Categories: Resource managementPublished On: 22nd March 2017

Aquadam help mense deur die droogte

By 3 min read
668 words
Aquadam

aquadam 1 maart

Jou planne teen ’n droogte raak baie vinnig op as daar nie meer water is nie. Hierdie eenvoudige waarheid is oor die afgelope drie jaar deeglik besef regoor die sentrale dele van Suid-Afrika. Willem Noordman het dit ook besef toe hy in Desember 2015 deur die Vrystaat gery het op pad na sy vakansiebestemming. Vir Desember was die veld in ’n haglike toestand. Willem is ’n verkoopskonsultant by Aquadam in Pretoria en hy het besluit dat sy maatskappy iets drasties moet doen om hulle deel by te dra in die stryd vir watervoorsiening.

Buiten die plase het die nood in die dorpe ook krisisvlakke bereik en mense moes elke oggend in lang rye staan om hulle waterrantsoene by sentrale afsetpunte te gaan haal waar barmhartige Samaritane bottels vol water van meer geseënde landstreke afgelaai het.

“Na ’n spangesprek het die personeel van Aquadam besluit om ’n aantal van ons 25 000-liter Future Tanks in ’n paar dorpe te gaan oprig. Die tenks is elk 3,51 meter hoog en 3,00 meter in deursnee. Ek het ongeveer veertig mense geskakel om uit te vind waar die nood die hoogste was,” sê Willem.

Die tenkwaens wat water na die dorpe aanry, moes gewoonlik vir twee dae op ’n dorp staan sodat die mense hulle houers kon volmaak. Dit het vir Aquadam meer sin gemaak dat ’n tenkwa sy vrag dadelik in ’n vaste tenk leegmaak en aanbeweeg. Daar was ook gevalle waar die tenkwaens die water in kleiner tenks op bakkies tap om dit weer in die mense se kanne te tap, maar dit was natuurlik ’n langdradige proses.

Willem het met Water Shortage South Africa geskakel, wat die reuse taak op hulle skouers geneem het om wateraflewerings regoor die land te reël. Hulle moes Aquadam se tenks vol hou. Aquadam se inisiatief het die logistiese nagmerrie uit hierdie ontsaglike groot projek gehaal.

Jan Roussouw, takbestuurder, en Pieter Bronkhorst, hoofbemarker, van VKB Senekal het baie van die pypwerk geborg.

Dit was nie duisend jaar nie, toe begin ander tenkverskaffers Aquadam se voorbeeld volg en vandag kan Suid-Afrika getuig dat die droogte se gevolge in die dorpe nie handuit geruk het nie, as gevolg van gemeenskappe en maatskappye soos Aquadam wat ingeklim het om te help.

Die dorpe wat elkeen ’n Future Tank ontvang het was:

  • Viljoenskroon
  • Senekal
  • Winburg
  • Wepener
  • Mataporong langs Reddersburg
  • Smithfield

Tosca het vir ’n kort rukkie een gehad, maar hulle krisis is afgeweer en die tenk is Kroonstad toe verskuif. Dit was ook net betyds, want die Winter Bokkieweek is amper afgestel omdat daar nie genoeg water in die dorp was vir al die jong sportmanne en -dames wat daar moes tuisgaan nie. Die organiseerders het die oppervlakte vir die dam voorberei en gehelp met die installasie. Een persoon het volle verantwoordelikheid vir die watervlak in die tenk geneem.

“Die Future Tank word van ’n Zinkalume materiaal vervaardig en volgens ’n ingenieursontwerp is die plate sterk genoeg om die waterdruk te hanteer en vir ’n lang tyd so te staan. Elke tenk word ook toegerus met ’n PVC-voering aan die binnekant om die water weg van die plate te hou, asook ’n koepeldak. ’n Future Tank kan tot agt meter hoog gebou word en kan tot 50 jaar hou,” sê Willem.

Die tenks word vandag nog in die onderskeie dorpe gebruik waar die watertoevoer sukkel om te stabiliseer. Aquadam is steeds slaggereed om te help waar die nood dit vra en die eienaar, mnr Ronald van Lochem, is ook bereid om geldinsamelingsprojekte, skenkings of fondse te help koördineer, indien daar groter of meer reservoirs benodig word.

Die droogte het ons weer gewys: Geen plaas of gemeenskap kan sonder ’n behoorlike watertenk wees nie. Skakel vir Willem Noordman by 086-100-1010 of 012-810-0940 of stuur vir hom ’n e-pos na willem@aquadam.co.za om na jou waterbergingsbehoeftes om te sien.

Aquadam

Dié tenk is op die kerk se terrein in Mataporong langs Reddersburg opgerig.

Aquadam

Een van die manne van Aquadam se oprigtingspan sit ’n koepeldak bo-op Winburg se Future Tank.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0