Categories: NuusPublished On: 24th March 2025

Africa Agri Tech se AgBesigheid Dag – ‘n toonbeeld van toekomsgerigte denke wat noodsaaklik is om landbou te bevorder

By 6 min read
1069 words

IMG_0037

Die laaste dag van die Africa Agri Tech Konferensie en Ekspo by die WNNR-konferensiesentrum in Pretoria het gefokus op AgBesigheid, waar sakeleiers aangemoedig is om die verlede se oplossings te laat vaar en toekomsgerigte strategieë te omarm.

Vuyiswa Ramokgopa, LUR vir Landbou in Gauteng, het die dag begin met ‘n beroep dat die tegnologiese gaping tussen kommersiële en kleinskaalse boere oorbrug moet word. “As Gauteng die verskuiwing wil maak om ‘n landboukragbron te word, moet ons aandag skenk aan die onderskeid tussen kommersiële boere, wat tegnies vaardig is, en kleinskaalse boere wat oënskynlik onbewus is van die tegnologie wat hulle kan help om te vorder. Dit vereis ‘n tweeledige benadering: om boere toe te rus met kennis en te verseker dat tegnologie toeganklik en bekostigbaar is.”

Vuyiswa Ramokgopa, LUR vir Landbou in Gauteng.

Arno Hanekom, Digitale Strateeg by Datacentrix.

Arno Hanekom, Digitale Strateeg by Datacentrix, het gefokus op die bekostigbaarheid van kunsmatige intelligensie (KI) in landbou en beklemtoon dat doeltreffende KI-oplossings ‘n lae risiko inhou, kostedoeltreffend is en hoogs voordelig is. “Datacentrix oorkom die huiwering om KI te benut deur werklike boerdery-probleme daarmee op te los. Ons verskaf pasgemaakte KI-oplossings sodat boere uitdagings binne hul unieke omgewing kan aanspreek. Ons maak gebruik van rou boerdery-data en skakel dit om in gestruktureerde datastelle, wat praktiese insigte verskaf en ‘n plan voorsien vir verbeterde en doeltreffende produksie,” het hy gesê.

In die lig van tegnologie wat landboutransformasie aandryf, is die vraag oor hoe om hierdie innovasie te finansier, gehanteer deur Mark Brooks, Waagkapitaal-vennoot by LongLeaf Studios en Resident Entrepreneur by die North Carolina Biotegnologie-sentrum. Hy meen dat tradisionele waagkapitaalmodelle nie geskik is vir die landbou nie, weens die sektor se langer tydraamwerke en hoë wisselvalligheid. “Waagkapitaal is geskep om Silicon Valley-tipe maatskappye te finansier, maar hierdie modelle werk nie in die landbou nie. Ons benodig nuwe finansieringsmodelle wat immergroen is en in staat is om ‘n sektor te finansier wat anders presteer as hoofstroomtegnologiemaatskappye. Daarsonder sal ons nie die innovasie sien wat nodig is om voedselproduktiwiteit te verbeter nie.”

Gideon Rossouw, Uitvoerende Hoof vir Web3 Enablement by Nedbank.

Die rol van blokketting in die landbou is ondersoek deur Gideon Rossouw, Uitvoerende Hoof vir Web3 Enablement by Nedbank. Terwyl Afrika jaarliks R150 triljoen se transaksies doen, is slegs R400 miljard hiervan in kripto-bates. “Die tegnologie wat deur kripto-bates geskep word, kan transaksies beveilig en die finansiële sektor veiliger maak,” het hy verduidelik. Hy het blokketting se vermoë beklemtoon om akkurate, dispuutvrye rekords te verseker, wat vertroue in finansiële transaksies verhoog. Hy het egter gewaarsku dat regulatoriese raamwerke saam met tegnologiese vooruitgang moet ontwikkel om innovasie met finansiële nakoming te balanseer.

John Sanei, ‘n bekende Toekomsstrateeg vanaf Doebaai.

John Sanei, ‘n bekende Toekomsstrateeg vanaf Doebaai, het die ongemak bespreek wat deur vinnige tegnologiese verandering veroorsaak word en organisasies en individue aangemoedig om hul benadering ten opsigte van transformasie te heroorweeg. “Ons is vasgevang daarin om môre se probleme met gister se oplossings te hanteer, sonder dat ons dit eers besef,” het hy gesê.

Hy het die drie fases van transformasie uiteengesit: om te treur oor die verlede, verwarring, en om nuwe geleenthede aan te gryp. “Vir die volgende vyf tot tien jaar sal ons in die eerste twee fases wees. As ons nie anders en meer positief oor verandering dink nie, sal ons nooit na fase drie beweeg nie.”

Sanei het beklemtoon dat aanpasbaarheid die sleutel is: “Aanpasbaarheidskwosiënt (AK) is die intelligensie van die toekoms. Die tempo waarteen jy van ongemak herstel, sal jou vermoë bepaal om aan te pas.”

Hy het organisasies aangemoedig om hul strategieë te verdeel in twee spanne – ‘vandag’ en ‘môre’. Dit sal verseker dat dat daar ‘n balans is tussen huidige bedrywighede en toekomstige innovasie.

In ‘n paneelbespreking is ondersoek ingestel na Suid-Afrika se posisie in ’n toenemend proteksionistiese wêreldekonomie. Crystal Orderson, Politieke Ontleder, het Afrika se onontginde potensiaal uitgelig en gesê dat die vasteland jaarliks US$100 miljard se voedsel invoer. “Hier is ‘n groot geleentheid vir Suid-Afrikaanse boere. Ons moet begin om ons mag as ‘n handelsvennoot te erken,” het sy gesê.

Wandile Sihlobo, Hoofekonoom van Agbiz, het egter daarop gewys dat Suid-Afrika se primêre landbou-uitvoere – wyn, beesvleis en vrugte – hoëwaarde-produkte is wat baie Afrika-lande nog nie kan bekostig nie. Hy het die behoefte aan sterker ekonomiese groei oor die hele vasteland beklemtoon om verhoogde handel te ondersteun.

Sihlobo het ook opgemerk dat slegs 6% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere na die Amerikas gaan, met net 4% wat die VSA bereik. “Hierdie klein gedeelte is egter noodsaaklik omdat dit gerig is op kommoditeite wat van hierdie spesifieke mark afhanklik is,” het hy gesê.

JP Landman, onafhanklike politieke ontleder, het by die regering gepleit om vir meer vryhandelsooreenkomste te beding, veral met Indië, wat van die hoogste tariewe wêreldwyd het. “Wêreldmag het van die Weste na die Ooste verskuif,” het hy gesê en beklemtoon dat Suid-Afrika sy handelstrategieë dienooreenkomstig moet aanpas en nie ‘n oorbeklemtoning op Amerikaanse markte plaas nie.

Professor Nick Binedell, stigter van die GIBS Sakeskool.

Professor Nick Binedell, stigter van die GIBS Sakeskool, het gevra vir groter nasionale eenheid en verantwoordelikheid om Suid-Afrika se toekoms te vorm. Hy het die private sektor versoek om vertroue in die toekoms te herwin en daarvolgens te belê. “Ons belê nie genoeg nie, want ons het nie vertroue in die toekoms nie. Maar Suid-Afrika het baie positiewe aspekte: ons howe funksioneer, ons het ‘n vrye mediastelsel, ons het wêreldwye handelsmerke ontwikkel en daar is goeie versekeringstelsels. Die glas is halfvol, maar dit is nodig dat ons dit voller maak.”

Hy het afgesluit deur ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners te doen om ‘n aktiewe rol in die land se vooruitgang te speel. “Niemand gun Suid-Afrika die reg om voorspoedig te wees nie. Wie sal na toekomstige welvaart omsien? Ons sal almal. As burgers moet ons betrokke raak, omsien na die belange van soveel as moontlik mense wat ons kan en ons stelsels en instellings herstel. Ons moet ons leiers tot verantwoording roep en optree om die Suid-Afrika te skep wat ons almal verdien.”

Die AgBesigheid Dag by die Africa Agri Tech Konferensie het die dringende behoefte aan tegnologiese innovasie, aanpasbare strategieë en samewerkende pogings versterk om volhoubare groei in die landbousektor te verseker. Met vooruitdenkende leiers aan die stuur van sake, is Suid-Afrika se landboubedryf gereed om die toekoms met veerkragtigheid en doelgerigtheid te omhels.

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0