Aanvulling van die regte voedingstowwe in die winter

Cows in the Hunter Valley, NSW
Deur Alina Taute, Yara Animal Nutrition
Met die nat seisoen wat einde se kant toe staan, raak weidings meer volwasse en neem die kwaliteit daarvan af. Vir die handhawing van optimale gesondheid en diereproduksie is dit nodig om die voedingstowwe wat die weiding nie meer kan verskaf nie, aan te vul.
Inleiding
Die hoofdoel van winteraanvulling behoort te wees om die voedingstowwe wat die veld nie meer kan voorsien nie, aan te vul, om sodoende die benutting van die beskikbare weiding te optimaliseer. Deur dit te doen kan gewigsverliese van teelkoeie tot die minimum beperk word sodat koeie in ‘n relatiewe goeie kondisie kalf en die moontlikheid van herkonsepsie in die volgende seisoen verbeter.
Vroeë winter
Lae kwaliteit wintergras is die oorheersende bron van beskikbare energie vir weidende diere. Wanneer gras volwasse begin word, neem die veselinhoud daarvan toe, terwyl die proteïeninhoud afneem. Dit lei tot ‘n laer inname van gras en dus neem die dier se totale energie inname ook af aangesien die veselfraksies onsmaaklik en moeiliker verteerbaar is. Vroeë winterveld kan dan nie meer in die koei se behoeftes voorsien nie en dit word nodig om die veld met ‘n proteïenlek aan te vul.
Proteïenaanvulling is een van die duurste komponente van ‘n lek en die uitdaging vir boere is om die regte hoeveelheid proteïene te verskaf teen die laagste moontlike koste. Rumen mikrobes het ‘n sekere basiese behoefte aan proteïen (stikstof) wat hulle in staat stel om die ingeneemde gras te verteer. Die aanvulling van die regte hoeveelheid proteïen is dus noodsaaklik om maksimum weidingsinname en dus energie verskaffing aan die dier, te bewerkstellig.
Vanweë die herkouer se vermoeë om ureum (‘n nie-proteïen –stikstof) om te skakel na hoë kwaliteit mikrobiese proteïen, kan die meeste van die natuurlike proteïene in lekke vervang word met ureum. As duimreël kan 2.5 kg swael per 50 kg ureum bygevoeg word. Die byvoeging van ‘n maklik verteerbare energiebron soos Kalori 3000 of melassemeel is verder nodig vir die optimale benutting van ureum (sien Tabel 1 vir vroeë winterlekke).

Laat winter
Soos wat die winter vorder, begin die beskikbare weiding afneem. Nie net is die kwaliteit van die weiding op sy laagste nie, maar ‘n tekort aan weiding sal ook veroorsaak dat die diere ‘n energietekort ondervind. Gedurende laat winter/vroeë lente, is koeie laat dragtig of lakterend en jong diere groei vinnig. Die energiebehoeftes van hierdie diere kan die energie voorsiening van die veld oorskry en dit is dan nodig om saam met die proteïen aanvulling ook energie aan te vul.
Tabel 1: Vroeë en laat winter aanvullings vir beeste
| Grondstof | Kg/mengsel | ||||||
| Vroeë winter sonder oliekoek | Vroeë winter met oliekoek | Laat Winter | |||||
| Mielies Oliekoek Voergraad Ureum Kimtrafos 12 Grande/PhosSure 12 Kalori 3000 Voergraad Swael Sout | 250 – 150 150 50 7 350 | 250 100 150 150 50 7 350 | 300 300 100 75 25 5 300 | ||||
| TOTAL | 957 | 1057 | 1105 | ||||
| Beraamde Samestelling (As is basis) | |||||||
| Proteïen (%) Energie(MJ/kg) Kalsium (%) Fosfaat (%) | 47.5 3.8 4.1 2.0 | 46.6 4.4 3.7 1.9 | 38.7 6.6 1.8 1.1 | ||||
| Inname, g/koei/dag | 350-500 | 350-500 | 500-600 | ||||
*Mielies kan vervang word met Hominy Chop of Melassemeel (1:1). Onthou egter dat Melassemeel smaaklik is en dat innames gereguleer moet word.

Fosfaataanvulling gedurende die winter
Die belangrikheid van fosfaat in dierevoeding kan nie oorbeklemtoon word nie. Fosfaat is teenwoordig in alle liggaamsselle en is essensieël vir verskeie metaboliese prosesse in die liggaam. Hoewel fosfaat primêr ‘n natseisoen aanvulling is, moet dit nogtans gedurende die winter aangevul word.
Opsomming
Die belangrikheid van winterlekke moet nooit onderskat word nie. Lek aanvullings is duur en dit is daarom belangrik om te weet watter voedingstof gedurende watter winterperiode ‘n tekort is, sodat die regte voedingstof op die regte tyd aangevul kan word. Die uitgawes wat aangegaan word vir die aankoop van lekke gedurende die winter, sal beloon word in terme van verhoogde melk produksie, kalfpersentasie en beter herkonsepsie in die volgende seisoen.
Vir verdere inligting kontak Alina Taute by alina.taute@yara.com.