As die boer nie na New Vaal Motors kan gaan nie, gaan New Vaal Motors na die boer toe

IMG_5688
As die boer nie na jou toe kan kom nie, gaan jy na die boer toe. Die span van New Vaal Motors in Vereeniging het by vanjaar se Balfour Hooidag boere bekendgestel aan hulle Mercedes Benz- en FUSO-trokke.
New Vaal Motors het sy deure in 1958 oopgemaak en was een van die eerste Mercedes Benz-handelaars in Suid Afrika. Hulle het later die trokgedeelte bygevoeg en dié is al vir 20 jaar ‘n suksesvolle afdeling van hulle maatskappy.
Pierre Marnewick, New Vaal Motors se handelaarshoof, verduidelik dat hulle by Balfour Hooidag uitgestal het om aan boere te wys wat hulle bied. “Dit is altyd lekker om tussen die boere te wees en te hoor wat hulle doen. Die manne is altyd op die plase, so hulle kry nooit die geleentheid om by die handelaars uit te kom nie. Dus kom ons maar na hulle toe sodat hulle kan sien wat ons vir hulle kan bied,” verduidelik Pierre.

Pierre Marnewick, New Vaal Motors van Vereeniging se handelaarshoof sê hulle besoek graag die Balfour Hooidag om met die boere te gesels.
Al hulle voertuie val onder die Daimler-sambreel wat onder andere Mercedes Benz-trokke, FUSO-trokke en Truck Store besit. Truck Store is hulle afdeling vir tweedehandse vragmotors. Die vragmotors wat deur New Vaal Motors aangebied word kan vir ‘n wye reeks take gebruik word, soos langafstandvervoer, boerdery en logistiese doeleindes. Hulle reeks sluit ook in: seilkanttrokke, sy-kantelwatrokke, wipbaktrokke, loopvloere en nog baie meer. “Mercedes Benz is die handelsmerk om na te kyk,” sê Pierre.
Hierdie is die tiende jaar wat Pierre die hooidag bywoon en die maatskappy het self nou al vier jaar by die dag uitgestal.
“Ons is baie ingestel op wat ons klante wil hê, en ons klante is boere. So ons maak seker dat ons iets vir hulle saambring. Ons wys graag ‘n beesbak vir die boere en ons het altyd ‘n drie kubieke-meter “tippertjie” wat ons saambring, wat veral gewild is onder die boere,” sê Pierre oor hulle uitstalling.

Die span van New Vaal Motors in Vereeniging by die Balfour Hooidag, Pierre Marnewick, handelaarshoof; Pieter Harmse, verkoopsbestuurder; Francois Pieterse, Mercedes Benz-trokke; Ricardo Fanfoni, FUSO; en Chante Soares, verkoopsondersteuning.
Hy vertel dat hulle Mercedes Benz-trokke met die Uptime-toepassing aangebied kan word. Die toepassing is ‘n bestuurder- en voertuigbeheerstelsel wat ‘n onderafdeling van die Daimler Fleetboard-vlootbestuurstelsel is. Uptime registreer foutkodes op die trokke om jou vroegtydig in te lig voordat hierdie probleme in groter skade kan ontaard. Die data word dan nie net na die eienaar gestuur nie, maar ook die handelaar en Uptime-span by Mercedes Benz.

Die beesbak wat New Vaal Motors gebou het om vir die boere te kom wys.
New Vaal Motors en Mercedes Benz bied ook bestuurderopleiding aan. Die handelaar doen ‘n deeglike oorhandiging aan die koper en die ProDrive-span van Mercedes bied ‘n een-, twee- of vyfdagbestuurkursus vir vragmotorbestuurders aan.
“Ons het Mercedes Benz-onderdele, asook Truck Parts met hulle reeks Mercedes Benz- en FUSO-onderdele. Die enigste verskil is dit is bietjie goedkoper en dit is vir die voertuie wat nie meer onder waarborg is nie,” voeg hy by.
In 2024 stel hulle vier nuwe voertuie in die Actros-reeks bekend, asook byvoegings tot die vastebak Adox-reeks.
“Hierdie reeks is veral gewild onder mense wat insleepvoertuie het en insleepdienste vir trokke doen. Daar is nou ‘n onderstel waarop hulle hulle toerusting kan installeer. Ons wag al lank hiervoor en ons is baie opgewonde oor die bekendstelling.”

Pierre Marnewick New Vaal Motors wys die binnekajuit van hulle spoggerige trokke.
Pierre vertel dat die Actos-trok-trekkerreeks aangepas en uitgebrei is na aanleiding van klante se voorstelle. Hierdie jaar gaan hulle nog ‘n paar skoue bywoon, veral plaaslik, om met gebruikers te skakel. Pierre sê dat New Vaal Motors as ‘n familie-onderneming graag hulle gemeenskap ondersteun.
“Ons is ‘n familie-onderneming en is deel van die Hallmark-groep wat deur die Boltons besit word. Hulle besit ook Grasshopper, Bolton Foot Wear en Cargo Carriers. Dit is vir ons lekker om teen die einde van die dag ons klante ook deel te maak van die familie.
“Ons is net ‘n oproep weg en ons nooi enige persoon om ons te kontak. Ons help graag waar en hoe ons kan,” sluit Pierre af.

Die Uptime-toepassing wat in die trokke geïnstalleer kan word is ‘n volledige bestuursprogam vir voertuie en bestuurders.
Besoek gerus hulle webwerf by https://www.newvaalmotorsvereeniging.co.za/, vind hulle op Facebook onder New Vaal Commercial Vehicles, of skakel (+27)61-430-6500.