AUDI SQ5: Min veranderinge aan ‘n wenresep

Audi-SQ5_3.0_TFSI-2018-1280-06
Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive
As Audi se Q5 ‘n gereg of dis was, sou dit verseker opgeneem wees as ‘n wenresep in een of meer glanskookboeke. In 2008 toe es-joe-wees, anders as deesdae, nog in die skadu van sedanmotors moes ry, het Audi die eerste Q5 bekendgestel, maar soos ‘n goeie melktert op ‘n kerkbasaar, was dit nie lank nie toe wil almal een koop. Audi het die Q5 gemik op jonger gesinne en daarmee goud raakgeboor, want vir etlike jare daarna was die Q5 Audi se topverkoper wêreldwyd.
Die tweede generasie Q5 is uiteindelik bekendgestel en het ook vroeg in die derde kwartaal sy verskyning in Suid-Afrika gemaak met drie modelle, naamlik die 2.0TFSI, die 2.0TDI en ‘n warm SQ5 weergawe toegerus met ‘n 3.0 liter turboaangejaagde petrolenjin. Ons het laasgenoemde onlangs vir ‘n week onder hande gehad.
Die ontwerp is eerder verfraai en varser gemaak, want daars geen drastiese veranderinge wat opval nie. Die algemene voorkoms van die nuwe model, veral van voor betrag, lyk egter geheel anders as as die vorige model met duidelike ooreenkomste van die groter Q7 wat sterk deurslaan. Die nuwe LED hoofligte van ons toetsmodel het onmiddellik die oog gevang.
Die nuwe Q5 word gebou op die Volkswagengroep se MLB Evo-platform wat ondermeer ook ingespan word vir die jongste generasie A4 en Q7 modelle. Die gevolg is dat die nuwe Q5 modelle langer en breër is, maar tog 90 kg in gewig verloor het.

Die sterk familieooreenkomste laat die nuweling nou veel beter lyk in metaal. Die hoekerigheid en sterk aksentlyne langs die kant asook die skerp gedefinieerde lyne oor die neus bring ‘n sportiwiteit na die nuwe Q5 en dra by dat die voorkoms nou platter, breë en meer sportief daaruit sien. Die silwerkleurige sierrooster van ons toetsmodel en die groot luginlate onder in die hoeke van die voorste buffer dra ook ‘n sterk boodskap van aggressie wat verder beklemtoon word deur die bultende wielboë oor die groot 20” sierwiele en fris lae profiel rubber. Ek hou ook van die kontrasterende silwerkleurige kantspieëls wat so kenmerkend deel geword het van die “S” en “RS” verrigtingmodelle. O ja, en ook die visuele persepsie van dubbele uitlaatpype weerskante agter bly treffend van die SQ5 model.
Binne is die kajuit nou ook veel meer modern. Ek bly ‘n groot aanhanger van Audi kajuite se voorkoms, ergonomie, skakelaars en instrumentasieuitleg. Die materiale en afwerking is tekenend van hoogstaande gehalte en vakmanskap en ons SQ5 se ontwerptema is sportief onderstreep met strategies geplaaste “S”-insignia en etlike koolstofvesel-tipe invoegsels op die deure en voorpaneel .
Die groter kajuit bied gemaklike sitplek vir vier volwassenes met die agterste sitplekke se rugleunings wat kan platvou om die groot laairuim verder te vergroot. Die kontrasterende silwerkleurige gare van die stiksels vir die opsionele diamantpatroon op die sitplekke asook die alcantara leer gedeeltes op die deurpanele het ‘n klassieke weelde tot die kajuit gebring.
Die jongste Audi modelle is tegnologies aan die voorpunt met die nuwe Q5 geen uitsondering en is die nuwe reeks modelle beskikbaar met ‘n lang lys van Audi se nuutste digitale elektronika en slim bykomstighede. Ons toetsmodel was onder meer toegerus, as ‘n opsionele ekstra, met Audi se innoverende “Virtual Cockpit”- stelsel met ‘n groot digitale skerm agter die stuur. Die stelsel laat die bestuurder toe om ‘n reeks fassinerende opsies in hoë definisiebeelde , met ‘n keuse van onder meer anoloog of digitale instrumente, satnav, rit/motor inligting, radio/klank te gebruik en alles met behulp van skakelaars op die stuurwiel te beheer.

Uiteraard is die groot tablettipe hoë definisie volkleur inligtingskerm steeds middel bo-in die voorpaneel geplaas wat met ‘n draaiknop agter die ratkierie “bestuur” word. Jy kan egter nou ook die stelsel gebruik op ‘n klein paneeltjie/raakskerm voor die rathefboom geplaas waar jy, soos met ‘n slimfoon, met hand- of vingerbewegings kan vee, knyp of druk.
Audi het die 2017 Q5 reeks plaaslik met drie enjin weergawes beskikbaar gestel. Kopers kan egter hulle basismodel verder optooi met ‘n Sport-Line pakket. Al die modelle in die reeks kom toegerus met Audi se befaamde Quattro vierwielaandrywing wat nou opgegradeer is en bekendstaan as “Quattro Ultra” of wat Audi ook noem “Quattro-on-Demand”. Die stelsel trek meestal deur die voorwiele maar sodra die blikbrein agterkom die agterwiele moet nou saamwerk, word die krag ook na die agterwiele gestuur maar later weer “onttrek” as normale bestuursomstandighede dit toelaat. Beide die diesel en petrolmodel kom met ‘n 7-gang outomatiese ratkas wat sewe ritmodusse bied waarvan “Lift/Offroad” en “Allroad” nuwe toevoegings is.
Die 2,0 liter TFSI word aangedryf met ‘n turbo aangejaagde viersilinder petrolenjin van 1984cc wat 185 kW se piekverrigting lewer met maksimum wringkrag van 370 Nm. Die 0-100 kpu lopie neem 6,3 sekondes en Audi se amptelike verbruiksyfer word aangegee as 6,8 liter per 100 km. Die intreeprys op die 2.0TFSI is R747 500. Die 2,0TDI kom met ‘n 1968cc viersilinder dieselturbo kragbron wat 140 kW en 400 Nm se pieksyfers lewer. Die 0-100 kpu lopie neem 7,9 sekondes met ‘n amptelike brandstofverbruik van 4,9 liter per 100 km. Intreeprys vir die 2.0TDI begin by R698 000.
Ons toetskar was die warm SQ5 toegerus met ‘n V6 turboaangejaagde petrolenjin van 2995cc. Hierdie lewendige enjin bied 260 kW en 500 Nm se maksimum verrigting en neem slegs 5,4 sekondes om die 0-100 kpu lopie af te blits. Aandrywing is Audi se heerlik gladde en blitsvinnige 8-gang outomatiese S-tronic ratkas wat ook met spane agter die stuur beheer kan word. Amptelike brandstofvebruik vir die SQ5 word aangegee as 8,3 liter per 100 km.

Op die pad was die SQ5 ‘n fees om te bestuur en jaag jy die toere in die rooi met die ratkasmodus op Sport gestel, is verrigting verstommend met die V6 turbo wat ‘n indrukwekkende kakafonie van roggelende gromme na ‘n skor brul laat oorgaan om uiteindelik teen maksimum toere ‘n hoë sonoriese geskree deur die uitlaatstelsel te jaag as jy die regtervoet geplant hou! Die Quattro viertrekstelsel bied ongelooflike vlakke van greep deur die draaie met die onderstel en veerstelsel wat min bakrol toelaat.
Op die grondpad is hantering uitsonderlik, maar die ratkasmodus moet liefs in die “Comfort” verstelling wees vir ‘n gemaklike en selfs sagte rit.
Die SQ5 bied ‘n welkome toevoeging tot die bestaande opsies van verrigting es-joe-wees tans beskikbaar. Met hoë vlakke van toerusting en weelderige afwerking is die pryskaartjie van R1 044 000 seker te verstane, maar ons toetsmodel was gelaai met opsionele ekstras wat jy eintlik by so ‘n model sou verwag. Die pryskaartjie van net-net suid van R1,2-miljoen het my sooibrand opnuut laat opvlam.
Die 2017Audi Q5 reeks is ‘n finalis van die 2018 Wesbank SAGMJ Motor van die Jaar kompetisie. Dirk is een van die Jurielede wat die finaliste moet evalueer om vroeg Maart 2018 die wenner te kan aanwys.