Categories: Artikels, BesproeiingPublished On: 20th December 2023

Agrico maak ՚n plan vir SKS Boerdery se besproeiingsbehoeftes

By 4 min read
707 words

IMG_3445

Toe die Steenkamp-broers van SKS Boerdery naby Middelburg begin soek het vir ՚n besproeiingstelsel, een wat so min as moontlik energie gebruik maar maksimum produksie verseker, was daar geen ander keuse as Suid-Afrika se besproeiingsleier, Agrico, nie.

Saam met die maatskappy kon hulle ՚n koste-effektiewe, doeltreffende oplossing kry wat aan al hulle behoeftes voorsien. SKS Boerdery het in die negentigerjare begin en een na die ander het al drie Steenkampbroers by die familieonderneming aangesluit. Hulle boer hoofsaaklik met graan en het ook ՚n voerkraal-aanleg vir hulle kommersiële vee. Polla Steenkamp verduidelik dat hulle eers deeglik huiswerk gaan doen het en dat hulle ’n moderne spilpunt wou hê. Die slotsom was dat Agrico tans die voorlopers vir nuwe tegnologie en ontwerp is. Hierdie moderne stelsel en die feit dat die stelsel ook diefstalbestand is, het hulle laat besef dit is die regte keuse vir hulle.

“Daar was vir ons uiteindelik nie ՚n ander keuse as om met Agrico die pad te loop nie,” sê Polla. Willie Cilliers, Agrico Ermelo se takbestuurder, verduidelik dat Polla hulle genader het vir ՚n besproeiingstelsel omdat die boerdery nie die optimale opbrengs met gewasse op droëland in hulle omgewing kon behaal nie.

Die dompelpomp wat help om aan die pompstasie se behoeftes te voldoen.

Agrico G4-spilpunt die oplossing vir diefstal!

Vir hierdie boerdery, was die Agricospan se aanbeveling G4-spilpunte en ’n nuwe pompstelsel. Gerrie Herbst, die hoof van Meganiese Ontwikkeling by Agrico, was by die spilpunt-ontwerp betrokke. Die elegante ontwerp van die G4 se toring en spanstruktuur laat spanwydtes van tot 70 m toe. Hy verduidelik dat die driebeensenter van die G4-spilpunt eiesoortig is.

“Die G4 se senter is ontwerp om jou eiendom teen diefstal te beskerm. Alle kabels en komponente is versteek en die spankabel is ook veilig binne die spanpyp en bene weggesteek. ՚n Paneelomhulsel verseker dat daar nie aan jou hoofpaneel gepeuter kan word nie.”

Bo en behalwe diefstal, is beurtkrag een van die boerdery se grootste uitdagings, met vlak ses onderbrekings wat soms die plaas vir lang tye sonder elektrisiteit laat. Besproeiing is direk afhanklik van kragtoevoer. Daarom het hulle besluit om dié stelsel geheel en al sonder Eskom aan te pak en alles met sonkrag en kragopwekkers aan te dryf. Die sonkrag word gebruik om die spilpunte te skuif wanneer dit nie besproei nie, sodoende hoef die kragopwekker nie daarvoor gebruik te word nie.

Willie Cilliers, takbestuurder, Agrico Ermelo; Johan Myburgh, hoof meganiese ingenieur, Agrico; Gerrie Herbst, hoof van meganiese ontwikkeling by Agrico; en Polla Steenkamp, eienaar van SKS-boerdery.

Agrico het ‘n besproeiingsoplossing vir jóú

Hoewel die G4-spilpunt by SKS Boerdery ’n standaard stelsel is, moes die span wel aanpassings aan die stelsel en pompkamer maak om aan die boerdery se behoeftes te voldoen, en soms moes die span bietjie afwyk van die oorspronklike ontwerp.

Polla vertel: “Elke keer wat daar ՚n uitdaging opgeduik het, het die Agrico-span die situasie ontleed en positief gereageer met goeie voorstelle om die probleem op te los.”

Die span het besluit om ՚n LEPA-(Low Energy Precision Application) spuitstelsel ook te installeer om die stelsel teen ’n lae druk te kan bedryf met min verliese en hoë effektiwiteit. Die gewasse wat op die boerdery geplant word werk ook goed met die LEPA-spuitstelsel. Die kersie op hierdie unieke koek is dat die hele stelsel van jou foon af beheer word en jy deurlopend ՚n ogie op jou besproeiing kan hou. Agrico-Webbeheer laat jou toe om verskeie pompe te beheer, en die spilpunt se GPS-stelsel beheer ook die pomp se spoed en dus druk om energieverbruik te verminder. Jy kan die spilpunt se rigting verander en ook jou energieverbruik dophou, alles vanaf jou slimfoon of rekenaar. Volgens Polla is die stelsel baie meer doeltreffend, en dit is tog die einddoel: om jou onderneming so doeltreffend as moontlik te bestuur.

“Ek het ՚n baie goeie ervaring met Agrico gehad, spesifiek met Willie en sy span ingenieurs van Bellville. Ek kan net met lof praat. Ek dink daar was net nooit ՚n probleem nie en ek hoop dit is wedersyds.”

Vir jou optimale besproeiingstelsel, gesels met Agrico. Op hulle webwerf, http://www.agrico.co.za kan jy die kontakbesonderhede van jou naaste tak vind en meer lees oor al hulle oplossings.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0