Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 6th December 2024

Amandels se belofte blom in die Klein-Karoo

By 7 min read
1313 words

amandel 6

Die grond moet baie goed voorberei word deur plat grond diep te breek en teen ՚n helling moet die boompies op banke geplant word om ՚n goeie, eenvormige wortelstelsel te vestig. (Bron: Verskaf)

Die amandelbedryf in die Klein-Karoo is goed op dreef. Die bedryf, wat dertig, veertig jaar gelede in Montagu begin het, het sedert 2017-2018 lekker toegeneem in die Klein-Karoo, sê George Nel, hoofbestuurder van Origin Cape Farms op Matjiesrivier in die Kangogebied waar die amandelbome in die lente spierwit in die blom teen die blou van die Swartberge staan.

Volgens George is daar tans 21 amandelboere met altesaam 425 ha amandelboorde in die Klein-Karoo. Die meeste van die bome nog nie in volle produksie nie, maar teen 2027-2028 sal die bedryf waarlik blom.

Groeiende bedryf

Aanvanklik het die bedryf maar gesukkel omdat daar nie iemand was om voor te vat om dit te laat groei nie, maar vandag lyk die toekoms van amandels rooskleurig. Al het COVID-19 die groei laat stagneer, plant die boere elke jaar ՚n bietjie bome by.

Volgens George is amandels ՚n kommoditeit met ՚n wêreldwye mark. “Al die ander neute saam maak nie eens 30% uit van die amandelmark nie,” vertel hy.

Die Amerikaanse staat Kalifornië lewer die meeste (78%) van die wêreld se amandels, terwyl Suid-Afrika nog nie eens 1% lewer nie. “Ons voordeel bo Kalifornië is dat ons in die suidelike halfrond is en wanneer hulle oes af is, lewer ons vars amandels.

“Kopers soek vars neute en al het amandels ՚n raklewe van twee jaar, is ons besig om die oordrag van voorraad wat tydens COVID-19 opgegaar is, weg te werk. Tans het ons voorraad vir ses tot agt maande, waar dit voorheen twee jaar s՚n was.”

Volgens George kan die aanplantings nie bybly by die groeiende verbruikersmark nie. “Ons verwag dat die groei-ende aanbod pryse sal laat herstel tot die 2017-vlak.”

In 2017 het Klein Karoo Saadproduksie dit oorweeg om die amandelbedryf ՚n hupstoot te gee, maar weens die voortslepende droogte het die maatskappy besluit om eerder die lede te beskerm as om geld in ՚n nuwe bedryf te belê. “Die boere, wat die potensiaal van die amandelbedryf raakgesien het, het dit toe met hulle eie fondse ontwikkel.”

Produksievereistes

Amandels het goedgedreineerde grond en baie water – tussen 7 000 en 9 000 kubieke mm per hektaar nodig, en op sanderige grond nog meer – 10 000- 12 000. Amandels floreer in die Klein-Karoo se Mediterreense klimaat met ՚n warm somer, wat ooreenkom met dié van Kalifornië.

Volgens George is ՚n deeglike grond-ontleding en -kartering ten opsigte van klassifikasie en chemiese inhoud, naas ligging en waterkgehalte, noodsaaklik vir die suksesvolle verbouing van amandels. “Hierdie faktore bepaal watter onderstam en besproeiingstelsel die beste gaan werk.”

Die grond moet baie goed voorberei word deur plat grond diep te breek (rip); teen ՚n helling moet die boom-pies op banke geplant word om ՚n goeie, eenvormige wortelstelsel te vestig. In die Klein-Karoo moet skaars water optimaal benut word en daarom word ՚n dubbeldruplyn gebruik wat 2,3 liter water per uur in ՚n boord met 600 mm-spasiëring tussen bome gebruik. Bemesting word deur die besproeiingstelsel toegedien en dié verrykte water lewer die beste resultate.

Volgens George hanteer amandelbome warm omstandighede goed mits hulle genoeg water kry. “Die neut is in ՚n harde omhulsel wat erge hitte kan hanteer en nie aan sonbrand blootgestel is nie.”

Die bome kan op 300 tot 400 mm water per jaar oorleef. Al kan jy nie ՚n oes verwag nie, bly dié bome behoue. Amandels reageer dus baie gunstig op water en namate jy hulle meer water kan gee sal hulle dienooreenkomstig oes lewer. Kultivars wat eerste bot in Augustus is gevoelig vir koue, maar dit hang ook af van die boorde se ligging.

“Koueskade kan beperk word as jy die regte praktyke volg,” sê George.

Arbeidsintensief

Die oesmetode van amandels bepaal hoe arbeidsintensief die bedryf is.

Daar is drie maniere van oes:

• As die neute met stokke van die takke afgeslaan word, is dit baie arbeidsintensief.
• Half-gemeganiseerde oes behels die “skud en vang”-metode: Nette word op die grond onder die bome geplaas, die bome word met behulp van ՚n masjien geskud en die ryp neute wat afval word met die hand bymekaar gemaak.
• Op plat terrein waar genoeg ruimte vir masjinerie is, kan die neute ten volle meganies van bome afgehaal, bymekaar gehark en versamel word.

“Al is daar nie haas om die neute geoes te kry nie omdat dit nie aan die takke beskadig kan word nie, kan dit ook nie vir ՚n onbeperkte tyd aan die bome gelos word nie, maar moet af voor die bome binne drie maande weer begin bot.”

Amandels verg heel jaar lank aandag. Nadat die neute geoes is, moet die buitenste omhulsel verwyder word, die harde dop gekraak word en die kern verpak word. Die proses moet teen Augustus, September afgehandel wees sodat voorbereidings vir die volgende jaar se oes kan begin.

Piekproduksie

Daar is verskeie kultivars beskikbaar. Al dra die bome reeds in die tweede jaar na aanplanting, word aanbeveel
dat die eerste twee jaar se neute afgepluk word. “Die energie moet gebruik word om eerder ՚n groot, sterk boom te verkry wat hoër volumes lewer wat meer winsgewend is.”

Gewoonlik word neute in die vierde jaar na aanplanting geoes en produksie piek in die agtste jaar. Uiterste hitte, koue en wind kan piekproduksie met ՚n jaar vertraag. Hoe hoër die plantdigtheid, hoe gouer (vyf of ses jaar) word piekproduksie bereik; bome wat teen ՚n laer digtheid aangeplant word, neem sewe tot agt jaar om piekproduksie te bereik. In piekproduksie lewer bome wat in sewende of agtste jaar is sowat 2 tot 3 ton per hektaar. Die wêreldgemiddeld is 2,6 ton per hektaar, maar in die Klein-Karoo is tot 3 ton per hektaar moontlik.

“Dit hang af daarvan of die boere van die eerste dag voltyds die regte praktyk volg om by die mikpunt uit te kom.”
Vir boere wat met amandels as ՚n byproduk boer, is 2,2 tot 2,5 ton per hektaar steeds winsgewend.

Oestyd

Daar word tipies van middel-Februarie tot einde-April geoes. Dan word die amandels gedroog en op ՚n sekere
vogpersentasie deur verwerkingsaanlegte aanvaar. “Daar is ՚n rooster waarby ՚n mens moet aanpas – die verwerkingsaanlegte gee vir jou ՚n dag en datum vir die week wat hulle jou produk kan hanteer. Dit beteken die boere moet bêreplek op die plaas hê.”

Volgens George is daar drie kommersiële aanlegte, naamlik op Wellington, Robertson en in die Kammanassie. “Die aanlegte is goed geleë en het genoeg kapasiteit vir ons huidige aanplantings, maar teen 2027-2028 gaan ons meer fasiliteite nodig hê.

Bemarking

՚n Redelike groot volume amandels word plaaslik bemark, maar Suid-Afrika produseer nog nie genoeg om in dié
mark te voorsien nie. “Die buitelandse mark betaal beter pryse, en ons moet nou die geleentheid benut om meer markte in die buiteland te bekom. Dit is veral belangrik omdat die amandels uit Kalifornië en Spanje nie van dieselfde hoë gehalte as die Klein-Karoo se amandels is nie.

“Ons Klein-Karoo-amandels het ՚n unieke smaak, net soos ons ander vrugte, druiwe en groente,” spog George. “Ons het unieke grond, klimaat en water – en as ons genoeg volumes produseer, kan ons dit gerus oorweeg om ons amandels (soos rooibostee en Karoolam) as plek-spesifieke produk te identifiseer, te registreer en afsonderlik te bemark.”

Volgens George is amandels die ideale kommoditeit om in die Klein-Karoo te verbou. “Dit is ՚n lae-risiko boomgewas en die neute het ՚n lang raklewe, wat ՚n mens bietjie beweegruimte gee wanneer dit by oes kom. Die gebied is redelik waterryk en die gehalte van die water, die grond en die klimaat is uitstekend vir die verbouing van amandels.”

Die grootste uitdagings is klimatologies, want al het amandelbome ՚n koue winter en sneeu nodig, word daar immer vir ryp op die verkeerde tyd gevrees. “Daar is min dinge so bevredigend as om te sien hoe dankbaar die amandelbome vir water en bemesting is,” sê George.

“As jy die praktyke volg wat die afgelope 140 jaar in Kalifornië vrugte afwerp, is dit baie bevredigend om te sien hoe ons bome daarop reageer.”

Kontak George Nel by (+27)74-491-2563 of georgenel75@gmail.com vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0