90% kans vir ‘n La Nina-verskynsel

weer 1
Deur Johan van den Berg, Onafhanklike Landbouweerkundige (M.Sc Agric, Landbouweerkunde, UFS)
Dit is nou meer as 90% seker dat ‘n La Nina-verskynsel gaan heers tot ten minste Maart 2022. Die intensiteit lyk ook ten minste matig tot matig/sterk.
Reënvalvooruitsigte is gunstig vir die eerste deel van die somer oor die oostelike dele en meer na die mid- tot laatsomer oor die westelike dele maar daar kan reeds enkele reënstelsels in November meer weswaarts voorkom.
1. Huidige toestande
Redelike goeie somerreënval het in Oktober 2021 begin voorkom maar daar het steeds ook reën in die Winterreënvalgebied voorgekom. Vir die eerste keer in baie jare het betekenisvolle reën in die baie droë suidwestelike dele van die Noord-Kaap asook aangrensende gebiede van die Wes- en Oos-Kaap voorgekom in die laaste deel van Oktober. Meer as 20mm het ook voorgekom in die Kalahari op plekke soos Askham en Vanzylsrus en meer as 50mm op Upington en 25mm op Augrabies.
Verder suid in die Boesmanland en Karoo op plekke soos Pofadder (48mm), Williston (45mm), Brandvlei (33mm) en Calvinia (19mm) het dit ook goed gereën. Redelike swaar neerslae het ook in die Wes-Kaap voorgekom tussen 18 en 24 Oktober soos Malmesbury 30mm, Villiersdorp 57mm en Paarl 24mm maar meer belangrik is die reën wat in die Kleinkaroo voorgekom het soos Ladismith (57mm), Oudtshoorn (41mm) en Laingsburg (21mm). Aberdeen, Willowmore en Joubertina in die Oos-Kaap het ook omtrent 20mm gekry wat die eerste betekenisvolle reën in ‘n lang tyd is.
Rypskades het in die tweede en derde week van Oktober voorgekom in die suidwes Vrystaat sowel as dele van die Noord-Kaap wat skade aan druiwe, winterkoring en pekanneute veroorsaak het.
Die brandgevaar bly baie hoog in die westelike grasveldgebiede as gevolg van hoë temperature en sterk winde. Alhoewel daar plek-plek reën voorgekom het, bly die brandgevaar baie hoog.
Die vlak van opgaardamme in die Somerreënvalgebied is oor die algemeen baie goed met damme in die Vrystaat omtrent nog gemiddeld 90% vol met die Gariep- en Vaaldam op meer as 80% vol en die Vanderkloofdam op 94%. Daar is vanjaar ‘n baie groot vloedrisiko indien swaar reënneerslae voorkom in die opvanggebiede van die groter opgaardamme want die bufferkapasiteit van damme is min. Sommige damme in die Oos-Kaap bly op kritieke lae vlakke of byna leeg met die Koegadam op slegs 6.5% wat ‘n geringe verbetering begin toon teenoor vorige maande. Wes-Kaap se damme is op baie gunstige vlakke en gemiddeld 81% vol maar die reënseisoen is byna verby.
Die watervlak van die Karibadam is op 35% teenoor 28% verlede seisoen dieselfde tyd terwyl die Katzedam in Lesotho op 66% is en die Mohale dam op 32% wat beter is ‘n maand gelede. Die Hardapdam in die suide van Namibië is op 55% van vol volume.
2. ENSO en Indiese Oseaan
2.1 ENSO (El Nino Suidelike Ossilasie)
Al die Nino-gebiede met die uitsondering van Nino1+2 is tans meer as 0.5°C koeler as normaal. Die waarskynlikheid vir ‘n volskaalse La Nina van nou af tot in Maart/April 2022 is meer as 90% met die verwagte intensiteit ongeveer dieselfde of selfs sterker as in 2020/21. Verder lyk dit ook asof die draaipunt later as in die vorige seisoen toe dit ongeveer einde November begin draai het, bereik gaan word teen Desember/Januarie. Die later draaipunt is betekenisvol want dit kan beteken dat die somerreënval langer kan aanhou en ook verder weswaarts kan uitbrei.
Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) as indikator van die invloed van see-oppervlaktoestande op oorliggende weerstelsels in die Nino-gebiede, bly ook in ‘n positiewe fase of La Nina-neigend vir die vierde agtereenvolgende maand.
2.2 Indiese Oseaan
Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) is steeds op die grens van ‘n negatiewe fase, hoofsaaklik as gevolg van verwarming wat in die oostelike Indiese Oseaan nader aan Australië begin plaasvind het en verdere afkoeling teen die Afrika kus. Hierdie opstelling van see-temperature veroorsaak dat die Indiese Oseaan Hoogdrukstelsel verder weswaarts oor die westelike Indiese Oseaan nader aan die Afrika kuslyn geleë is asook oor die Ooskusgebiede van Afrika noord van Mosambiek.
3. Reënval- en klimaatsvooruitsigte
3.1 Somerreënvalgebied
Reënval
Met die versterkende La Nina en die piek wat later bereik kan word as in die vorige seisoen, is die reënvalvooruitsigte baie gunstig vir die somerseisoen. Die terugkeer van die Indiese Oseaan Dipool (IOD) na die negatiewe fase na ‘n kortstondige neutrale fase, sal ook reënvalwaarskynlikhede vergroot. Die verspreiding van reën oor tyd gedurende die seisoen asook die geografiese verspreiding is moeiliker om te voorspel want daar gaan natter en droër periodes in verskillende gebiede in Suid-Afrika wees.
Op sy eie is ‘n La Nina-verskynsel gewoonlik verantwoordelik vir bogemiddelde reënval vanaf November tot die eerste deel van Januarie oor die oostelike dele met droër toestande rondom Februarie en Maart terwyl die reënseisoen meer vanaf die einde van Desember tot einde Maart oor die sentrale tot westelike dele is met die droë periode aan die begin van die somerseisoen. Met die huidige opstelling van seetemperature in die Indiese Oseaan waar koeler water nader aan die Afrikakuslyn is, is die vog en reën meer gekonsentreer oor Wes- en Sentraal Afrika wat ‘n hoër kans vir reën oor die westelike dele van Suidelike Afrika kan meebring asook vroeër reën.
Dus word gemiddelde tot bogemiddelde reënval verwag oor die sentrale tot oostelike dele van Suid-Afrika wat ‘n piek kan bereik in Desember. Verbeterde reënvaltoestande kan weswaarts uitbrei oor die sentrale tot westelike dele vanaf Desember tot Maart.
Temperatuur
Met die uitsondering van ‘n paar baie warm dae in die tweede week van Oktober, is temperature oor die algemeen gemiddeld tot ondergemiddeld. Hierdie tendens behoort voort te duur oor die sentrale tot oostelike dele omdat daar steeds koue lug in sirkulasie is maar ook as gevolg van reën en meer bewolkte toestande. Minimumtemperature tussen 10°C en 15°C word verwag tot ten minste die middel van November en dit kan veroorsaak dat grondtemperature ondergemiddeld is wat ongunstig is vir goeie ontkieming van somergewasse wat nou geplant moet word.
3.2 Winterreënvalgebied
Redelike sterk frontale stelsels bly prominent en kan ligte reën veroorsaak in die laaste deel van Oktober asook eerste deel van November oor die grootste deel van die Winterreënvalgebied. Dit is nie goeie nuus vir wintergraanboere wat in die piek oesseisoen van koring is nie en kan die reën en hoë lugvog kwaliteitsprobleme veroorsaak.
Met die ontwikkeling van ‘n La Ninaverskynsel is dit baie moontlik dat somerreënval kan voorkom in die mid- tot laatsomer as gevolg van somerstelsels wat baie ver weswaarts oor Namibië en die Nood-Kaap suidwaarts beweeg.
3.3 Namibië
Ligte neerslae van tussen 10mm en 20mm is moontlik in die laaste week van Oktober oor die noordelike en oostelike dele. Min reën word verwag vir bykans die land tot in die laaste week van November. Reënvalvooruitsigte lyk baie goed vanaf ongeveer Desember tot Maart.
Baie warm toestande gaan heers vir die grootste deel van November.
4. Opsomming en samevatting
- Die waarskynlikheid dat ‘n La Nina-verskynsel gaan voorkom het gestyg tot meer as 90% en ‘n matige tot sterk La Nina is nou moontlik. Dit lyk na dieselfde of sterker intensiteit as in 2020/21.
- Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) indeks het teruggekeer na ‘n swak negatiewe fase wat ook positief is vir somerreënval.
- Dus word gemiddelde tot bogemiddelde reënval verwag in die sentrale tot oostelike dele in die eerste deel van die somer met goeie toestande wat weswaarts kan uitbrei in die mid- tot tweede deel van die somer.
5. Vrywaring:
Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skades in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.