AfriSake gekant teen voorgestelde nuwe formule vir landbougrondwaardasie
AfriSake is gekant teen die voorgestelde eiendomswaardasieformule in die Eiendomwaardasiewetsontwerp wat spesifiek van toepassing sal wees op grond wat vir grondhervorming geoormerk is en/of vir onteiening deur ’n staatsdepartement geïdentifiseer word.
AfriSake is tans besig om kommentaar op te stel wat die sakeregtewaghond by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gaan indien.
Dr. Anthea Jeffery, Hoof van Beleidsnavorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het die werking van die voorgestelde formule soos volg uiteengesit: Indien ’n plaas ’n markwaarde van R1-miljoen en ’n netto inkomste van R100 000 per jaar lewer, bepaal die formule dat die som van dié twee bedrae deur twee gedeel word, wat sal neerkom op ’n waardasie van R550 000 – die helfte van die werklike waarde van die grond.
“Gugile Nkwinti, minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, en sy destruktiewe regulasies en beleide sal grootliks aanspreeklik wees vir die ondergang van voedselsekerheid en ’n florerende landbou-ekonomie. Hierdie wetsontwerp is net nóg ’n spyker in die doodskis van ekonomiese groei in en ontwikkeling van die landbousektor,” sê Charles Castle, bestuurder by AfriSake.
Lindiwe Sisulu, minister van Menslike Nedersettings, het intussen ook die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns ingedien. Dié wetsontwerp beoog om eiendomsagente te reguleer om onder meer die eiendomsmark te transformeer.
Ander onlangse wetsontwerpe, beleide en voorstelle wat eiendomsreg direk bedreig, sluit in die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit, die voorgestelde Grondhervormingwysigingswet, die voorstel van ’n welvaartbelasting op grond en ’n nasionale belasting op die waarde van eiendom bo en behalwe gewone munisipale erfbelasting.
AfriSake sal met die ondersteuning van sy lede onverpoosd vir ekonomiese welvaart en vryheid vir alle Suid-Afrikaners voortveg.
Bron: AfriSake