Categories: Artikels, Vee en Wild, VeilingsPublished On: 18th August 2025

Aanpasbare en gehalte Dormers wag by Hatari Farming se produksieveiling

By 2 min read
425 words

533421363_1416389979902445_1626212217286971661_n

Dormerboere kan regmaak vir ’n veiling van formaat wanneer Hatari Farming saam met Gras Karoo Dormers en 2 Broers Dormers op 20 September hulle beste genetika aanbied. Op die plaas Content in Bainsvlei buite Bloemfontein wag ’n aanbod wat elke boer se behoeftes sal aanspreek – van stoetramme- en ooie tot kommersiële diere wat dadelik waarde kan toevoeg op die plaas.

Marius Eksteen, mede-eienaar van Hatari Farming saam met sy broer Jan, nooi boere uit alle windstreke hartlik uit: “Ons sien daarna uit om almal te verwelkom. Kom kuier saam, kom kyk na die skape – ons glo dat die diere wat aangebied word, aan elke koper se behoeftes sal voldoen, van stoet tot kommersiële diere.”

Die veiling spog met ’n uitsonderlike aanbod uit drie gevestigde stoete:

  • Hatari Farming (Bainsvlei, Bloemfontein),
  • Gras Karoo Dormers (Venterstad/Burgersdorp),
  • 2 Broers Dormers (Barkly-Oos).

Saam bied hulle 50 SP Dormerramme, 50 SP Dormerooie en 300 kommersiële ooie aan.

Volgens Steyn Stenekamp van Gras Karoo Dormers, is dit ’n groot voorreg om as groep saam te werk. “Ons is al van skooldae af vriende en het ’n paar jaar gelede besluit om gesamentlik veilings aan te bied. Ons deel almal dieselfde passie vir Dormers en vir boerdery, en saam maak ons, ons hand sterker vir ons kliënte. Vir ons is dit belangrik om ’n aanpasbare dier te kan aanbied – ramme en ooie wat boere in verskillende omstandighede kan gebruik, sonder dat hulle verdere koste of moeite verg.”

Hy verduidelik verder dat al die diere vir die veiling by Gras Karoo se tuiste in die Oos-Kaap grootgemaak word, waarna prestasietoetse gedoen word. Dit versterk nie net die genetiese poel nie, maar verseker ook dat die diere bewys het hulle kan aanpas en presteer.

“Ons het oor die jare geleer dat ons grootste kopers kommersiële boere is. Hulle soek ramme en ooie wat dadelik waarde kan toevoeg op die plaas, sonder ekstra onkostes, en wat terselfdertyd finansieel lonend is. Dít is presies waarna ons streef in ons drie stoete – aanpasbare diere wat werklikwaar presteer,” sê Steyn.

Boere wat hierdie veiling bywoon, kan dus uitsien na topgehalte Dormers wat geselekteer is om aan die mark se behoeftes te voldoen.

Hatari Farming en die res van die groep sien uit daarna om een en elkeen by hulle komende veiling te verwelkom. Die veiling word aangebied deur BKB en aanlyn deur SwiftVee.

 

Vir enige navrae kontak:

Marius Eksteen | 082 561 2917

Steyn Steenkamp | 082 438 8991

Tjaart Steenkamp | 072 313 2232

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0