Categories: Artikels, Meganisasie, WielePublished On: 8th July 2026

2026 TOYOTA HILUX – Taaier en beter as ooit

1270 words

f8b3a2fb-02ee-409c-9af4-f8b124b23e19

Toyota Suid-Afrika het einde Junie 2026 die 9de generasie van sy immergewilde Hilux-bakkie in ‘n asemrowend mooi Namibië bekendgestel en ons was daar.

Na ongeveer 1000 kilometer se vinnige sout en grondpaaie was ons dit eens – die 2026 Hilux is ongetwyfeld die beste op hierdie oppervlaktes en ritomstandighede wat enige van die vorige 8 generasies  Hilux bakkies kon lewer.

Hilux is nie net Toyota se suksesverhaal in Suid-Afrika in terme van verkope nie, maar was ook vir baie besighede, boere en avontuur en veldry liefhebber ‘n vertrouensvennoot oor meer as 6 dekades. Dit is seker die model wat plaaslik die hoogste lojaliteitsaanhang geniet.

Juis daarom was dit vir Toyota belangrik dat die 9de generasie ontwikkel word om die groeiende behoeftes van ‘n meer modern en jonger klient aan te spreek sonder om dit wat die Hilux eienaar oor dekades aan verknog geraak het, na te laat. Die gevolg is ‘n taaier, veiliger, maar meer modern Hilux as ooit.

Ontwerp en voorkoms

Ons was bevoorreg om die Taiwanese hoofontwerper van die nuwe Hilux te ontmoet en kon oor aandete heerlik en insiggewend gesels oor die nuwe ontwerpfilosofie konsep wat Toyota  ”Cyber Sumo” noem waar “Cyber” die klem plaas op die groeiende belangrikheid van gevorderde tegnologie, “connectivity” en digitale integrasie by moderne mobiliteit. “Sumo” weer verteenwoordig stabiliteit, sterkte en taaiheid wat oor jare deur Hilux gevestig is. Hierdie twee beginsels kombineer dus Hilux se bewese taaiheid en betroubaarheid met ‘n toekomsgerigte moderniteit.

Die vooraansig van die 2026 Hilux is geskoei op die ontwerptaal van die nuwe generasie RAV en Corolla Cross waar smaller LED hoofligte en ‘n breër, meer prominente sierrooster nou visueel sterker na vore tree.

Nuwe sierwiel ontwerpe, insignia en ligontwerpe beklemtoon die meer moderne voorkoms.

Agter is daar nuwe LED ligte, herontwerpte agterklap asook ‘n praktiese sytrap wat in die bak ingebou is. Die herontwerpte rolstaaf agter die kajuit onderstreep die sportiewe kenmerke  van die nuwe dubbelkajuit Hilux Legend model.

Meer modern kajuit

Die grootste vernuwing en transformasie by die 2026 Hilux is egter binne die kajuit waar  gefokus is op goeie ergonomiese ontwerp, nuwe en verbeterde tegnologie asook  aansienlike verbeteringe ten opsigte van gerief.

Die horisontale voorpaneel en verbeterde uitleg het sterk ooreenkomste met die nuwe generasie Toyota Land Cruiser Prado waar klem gelê is op gebruikersvriendelike interaksie, ‘n goeie mengsel van digitale en fisiese skakelaars  asook sigbaarheid.

Verder bied die herontwerpte voorste sitplekke uitstekende ondersteuning en heerlike gemak. Verbeterde en hoë gehalte bekleedsel waaronder sagte aanraking waar voorheen harde plastiek was, bring ‘n luukser en meer verfynde ambiaans na die kajuit. Herontwerpte stoorplekkies asook meer USB koppelpunte in die kajuit is ‘n definitiewe pluspunt.

Die Legend topmodel waarmee ons tydens die bekendstelling gery het, biied ondermeer ‘n vol digitale 12.3 duim instrumentehuls asook ‘n 12.3 duim infotainment raakskerm in die middel van die voorpaneel wat koordlose laai en koppeling met slimfone danksy Android Auto en AppleCarPlay bied. Een van die groot verbeterings by die 9de generasie Hilux is die omvattende en gevorder skakeling met die voertuig se ekostelsel deur middel van Toyota Remote en MyToyota toepassings waar eienaars toegang het om sekere stelsels van die Hilux te bestuur, soos ondermeer om die voertuig se status oor ‘n afstand te monitor, oop en/of toe te sluit, die voertuig in groot parkeerruimtes te “vind”, ens, ens.

Die nuwe Hilux is die mees gevorderde Hilux ooit in terme van veiligheid en bestuurderhulpstelsels en bied ‘n omvattende boeket van gevorderde tegnologie aan bestuurders danksy Toyota se jongste  Safety Sense 3 veiligheidsplatform met ‘n lang lys van veiligheids- en hulpstelsels om maksimum beskerming aan insittendes te bied onder verskeie rytoestande.

Enjin en kraglewering

Toyota Motors SA het die 9de generasie reeks vereenvoudig  en het tydens die bekendstelling slegs gefokus op 4 modelle waarvan almal toegerus word met die beproefde 2,8 GD-6 turbodiesel viersilinder enjin wat 150kW/500Nm se piekkragte lewer.

By al die modelle word krag na die wiele stuur via ‘n 8-gang outomatiese ratkas.

Die volgende modelle in die huidige reeks is bekendgemaak:

  • SRX 2.8 GD-6 –As intree model vir beste waarde as dubbelkajuit  in beide agterwiel en 4-trek weergawes
  • RAIDER 2.8 GD-6 – As brug tussen werk en leefstyl gebruik beskikbaar as dubbelkajuit  in beide agterwiel en 4-trek weergawes
  • RAIDER X2.8 GD-6 – Hoër vlakke van tegnologien en beter vermoë op pad en in veld. Beskikbaar in Dubbelkajuit en Xtra Cab in beide agterwiel en 4-trek weergawes
  • LEGEND 2.8 GD-6 MHEV – Topmodel met premium afwerking vir luukse leefstyl en toegerus met die 48-volt Mild Hybrid tegnologie.Beskikbaar slegs as dubbelkajuit in beide agterwiel en 4-trek aandrywing.

Toyota Motors SA het intussen bekendgemaak dat ‘n 2.4GD-6 model met ‘n 6-spoed hantratkas in agterwiel en 4-trek weergawes binnekort by die reeks gevoeg gaan word.

Paddinamika en hantering

Tydens ons geselsie met die Taiwanese projekingeneur het sy (jy het reg gelees die nuwe Hilux is in Taiwan ontwikkel en die hoof projekingeneur is ‘n vrou!) verduidelik dat hulle aaneenlopende navorsing  sekere kritiek van eienaars van die vorige generasie Hilux bakkie in terme van kajuitgerief en verfyndheid  ter harte geneem.Hulle het dus probeer om so omvattend moontlik met die nuwe model die  kajuit en ritgerief te verbeter en dan ook die vlakke van moderne tegnologie te verhoog sonder om enigsins die Hilux se bewese taaiheid, betroubaarheid en werkvermoë te benadeel.

Toyota ingeneurs het gevolglik omvattende verbeteringe aan die nuwe Hilux se veer- en stuurstelsels gedoen en ook die monteerpunte verbeter terwyl hulle spesifiek aandag gegee het om die hantering, dinamika en padgedrag op veral grondpaaie te verbeter, ‘n aspek wat veral in Suid- en Suider-Afrika tersaaklik is.

Danksy onderstel en veerstelsel verbeterings, verfyning van die stuurkalibrasies met fokus op slegs elektriese insette en terugvoer, was die resultate opmerklik en indrukwekkend beter en nêrens meer opvallend en oortuigend nie, as tydens die baie kilometers wat ons teen hoër as die normale spoed  op die lang en swiepende sout- en grondpaaie van Namibië afgelê het.

Die nuwe Hilux se verbeterde stuurgevoel, uitstekende greep en stabiliteit deur los sand, oor ongelyke padoppervlaktes en deur (soms onverwagte) waterdyke was meer net as net oortuigend, dit was ‘n aangename en indrukwekkende openbaring. Die witjasse het ook  kajuitisolasie en monteer rubbers van die enjin verbeter om vibrasie en geraas in die kajuit te verminder.

Opsomming

Luukse bakkies is deesdae peperduur en kliente dring aan op groter luuksheid, beter  en meer moderne toerusting waaronder  slimmer, veiliger en meer omvattende gevorderde hulpstelsels vir bestuurders met voertuie wat meer ekonmies is op brandstof.

Ten spyte van kritiek dat die “nuwe Hilux” steeds met ‘n “vorige generasie” enjin aangedryf word, voel en ry die 9de generasie Hilux soos ‘n geheel nuwe model. Met omvattende vernuwing en tegnologie, ‘n moderne prakties funksionele luukse kajuit en onverbeterlike hantering en paddinamika op grondpaaie, bied die 2026 Hilux steeds al die bewese aspekte  wat Hilux se reputasie oor 8 generasies legendariese status laat verdien het.

Na my ervaring in Namibië tydens die bekendstelling van die 2026 Toyota Hilux  dubbelkajuit is ek oortuig, na meer as 50jaar se ervaring met Hilux (en nee ek besit vir die afgelope 25jaar nie ‘n Hilux nie, maar ek toetsbestuur gereeld een), dat die 9de generasie Hilux die BESTE Hilux is wat ek ooit bestuur het. Dis nie ‘n bakkie nie – DIS ‘N HILUX!

Prys en waarborge

Xtra-kajuit

2.8 GD-6 RB Raider X 6AT – R751 800

2.8 GD-6 4×4 Raider X 6AT – R842 200

Dubbelkajuit

2.8 GD-6 RB SRX 6AT – R658 500

2.8 GD-6 4×4 SRX 6AT – R746 100

2.8 GD-6 4×4 Raider X 6AT – R892 900

2.8 GD-6 RB Legend 6AT MHEV – R945 500

2.8 GD-6 4×4 Legend 6AT MHEV – R999 900

Ingesluit by die nuwe Hilux se prys  is ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg en ‘n 9 diens /90 000 km diensplan waarvan die diensintervalle elke 10 000km moet plaasvind.

Die battery vir die 48V hibriede stelsel word gedek deur ‘n  8 jaar/195 000  km waarborg.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0