Amron Chemies: Die vroue wat landbou in Brits laat blom

WhatsApp Image 2025-08-11 at 13.04.16
Amron Chemies is die trotse verspreiders van DuxAgri se biologiese produkte.
Die gebruik van chemiese- en biologieseoplossings in jou boerdery is ‘n fyn kuns. Tog kan die kombinasie van die regte produkte, op die regte tyd, in die regte dosis jou gewasse sterk laat groei, jou grond vrugbaar hou en peste en plae uit jou oes uit hou.
In die Brits-omgewing reken die boere reeds negentien jaar op die kennis en bystand van twee formidabele vroue vir hulle chemiese en biologiese oplossings.
Amron Chemies maak vir die eerste keer sy deure oop
Negentien jaar gelede het Amadia Smit en haar ma, Ronel Schutte, ‘n moeilike pad aangepak. Met hulle landbou agtergrond en die ondersteuning van die mans in hulle lewens, Piet Schutte en Basil Smit, het hulle Amron Chemies gestig.
Aanvanklik het dit begin as ‘n klein onderneming wat sommer so uit die motorhuis bestuur is. Aan die begin jare was daar wel twee groot uitdagings, die kostes verbonde om so ‘n onderneming op die been te bring en tweedens moes hulle die vertroue van die boere en ander kliënte in die omgewing wen.
“Ek dink nie boere het negentienjaar gelede verwag om twee vroue agter die toonbank te sien nie. Dit is mos maar ‘n manne wêreld, en om gewoond te raak aan twee vrouens was nie altyd maklik nie,” verduidelik Amadia.
Gelukkig het hulle die hulp en ondersteuning van haar pa, Piet Schutte, ‘n bekende landbou-chemiese-navorser en haar man, Basil Smit, wat self in die landboubedryf betrokke is, gehad.
Aan die begin het Amron se produkreeks slegs uit chemiese oplossings bestaan, maar die produkreeks het oor die jare saam met die besigheid en die twee vroue se kennis gegroei. Mettertyd het daar ‘n kunsmisafdeling en saadafdeling bygekom, asook dienste soos grondontledings- en programme. Selfs die winkel het nuwe produkte soos spuite en implemente aan boere verkoop.
Twee jaar gelede het hulle saam met Dux Agri begin werk en biologiese-oplossings ook bygevoeg. “Ons het besef die boere gaan nie net chemie benodig nie, maar byvoorbeeld ook spuite en kunsmis. Boere gaan iemand nodig hê om hulle programme te lees en voorstelle te maak, so ons het aangepas volgens die behoeftes van ons kliënte,” deel Amadia.
‘n Passie vir boer en ‘n liefde vir die gemeenskap
Arne Kaffka, Dux Agri bemarker vir die wyer Gauteng area, vertel dat dit altyd lekker is om saam met Amadia na ‘n plaas te gaan.
“Wanneer jy by die boer stop, voel dit of jy by ou vriende of familie van Amadia gaan aanklop. Jy staan eers en gesels oor die kinders en familie voordat dit by besigheid uitkom,” vertel Arne laggend.
Amadia en Ronel is so lief vir die boerderye in die omgewing soos wat hulle vir Amron is. Hulle het hierdie plase oor die jare heen sien groei tot wat dit vandag is, hulle was daar om raad en hulp te bied vir die oupas van die boere wat vandag steeds op die plase gevestig is.
Hoewel landbou bekend is as ‘n oorheersende mans industrie, vertel Amadia dat sy as vrou nooit regtig uit gevoel het nie. Sy en haar ma het geleer en aangepas, met die leiding van haar pa en haar man het hulle elke uitdaging aangepak. Vandag vertrou boere nie net hulle produkte nie, maar ook hulle raad, en dit is iets wat nie aan geslag gekoppel word nie, maar aan tyd en produkkennis.
“Dit is ons passie vir die bedryf wat ons laat aanhou opstaan elke oggend, elke dag is meer interessant as die volgende een,” vertel ‘n gelukkige Amadia.
- Amadia Smit en haar ma, Ronel Schutte het negentien jaar gelede Amron Chemies gestig.
- Arne Kaffka van Dux Agri saam met ma- en dogterspan Amadia Smit en Ronel Schutte van Amron Chemies.
Balans tussen chemies- en biologieseoplossings
Twee jaar gelede het Amron se kliënte begin navraag doen oor Dux Agri produkte en van toe af het die verhouding sterk gegroei. Daarna het Ronel en Amadia by Dux Agri gaan aanklop en toevallig was Arne, iemand wat beide reeds geken het, ‘n bemarker vir die maatskappy. Die produkte het hulsef in die veld bewys en verskil gemaak by talle boere. Vandag staan hulle vennootskap met Amron sterk, “ons werk saam in die veld en maak seker die aanbevelings is reg en doeltreffend.”
“Dux Agri is ‘n standvastige maatskappy en die ondersteuning wat hulle vir ons bied in die veld is ongelooflik, mens kan ook duidelik sien dat hulle produkte werk,” verduidelik Amadia.
Sy glo daar is ‘n plek vir chemie en biologie in die landboubedryf en dit is waarom Amron nie net op een oplossing fokus nie, maar eerder ‘n vol pakket wil bied wat die beste vir hulle kliënte werk.
Arne verduidelik dat die Brits omgewing baie gewild is vir veral groente-, graan- en sitrusboerderye, maar dat daar eintlik geen beperking is nie.
“Ek hou baie daarvan om met die biologiese produkte in landbou te werk, want daar is soveel nuwe innovering in biologie. Biologiese oplossings het die laaste paar jare so verbeter dat hulle baie kompeterend is. Wat voorheen komplekse probleme was kan nou maklik opgelos word,” vertel Arne.
Vir hom bly die lekkerste ding om op ‘n plaas te kom met ‘n produk en die verskil te sien wat daardie produk op sy aanbeveling gemaak het.
Vir oplossings wat werk kan jy gerus ‘n draai op DuxAgri se webblad gaan maak by www.duxagri.com.

