Agrico gee slim water vir sappige druiwe

Agrico feb 1
Van die kultivars wat op De Tuin Landgoed en Watervliet geplant word, spog met eksotiese name soos Scarlotta, Adora, Timco, Magenta en Arra 15. Tafeldruiwe aard goed in die Wes-Kaap met sy winterreënval, want in die laatsomer wanneer die druiwe lekker moet uitswel wil jy nie graag hê dat te veel water die korrels moet laat oopbars nie. Nogtans het die druiwe water nodig om ryp te word, tot soveel as 8 500 m3 per hektaar per jaar. ‘n Goeie besproeiingstelsel is dus onontbeerlik. Agrico is nie net bekend vir sy spilpunte nie – die maatskappy het al die nodige toerusting en kennis om krag- en waterbesparende drup- en mikrostelsels vir wingerde en boorde te voorsien.
Vir ’n tros tafeldruiwe om tot ’n sappige uitvoerproduk te ontwikkel, is die regte hoeveelheid water op die regte tyd noodsaaklik. In die Halfmanshof-gebied, naby Porterville, getuig De Tuin en Watervliet se spogwingerde van goeie waterbestuur.
Die boerdery het oor die afgelope twee jaar 90 hektaar nuwe uitbreidings gevestig en hulle het die besproeiingsmaatskappy, Dripco (nou deel van Agrico), se dienste ingespan om die mikro- en drupbesproeiingstelsels te vestig.
Dirk Lategan was ten tyde van die installasie die landgoedbestuurder. Hy sê een van die grootste uitdagings was die klipperige grond. Nadat die slote gegrawe en die pyp gelê is, moes vragte sand ingery word om die pype mee toe te gooi sodat die klippe nie die pype beskadig nie.
Hy sê hulle het baie gesteun op Lodie Willemse en sy span van Dripco se aanbevelings, want die stelsel dien nie net water toe nie – al die tafeldruiwe ontvang ook streng gereguleerde vloeibare bemesting deur die stelsel. Alles word deur rekenaars beheer. Die kunsmis word akkuraat, blok vir blok, toegedien.
Dirk sê: “Daar kan presies bepaal word in watter stadium van die besproeiingsiklus die kunsmis toegedien moet word. Dit is belangrik om die regte hoeveelheid na-water toe te dien, aangesien jy seker moet maak al die kunsmis wat vir ’n spesifieke blok bedoel is, word net daar toegedien.
Elektrisiteitsgeleidingsmeters, ook bekend as “EC-meters” (electrical conductivity) word gebruik om te bepaal wanneer die laaste kunsmis in die blok ingaan. Dirk sê hulle kan volumetries besproei, met ander woorde per volume water wat uitgaan, of teen tyd, soos ’n uur per blok. Verskillende blokke kan tegelyk besproei word en dit alles kan van ’n slimfoon af beheer word.
Die grootste deel van die stelsel gebruik mikrosproeiers, maar daar is ook dele met drupbesproeiing. Die voordeel van mikrobesproeiing is dat die water ook gebruik kan word om die wingerd op warm dae af te koel. Daar word meer water op ’n slag gespuit, wat die spuitsiklusse korter maak. Die voordele van drupbesproeiing is weer dat dit makliker is om onkruidbeheer op jong stokke toe te pas en daar vind ook minder verdamping plaas.
Lodie sê die besproeiing van so ’n groot gebied moet baie fyn beplan word, want dit is noodsaaklik om die druk regdeur die stelsel eweredig te hou. Agrico het na die installasie by De Tuin en Watervliet al die druktoetse gaan doen en is tevrede dat die beplanning en die praktyk by mekaar uitgekom het!
Hy sê dit is belangrik dat die boer wat self installeer moet saamwerk, want daar is ’n rede waarom die stelsel op ’n bepaalde manier ontwerp word. Vanaf die wisselspoedpompe, deur die uitleg van die hooflyne en die hidrouliese drukbeheer om blokke afsonderlik te bestuur, tot die krane wat met radiobeheer oop en toe gemaak kan word, is alles ontwerp om die minste krag te gebruik en nie water te vermors nie.
Hy sê drukmeting is baie belangrik, want onnodige druk vermors net krag. Die wisselspoedpompe lewer water na behoefte sodat daar oor die langtermyn derduisende rand se krag en water bespaar word.
Alfred Andrag, bedryfs- en bemarkingsdirekteur van Agrico, sê Dripco het nog altyd ’n baie goeie naam vir uitstekende diens en kundige raad in die Wes-Kaap gehad en noudat hulle deel van Agrico is, kan die dienslewering uitgebrei word met ’n groter reeks kwaliteit produkte en meer verteenwoordigers en bedieningspunte.
Vir jou besproeiingsoplossing, kontak Alfred Andrag by 082-824-1214, 021-950-4111 of alfred.andrag@agrico.co.za.

