer krag lewer as die 3,2-liter vyfsilinder van die vorige topmodel se kragbron.

Die nuwe vlagskipenjin wat in Ford se Port Elizabeth-aanleg gebou word, het twee turbo-aanjaers en verstom met selfs meer krag, naamlik 157 kW/500 Nm, teenoor die 3,2-liter turbo-vyfsilinder se maksimun krag van 147 kW en 470 Nm. Ford het die nuwe vlagskipenjin aan ՚n nuwe 10-spoed outomatiese ratkas gekoppel wat grootliks bydra tot ՚n dramaties verbeterde brandstofverbruik (amptelik word dit aangegee as 8,1 ℓ/100 km) by die nuweling.

Paddinamika en werkverrigting

Die 2019 Ranger Wildtrak 4×4 is gemaklik en vasvoetig op teer en grond met die 10-spoed ratkas wat seepglad ratte verwissel. My aanvanklike vrees dat die ratkas sal bly soek tussen ratte op die gelykpad, is nooit bewaarheid nie. Danksy slim tegnologie en baie wringkrag (500 Nm!) skakel die ratkas lekker vinnig tussen ratte en dit maak verbysteek teen ooppadspoed ՚n fees.

Die nuweling voel ratser, ligter en meer dinamies op die pad as die vorige model.

2019 Ford Ranger Raptor: Die Rambo van die bakkiebrigade

deur Dirk Gallowitz

Ons het Ford SA se nuwe Ranger Raptor onder hande gehad, kort nadat ons die 2019 Ranger Wildtrak vir ՚n week getoets het. Albei bakkies word aangedryf deur Ford se nuwe 2,0-liter bi-turbo viersilinder-dieselenjin en dryf deur al vier wiele met behulp van ՚n splinternuwe 10-spoed outomatiese ratkas. Die enjin lewer 157 kW en 500 Nm wringkrag.

Ford bemark die Ranger Raptor as ՚n hoëverrigting-veldryer, maar ons het gaan kyk wat díe nuwe Suid-Afrikaans geboude Raptor dan so spesiaal maak dat Ford ՚n stywe pryspremie vir die Raptor bo die Wildtrak-model kan vra.

Hier volg ՚n paar redes hoekom ons dink jy meer vir jou Ranger Raptor betaal:

Aggressiewe voorkoms en ontwerp

Die Ranger Raptor lyk veel groter as sy Wildtrak-boetie, grootliks danksy ՚n breër wielspoor (150 mm wyer as die gewone Ranger) en ՚n groter grondvryhoogte van 283 mm te danke aan groter BF Goodrich All Terrain-bande wat die Raptor hoër bo die grond laat uitstaan. Die uitgeboude wielboë en groot swart sierrooster basuin ՚n aggressiewe en intimiderende voorkoms uit op die pad.

Spesiaal ontwerp en gebou vir die veld

Ford se witjasse het vir die Ranger Raptor ՚n spesiale onderstel en veerstelsel gebou, wat beduidend stywer is as die gewone Ranger-onderstel, en die ingenieurs het hulle daarop toegespits om die onderstel só te bou dat dit die uiters brutale omstandighede tydens tawwe veldrenne die hoof kan bied.

Die Raptor se onderstel bied onder meer ՚n nuutontwerpte kronkelveerskokbreker (coil-over) vir die agteras met ՚n geïntegreerde Watt’s-skakel vir groter op- en afbeweging, terwyl dit die sywaartse beweging van die agteras minimaliseer.

Die resultaat is beter hantering en beheer, asook hoër vlakke van gemak wanneer daar in die veld gery word.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0