Andries Marx: Sukses berus op tegnologie
Andries Marx van die plaas Sewefontein by Burgersdorp in die Oos-Kaap is pas aangewys as Voermol se Skaapboer van die Jaar vir 2024. Hy is die vyfde geslag wat sedert 1899 op die plaas Sewefontein by Burgersdorp in die Oos-Kaap boer.
“Almal voor my het regtig hard gewerk en elkeen het die plaas so goed ontwikkel soos wat hy kan.” En hy sit dié tradisie trots voort.
Menswordjare
Andries het op Burgersdorp skoolgegaan en na skool by die Universiteit van die Vrystaat sy BCom Landbouekonomie
Honneursgraad verwerf. Hy en sy vrou Anél het begin uitgaan toe sy in graad 12 aan die C&N Oranje Sekondêre Skool in Bloemfontein was.
“My skoonpa Jannie en twee swaers Izak en Jandri boer op die buurplaas. “Ek het ‘draad gespring’, soos hulle sê!”
Hulle is in 2004 getroud en het eers op die plaas Nooitgedacht nader aan Burgersdorp gewoon. “Anél het tot in 2020 Rekeningkunde by die skool in Burgersdorp gegee, waarna sy voltyds by die boerdery aangesluit het. My dogter Estelle is tans in graad 8, ook in Oranje Meisieskool, waar hulle die ‘Eende’ genoem word. Ons seun Frans is volgende jaar in Graad 12 in Marlow Landbouskool, en hulle heet die ‘Wolramme’. Sy bynaam is Merino!”
Sy pa het tot in 2020 op die plaas gewoon, maar toe besluit om dorp toe te trek sodat Andries en sy gesin op die familieplaas kan woon. “My pa wou hê ons moet hier kom bly want hy was bang dat my kinders die band met die
familieplaas kan verloor as hulle nie hier groot word nie.”
Plaas toe
Andries het in 2003 begin boer. Sy pa het sedert 1977 ՚n Dohne-stoet bedryf en Andries het uit die staanspoor die
bestuur van ՚n gedeelte van sy stoet en kudde oorgeneem.
“My pa het my die geleentheid gegee om my gedeelte self te bestuur, maar ons het heeltyd die produksie en wins per ooi met mekaar vergelyk. “Ons was heeltyd in kompetisie met mekaar en hy het my lank gewen met produksie. Ek glo dit is al manier hoe ՚n seun kan leer as hy self op sy manier probeer, maar terselfdertyd ook sien dat sy pa se planne uitstekend is.”
Die belangrikste aanpassing wat hy in sy eerste jare in die boerdery gemaak het, is om die verkoopstyd te verander na wanneer die aanbod van lammers die laagste en die aanvraag die hoogste is, dit wil sê in Junie en Julie. “Ek het ook in 2013 opgehou om speenlammers te verkoop en liewers op slaglamproduksie te fokus. Ek rond lammers af op groenvoerlande of in die voerkraal, afhangende van die omstandighede. Ek het ook deur die jare heelwat uitgebrei deur grond te koop en te huur,” vertel hy.
Beeste
In 2006 het hy met beeste op huurgrond begin boer en die wins van die skape daarin belê. “Die vertakking help om arbeidskoste per kleinvee-eenheid (KVE) laer te maak wanneer die wol- en skaappryse swak is, omdat van dieselfde arbeid vir albei vertakkings gebruik gemaak word.” Andries het sy boerderyeenheid oos van die plaas uitgebrei.
“Die groot rede was om die droogterisiko’s te verminder – dit reën mos altyd meer oos van jou plaas! Om so wydsbeen te boer is besonder moeilik en kommunikasie met radio’s is ՚n moet.”
Tegnologie
Tegnologie is die sleutel tot sy suksesvolle skaapboerdery. “Die nuutste plaatjiestelsel waarop ՚n QR-nommer gedruk is, het die bestuur makliker gemaak, want alle data word elektronies versamel en ons kan nou heelwat meer diere meet.”
Hy het vanjaar al sy kuddejongdiere ook gemeet met behulp van BKB se Decision Support Services of DSS-stelsel. Van hierdie diere sal data en al op volgende jaar se produksieveiling wees.
Veldbestuurstelsel
Daar word afsonderlik volgens tipografie en drakrag op elf verskillende plase geboer en sodoende word die langtermyndrakrag nooit oorskry nie. Minimumbewerking word op al die lande toegepas en met die Piket-geenbewerkingplanter gedoen.
Plase is in verskillende kampe in lam-,berg- en jongooikampe opgedeel. Die lamkampe is met sifdraad toegemaak om die lammers teen ongediertes te beskerm. Daar word baie op veldverbetering gefokus deur drukbeweiding in die reëntye toe te pas, brakgedeeltes met skaapmis te strooi, kampe te verdeel, miershope te breek en waterverspreiding te verbeter.
Die verste plaas waar met skape geboer word, is 90 km oos van die woonplaas. Dié plaas is bo-op die Stormberge wat baie meer reën ontvang en op ander tye droogtes ervaar as die woonplaas. Voer soos gars, weiwieke en lusern word daar verbou en hamels word in die herfs daar afgerond. Andries huur ook 15 ha besproeiingslande waar hy lusern verbou wat gebruik word om tweelinge te voer en lammers en ramme af te rond.
Telingbestuur
Vroulike diere in die stoet en kudde word op grond van sekere maatstawwe uitgeskot.
Kudde
Kuddelammers word op speen van ՚n oorplaatjie voorsien en vir groei en fisieke foute geklassifiseer. Hulle word op vyftien maande in vier groepe geklas, naamlik uitskot, tweede-kudde, eerste-kudde en stoet-F3-ooie. ՚n Wolmonster word van elke jong ooi geneem vir ontleding en wolvagte en liggaamsmassa word geweeg om sodoende die diere te klas volgens hulle inkomstevermoë.
Die eerste kudde-ooie word op die ouderdom van agttien maande gepaar en lam dus wanneer hulle twee jaar oud is. Ooie wat nie dragtig is of lammers op 42 dae speen nie, word uitgeskot.
Stoet
Die F3-stoetooie word op 18 maande gepaar. Jong ooie word op 18 maande gepaar en lam op 24 maande. Die stoetooie en- lammers word volgens die Dohne-stelsel ontleed en bestuur, stoetlammers word by geboorte met ՚n DSS-plaatjie gemerk en elke ooi-familie se plaatjie is ՚n ander kleur. Stoetlammers word op 100 dae geweeg, data word na Logix toe gestuur vir ontleding en daarna geklas volgens die 100 dae-indeks. Ooilammers met ՚n indeks van minder as 85% en dié met fisieke foute word uitgeskot.
Op twaalf maande word stoetooilammers geskeer, wolmonsters geneem en wolvagte en ooie geweeg. Data word na ՚n woltoetsburo vir ontleding gestuur, waarna die Blup-ontleding terugontvang word. Die plaaslike BKB-wolbeampte klas die ooie. Daarna word die ooie in hulle verskillende familiegroepe met die gebruik van ‘n genetiese dekwiel gepaar om lynteling toe te pas.
Teeldoelwitte
Volgens Andries is die belangrikste teeldoelwit om met “goedkoop ooie te boer”. “Ooie wat swaar lammers op natuurlike veldtoestande met min insette speen, is die winsgewendste boerdery. Reproduksie is baie belangrik en ooie moet elke jaar ՚n lam speen: Geen ooi kry ՚n tweede kans nie.”
Lammers met ՚n goeie groeitempo en dus hoë speensyfers (direk en ligaamsmassa) is baie belangrik want hulle onderhoudsbehoeftes is laer as die ander diere s՚n. Aangesien hulle op ՚n agtmaande-skeerstelsel is, kry ramme en ooie met goeie skoonwol en stapellengte voorkeur. Diere moet visueel aan die Dohne- telersgenootskap se rasstandaarde voldoen. Die kudde en stoet word met behulp van ՚n opekernstelsel presies dieselfde bestuur.
Ramme
Ramme wat uit goeie moeders gebore word en wat goeie maternale en hoë produksie-indekse het, word in die stoet en kudde gebruik. Andries gebruik elke jaar ten minste een buiteram van ander Dohne-stoeterye in sy stoet en nog een in sy kudde. Sowat 80% van die gebruiksramme word elke jaar vervang met jong ramme. Die ouer ramme word op twee produksieveilings per jaar verkoop.
Ramme word ook volgens die Dohne-stelsel beoordeel en geklas en dan word net ramme met die beste reproduksie-eienskappe uitgesoek om in die stoet gebruik te word. Aan die begin van die jaar word ramme ook genomies getoets; hy wil in die toekoms net die ramme met die beste genomiese eienskappe gebruik.
Jong ramme word in die veld grootgemaak en afgerond. “Ons gebruik die veld om variasie te verskaf sodat die ramme wat die beste in veldtoestande aanpas gebruik kan word, en ramme kry net 30% van hulle voedingsbehoeftes as ‘n lek in die veld.”
Die room van sy groep ramme wat elke jaar in die stoet gebruik word, word op die nasionale veiling en sy twee produksieveilings in Februarie en Augustus verkoop. “Dit is foutlose ramme uit die beste produserende moeders van my stoet.”
Toekomsvisie
“My pa en oupas het vir my die geleentheid gegee om te boer en ek moet vir my kinders ook ՚n geleentheid gee. Dit is ՚n besondere groot uitdaging!”
Kontakbesonderhede
Kontak Andries Marx by (+27)83-451-0969 vir meer inligting.