Baie haarwurm-besmettings aangemeld

skape
In baie gedeeltes van die land, was Junie ryp-vry en dit kan gesien word in die aantal haarwurm-besmettings wat deur boere ondervind is, volgens die maandelikse siekteverslae soos informeel gerapporteer deur veeartse. Kleinveeboere moet op die uitkyk wees vir diere met tekens van anemie en bottelkaak. Besoek die webbladsy www.wormx.info vir meer inligting oor die FAMACHA-stelsel en die vyfpunt vraelys.
In die droë gedeeltes van die land is die teenwoordigheid van langnekbankrotwurms aangemeld. As wurmbesmettings nie aangespreek word nie, kan dit tot groot ekonomiese verliese lei. Baie van die diere wat dood is weens proteïen- en energietekort-sindroom het hoë lewerwurm-besmettings gehad met ‘n geskiedenis van weiding rondom stilstaande waterbronne.
Draaisiekte of “gid” in bokke is aangemeld. Die siekte word deur ‘n nierwurm op die brein veroorsaak waar diere besmet word met die eiers van ‘n lintwurm, jakkals of hond.
Eksterne parasiete
Junie was warmer as gewoonlik en in baie gedeeltes was daar geen ryp nie. Met die voorkoms van laat reëns in sommige gebiede was die gevolg dat besmettings deur interne en eksterne parasiete algemeen voorgekom het. Verslae van insek-oordraagbare siektes is van baie gedeeltes oor die land ontvang. Een boer het tien skape gekoop en rooiluis in die kudde ingebring. ‘n Gebrek aan bio-sekuriteitsmaatreëls kan eindelose probleme veroorsaak.
Bosluis- en insek-oordraagbare siektes
Die volgende siektes is aangemeld: Afrika Rooiwater (6 provinsies), Asiatiese Rooiwater (6 provinsies), Anaplasmose (7 provinsies), Hartswater (6 provinsies) en Korridor-siekte in KwaZulu-Natal. Siektes wat gewoonlik in die somer en herfs voorkom is ook aangemeld, soos Knopvelsiekte, Drie-dae -stywe -siekte en Bloutong.
Veneriese siektes
Nege uit elf bulle wat by ‘n veiling aangekoop is, het positief getoets vir Trichomoniase. Dit is gebiedend noodsaaklik dat bio-sekuriteitsmaatreëls ten alle tye toegepas word.
Bakteriese siektes
Verskeie gevalle van Sponssiekte is aangemeld. Dit kon voorkom word as diere ingeënt is en ‘n energie-aanhitser toegedien is. Boere moet ook op die uitkyk wees vir Lamsiekte. Dit word veroorsaak deur ‘n dodelike gif wat enige tyd op enige plek in Suid-Afrika kan voorkom. Diere moet daarteen ingeënt word. In sommige dele van die land kom dit ook onder kleinvee voor. Verder is Johné se siekte besig om te versprei. Maak seker dat jy skape net by ‘n betroubare bron koop.
Virale siektes
Snotsiekte kom baie algemeen voor. Boere moet seker maak dat beeste en wildebeeste sover as moontlik van mekaar af gehou word.
Ander
Verskeie gevalle van hondsdolheid is aangemeld. Diere moet versigtig hanteer word as hulle vreemde gedrag toon. Gevalle van orf en warts is ook in die meeste provinsies aangemeld.Die maande wat voorlê gaan moeilik wees omdat daar nie genoeg ruvoer vir diere beskikbaar is nie. Hopelik reën dit vroeg in die lente.
Bestuur
Op baie plase is jong kalwers dood aan diarree. Dit sou nie gebeur het as die siek kalwers in warm toestande aangehou is nie. ‘n Verhitte omgewing is ‘n absolute voorvereiste vir die behandeling van kalwers met diarree gedurende die wintermaande. Trouens, alle jong kalwers behoort in hul termo-neutrale sone aangehou te word. Die enigste manier om dit reg te kry, is om ‘n bron van hitte in die vorm van ‘n infra-rooi lig te gebruik.
Beeste hou nie baie daarvan om deur die modder na die voerbak te loop nie, wat beteken dat hulle minder voer inneem:
- Beeste gebruik meer energie as hulle deur die modder moet ploeg om by die voerbak te Modderige toestande kan beeste se energievereistes met soveel as tien persent verhoog.
- As beeste nat is gedurende koue toestande, het hulle meer energie nodig om warm te bly, dit lei ook tot verlaagde groei en produksie.
- Een geval van LDA’s op ‘n plaas kon toegeskryf word aan die modderige toestande waar die vars koeie aangehou is.
Bron: RPO Bulletin