Slim tegnologie in boerdery: Hoe Rentia Boerdery Agrico se webbeheer gebruik om ‘n voorsprong te kry

WhatsApp Image 2025-01-28 at 14.43.25
Die Agrico Advanced RAIN paneel.
In ‘n wêreld waar boerdery al hoe meer afhanklik is van tegnologie, het Rentia Boerdery die manier waarop hulle besproeiing bestuur radikaal verbeter. Deur gebruik te maak van Agrico se Webbeheerstelsel, is die plaas besig om die hele besproeiingsproses meer doeltreffend te bestuur.
Rentia Boerdery is geleë in die Vrede-distrik, waar Cobus Cronjé die familieplaas bedryf. Bovus is verantwoordelik vir die saai van mielies en sojabone, terwyl sy broer die veeboerdery en braaikuikens bestuur.
Boerdery met uitdagings: Die besluit om te diversifiseer
Een van die grootste uitdagings op die plaas is die weer – een jaar is dit uiters droog en die volgende jaar baie nat. As gevolg van die onvoorspelbare weerpatrone, moes die broers hul boerdery diversifiseer. Hulle het die opsie gehad om meer grond aan te koop of om in hul bestaande lande te belê. Hulle het besluit om die tweede opsie te volg.
Die grond wat hulle wou benut, is die plaas Rondebult, wat sowat ‘n paar kilometer wes van die gesinsplaas geleë is en wat droër grond het. Daarom het hulle besluit om na ‘n nuwe besproeiingstelsel en opgaardam te kyk.

Tien pompe met hul VSD’s in die Rentia pompkamer.
‘n Lang pad met Agrico se ondersteuning
Cobus onthou nog die eerste Agrico spilpunt wat hulle opgerig het. In 1992 het sy pa die spilpunt laat installeer, en dit was juis die rede waarom Cobus weer op Agrico se kundigheid staatgemaak het om die nuwe besproeiingstelsel op die plaas te implementeer.
Nadat Francois de Kock, die besproeiingsontwerper by Agrico, die koste per hektaar en energiebesparing aan Cobus voorgelê het, het hulle besluit om tien spilpunte, ‘n pompstasie en ‘n opgaardam op te rig.
Agrico se Pomp Beheer tegnologie
Die pompstasie bedien tien spilpunte wat so net meer as 340 hektaar besproei.
Francois verduidelik dat ‘n geoutomatiseerde stelsel nodig was aangesien die grond ‘n ent van die woonplaas af geleë is. Cobus moes dus in staat wees om die spilpunte oor ‘n afstand te monitor en te beheer. As gevolg van die plaas se topografie was dit ook belangrik om energiebesparing te bewerkstellig, en dit was juis waar Agrico Web Control die meeste voordele kon inhou.
“Daar is basiese faktore wat die energiebehoefte van die stelsel bepaal; die vloeitempo, die hoeveelheid water wat jy pomp, die doeltreffendheid van die pompe en die druk waarteen die stelsel werk,” verduidelik Francois.
Omdat die spilpunt ‘n beweegbare stelsel is, verander die druk namate die spilpunt oor die land beweeg. Die drukbehoefte van die spilpunt word aan die pompbeheerstelsel oorgedra, wat ‘n dienspunt uitwerk en dit aan die VSD deurgee.
Die pompspoed word dus aangepas volgens die minimum druk wat benodig word om die spilpunt aan die gang te hou. Soos wat die spilpunt beweeg en die dienspunt verander, sal die pompbeheerstelsel automaties aanpas.

Die Rondebult-pompstasie huisves tien pompe wat elk sy eie spilpunt bedien.Alles op een platform
Vir Cobus se pompstasie moes hulle ‘n ekstra lugdraad met ‘n versterker laat oprig om beter ontvangs te kry. Die toestelle kan aan die web gekoppel word, wat beteken dat die pompstasie, spilpunte en damvlakke alles vanaf een platform beheer kan word.
Die pompe in die pompstasie word beheer deur Agrico se Advanced Rain-beheerpanele. Die panele word op elke spilpunt aangebring. Omdat die topografie van die plaas redelik verskil, moes elke spilpunt ook op sy eie pomp gekoppel word.
“Agrico se webbeheerstelsel ontsluit vele voordele vir die boer. Buiten die tyd wat hy bespaar, help dit ook om ‘n ogie op die plaas te hou. Die boer het toegang tot geskiedkundige data wat hom help om te besluit hoe hy moet besproei,” verduidelik Francois.
Agrico – Die enigste keuse
Cobus is al vir jare vertroud met Agrico se gehalte en diens. “Ek ken die mense waarmee ek werk, en ons kry altyd goeie diens by Agrico. Alhoewel daar klein probleme was tydens die oprigtingsproses, het die span uitstekend saam met ons gewerk om ‘n stelsel te bou wat perfek by ons behoeftes pas,” sê Cobus.
Met die installasie van die nuwe stelsel het Cobus die eerste keer Agrico se webbeheer gebruik. Hy is so tevrede dat hy besig is om sy ander besproeiingstelsels ook na die webbeheer oor te plaas.
“Ek kan nie meer sonder dit klaarkom nie,” sluit hy af.
- Die Pump Controller stelsel wat ook aan Agrico Web Control gekoppel is.
- Een van Rentia Boerdery se tien spilpunte op die plaas,Rondebult.
Francois de Kock en Cobus Cronjé gesels terwyl hulle deur die lande loop.





