Aanplant van doringlose turksvye as alternatiewe veevoer: Deel 2

09910d35-4dc6-42f2-8e25-243f769e4f9a copy
In Deel 1 van Aanplant van doringlose turksvye as alternatiewe veevoer het ons die waarde van hierdie veelsydige plant as voerbron ondersoek — van sy voedingswaarde tot die metodes van benutting.
In hierdie tweede aflewering van die reeks fokus ons op die praktiese aspekte van aanplanting: watter kultivars geskik is vir spesifieke doeleindes, watter klimaattoestande ideaal is vir optimale groei, en die bewerkingspraktyke wat ’n gesonde en volhoubare oes verseker. Hierdie kennis is noodsaaklik vir enige boer wat die volle potensiaal van doringlose turksvye wil ontsluit.
Keuse van kultivars
Wanneer doringlose turksvye vir veevoer verbou word, is dit noodsaaklik om kultivars te kies wat ’n hoë opbrengs van sowel blaaie as vrugte kan lewer. Die keuse van geskikte kultivars vorm die grondslag van ’n suksesvolle aanplanting, aangesien daar beduidende verskille in produksie tussen die verskillende variëteite bestaan. Oes van die meeste vrugte vind gewoonlik tussen Desember en Februarie plaas.
Dit is belangrik om in ag te neem dat die prestasie van kultivars van streek tot streek kan wissel. Daarom is dit raadsaam om aanvanklik met verskillende kultivars op klein skaal te eksperimenteer voordat groot aanplantings gedoen word. Sommige kultivars, soos Fusicualis en Fresno, lewer weliswaar minder vrugte as ander, maar produseer aansienlike hoeveelhede blaarmateriaal. Dít kan hulle besonder geskik maak vir gebruik as veevoer, aangesien dit bestuur en hantering kan vergemaklik. Let egter daarop dat plantmateriaal vir hierdie spesifieke kultivars tans beperk beskikbaar is.
Klimaat- en grondvereistes
Doringlose turksvye toon goeie aanpassing by uiteenlopende klimaattoestande. Hoewel die plante kan oorleef met jaarliks so min as 200 mm reën, word aanvullende besproeiing aanbeveel in gebiede waar reënval minder as 300 mm per jaar is, om optimale groei te ondersteun.
Jong aanplantings is geneig om meer sensitief vir koue te wees, veral wanneer temperature tot onder -7 °C daal. Volwasse plante is gewoonlik meer bestand teen koueskade. Dit is wys om aanplantings in laagliggende gebiede te vermy, aangesien hierdie plekke meer vatbaar is vir ryp.
Wat grondvereistes betref, is turksvye redelik aanpasbaar en kan op verskeie grondtipes groei, mits die grond goed gedreineer is. Hulle presteer egter swak op grond met hoë soutinhoud. Die ideale gronddiepte is minstens 300 mm, en hoe beter die grondgehalte, hoe beter is die opbrengs. Om maksimum fotosintese en groei te verseker, behoort plante in gebiede gevestig te word waar hulle dwarsdeur die dag direkte sonlig ontvang.
Bewerkingspraktyke
Dit is noodsaaklik is om die grond voor te berei voor plant – dit is voldoende om die rye wat geplant gaan word met ‘n eentand-skeurploeg los te maak, minstens 300 mm diep. Dit is noodsaaklik om die plante te bemes. Waar die klem op voerproduksie val, is dit belangrik om voldoende stikstof toe te dien. Dien ‘n klein hoeveelheid kunsmis toe wanneer die blad geplant word.

Figuur 1: Tien jaar kumulatiewe kladodeproduksie te Waterkloof, Bloemfontein. (Erkenning: Dr Herman Fouché en Universiteit van die Vrystaat).
Nadat die blaaie in die vroegsomer gevat het, kan nog kunsmis toegedien word. Dit is uiters belangrik om elke jaar in die lente of vroeg in die somer kunsmis toe te dien. Dit is belangrik om kunsmis te gebruik wat uitgestrooi en op die grond gelos kan word sonder dat dit vlugtig word en die stikstof verlore gaan, veral waar plante nie besproei word nie en kunsmis eers in die grond sal inwas met die eerste reën na toediening. Dit is belangrik om blaaie te wat
ontsmet is aan te plant om die onnodige oordrag van siektes in jong boorde te verhoed. Blaaie moet vir minstens twee weke nadat dit gesny is eers gebêre word ten einde die snoeiwond kans te gee om behoorlik te genees.
Plant blaaie regop met die wond na onder. Die helfte van die blad moet bo die grond uitsteek. Let op dat baie blaaie vruggies saam met hulle nuwe blaaie sal vorm. Die vruggies moet in die eerste jaar afgebreek word om die plant geleentheid te gee om al sy reserwes vir blad- en wortelontwikkeling te gebruik. Rye moet verkieslik nood/suid
georiënteer wees vir optimale blootstelling aan die son. Die rywydte moet 5 meter wees (vir beweging tussen die rye met voertuie) en die spasiëring binne die rye moet tussen 3 (666 plante per ha) en 2 meter (1 000 plante per ha) wees.
Drupbesproeiing werk goed weens die vlak wortelstelsel van die gewas. Dit het ook ʼn voordeel in baie vlak gronde, maar daar moet ook gewaak word teen oorbesproeiing. As die grond droog is met aanplanting word aanbeveel dat die blaaie na so twee tot drie weke water gegee word. Dit help met wortelvorming en gee die plante kans om hulle sterk genoeg te vestig voor die winter.
Die optimale planttyd is vanaf September tot November, om die nuwe blaaie wat vorm genoeg tyd te gee om sterk te word voor die volgende winter. Doringlose turksvye bied groot potensiaal as alternatiewe veevoer, mits die regte kultivars gekies en die aanplanting volgens toepaslike praktyke bestuur word. Klimaat- en grondtoestande speel ’n sleutelrol in die sukses van die aanplanting, en dit is belangrik om elke aspek van vestiging en versorging noukeurig te beplan.

Figuur 2: Tien jaar kumulatiewe vrugproduksie te Waterkloof, Bloemfontein. (Erkenning: Dr Herman Fouché en Universiteit van die Vrystaat).
In die volgende deel van die reeks gaan ons fokus op belangrike bestuursaspekte soos plaag- en siektebeheer, die hantering van onkruid, asook doeltreffende snoeipraktyke wat bydra tot gesonde en produktiewe plante.
Vir enige ander navrae, besoek Witkraal Boerdery se webwerf by www.witkraal.co.za.
Bronverwysing
Witkraal. (2022, Maart). Turks¬vye as veevoer [PDF]. Witkraal Boerdery