Categories: NuusPublished On: 6th September 2023

Agri SA Ramphulpstigting vra hulp ter ondersteuning van gemeenskappe wat deur verwoestende brande geraak word

By 2 min read
416 words

Southern FS Fires 1

Agri SA is ernstig bekommerd oor die verwoestende uitwerking van voortgesette brande in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap. Die brande het ’n oppervlakte van meer as 400 000 hektaar verwoes, wat gelei het tot die verlies aan weiding en heelwat vee, soos skape, beeste en wild wat óf doodgebrand het óf doodgemaak moes word.

Veldbrande kan groot skade veroorsaak, plantegroei vernietig, diere benadeel, en gemeenskappe en voedselsekerheid ontwrig. In reaksie op die vernietiging van plantegroei is noodreaksiepogings nodig om boere met voer by te staan. Die gevolge van veldbrande word
ervaar lank nadat die brand geblus is. Die skade aan grondgesondheid, die ontwrigting van eko-stelsels en die verandering van natuurlike brandpatrone kan langdurige gevolge hê. Die herstelproses is grootliks afhanklik van reënval. Voldoende reënval is van kardinale belang vir die herlewing van plantegroei, die herstel van grondvrugbaarheid en die aanvulling van waterbronne. Met voldoende reën kan die herstelproses aansienlik bespoedig word.

Agri SA se Ramphulpstigting skenk finansiële hulp aan Vrystaat Landbou en Agri Noordwes ter ondersteuning van hul hulpverlening aan die landbousektor. Ons doen ook ’n beroep op die publiek om te help in die poging om hulpbronne vir die benadeelde gemeenskappe te
bekom.

Hierdie verwoestende brande tref die landbousektor in ’n tyd waar boere reeds groot uitdagings in die gesig staar, insluitend beurtkrag, verswakkende infrastruktuur, stygende arbeids- en insetkoste en bedreigings vir hul landelike veiligheid. Hierdie uitdagings het tot
gevolg dat boere tans aanspreeklik is vir ’n geraamde R205 miljard se landbouskuld – ’n geweldige finansiële las wat maak dat diegene wat deur die brande geraak word, nie hierdie jongste tragedie kan absorbeer nie. Dit het ’n uitwerking op ons land se voedselsekerheid en
dít behoort ons almal se kommer te wees.

Agri SA sal voortgaan om alles in sy vermoë te doen om hierdie boere en hul werkers te help om weer op hul voete te kom. Terselfdertyd doen ons ‘n beroep op die publiek om ons te help om verligting te bied aan dié gemeenskappe wat ons voedsel en vesel produseer.
Donateurs wat tot hierdie saak bydra, kom in aanmerking vir ’n artikel 18(A)-sertifikaat. Die fondse wat ingesamel word, sal aangewend word vir die verkryging van veevoer- en vervoeruitgawes. Elke skenking, hoe klein ook al, kan beduidende verligting meebring vir die
boere en plaaswerkers wat deur die vernietigende brande geraak is.

Die publiek kan die volgende besonderhede gebruik vir skenkings:

Agri SA ABSA
Rekening: Tjek
Rekeningnommer: 4068540775
Takkode: 632005
Verwysing: Brandhulp
E-pos-bewys van betaling aan support@agrirelief.org

Bron: Agri SA 

0

Deel hierdie artikel.

2 Comments

  1. Johan Van Rooyen 19th April 2026 at 18:25 - Reply

    Where to get help,after losing my house,roof,and funiture in a fire in Paul Roux in the Freestate

Leave A Comment

0