Agri Wes-Kaap vra polisie-aksie na plaasaanval

Ngp Agriwes Jannie Strydom 2024 -2229
Tisha Steyn Georganiseerde landbou Agri Wes-Kaap, verteenwoordiger van georganiseerde landbou in die Wes-Kaap, het Vrydag skok en kommer uitgespreek oor ‘n brutale aanval op ‘n bejaarde egpaar op hulle plaas in Raithby langs die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder het die vrou (62) omstreeks 04:00 wakker geword met twee gemaskerde mans saam met hulle in die slaapkamer. Sy is met traanrook gespuit en met ‘n koevoet aangeval, waarna sy na ‘n badkamer geneem is waar sy haarself toegesluit het. Ten spyte van ernstige beserings het sy deur die venster ontsnap en kon ‘n alarm aktiveer.
Haar man (63), wat ook met ‘n koevoet of panga oor die kop geslaan is, het ernstige kopbeserings en beenbreuke opgedoen. Hy is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.
Die aanvallers, wat ‘n veiligheidsheining geknip het om toegang tot die plaas te verkry, het te voet met juweliersware, ‘n televisiestel, selfone en skootrekenaars op die vlug geslaan. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Agri Wes-Kaap het Vrydag in ‘n verklaring gesê: “Hierdie voorval ‘n herbevestiging van die voortdurende risiko’s wat die landbougemeenskap in die gesig staar.. Plaasaanvalle en geweldsmisdade raak nie net die slagoffers direk nie, maar ook plaaswerkers, hulle gesinne en die gemeenskap.
“Die vraag kan met reg gevra word: Is daar nog vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens én die regstelsel? Die realiteit is dat misdadigers voortgaan met hierdie gruweldade in skynbare verontagsaming vir die nagevolge van hul dade, indien enige. Die gebrek aan gevolge vir hierdie ernstige misdade stuur die boodskap dat sulke gedrag aanvaarbaar is – iets wat ons as ‘n provinsie en land nie kan bekostig nie.”
Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri Wes-Kaap Landelike Veiligheid, is die gebrek aan doeltreffende vervolging van misdadigers een van die grootste bekommernisse.
“Ons sien keer op keer dat verdagtes óf nie vervolg word nie, óf dat die regstelsel hulle nie behoorlik aanspreeklik hou nie. Is die rolspelers verantwoordelik vir die vervolging van misdadigers werklik effektief in hul taak om as afskrikmiddel vir misdadigers te dien?
“Oneffektiewe vervolging en strafoplegging stuur die boodskap dat misdadigers eenvoudig daarmee kan wegkom, en dit is onaanvaarbaar.
“Ons produsente en landelike gemeenskappe verdien beter beskerming en geregtigheid.”
Agri Wes-Kaap het ‘n ernstige beroep op die owerhede gedoen om daadwerklik op te tree. Die organisasie vereis groter polisieteenwoordigheid, doeltreffende vervolging en samewerking van die gemeenskap. Dit sluit in:
- Landelike gebiede benodig versterkte polisiëring en vinnige reaksietyd om sulke voorvalle te voorkom;
- Ons regstelsel moet verseker dat verdagtes vinnig aangekla word en die gevolge vir hul dade swaar strawwe behels; en
- Dit is noodsaaklik dat owerhede nouer met landelike gemeenskappe saamwerk om proaktief misdaad te bekamp.
“Ons doen ‘n beroep op al ons lede en die breër publiek om aandag te gee aan hulle eie veiligheid en dié van hul bure deur deel te neem aan landelike veiligheidstrukture en netwerke,” sê Uys.
“Agri Wes-Kaap sal voortgaan om ‘n stem vir ons landbougemeenskap te wees. Ons dring daarop aan dat die regering en die regstelsel hulle grondwetlike pligte nakom om almal in ons samelewing te beskerm. Die tyd vir woorde is verby – dit is nou tyd vir daadwerklike optrede,” het Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, gesê.
Vir meer inligting, kontak Rojeanne de Wet, mediawoordvoerder, by rojeanne@awk.co.za of 071-170-3744.