Categories: Artikels, Meganisasie, WielePublished On: 5th December 2025

2025-oesjaar: Motor-uitskieters

2875 words

f08a82d6-13e6-49f0-b4f2-4b389d8ffb04

GWM P300 2.4TD

Plaaslik het 2025 inderdaad ’n ryk oes gelewer van nuwe modelle met veral die aanbiedinge uit China wat met eerste oogopslag goeie waarde vir geld bied. Die eens gesogte handelsname van bekende vervaardigers uit Europa wat oor die jare heen uiters gewild was en slegs beskore vir die meer gegoedes, het reeds 10 jaar gelede populariteit begin verloor, grootliks weens hul duur prysetiket. Vandag is die aanvraag na hierdie voertuie nie noemenswaardig nie.

Hier aan die suidpunt van Afrika kraai bakkies steeds koning. Hierdie segment word ook oorheers deur Chinese modelle vanweë die ongeëwenaarde pryse wat hulle aan Suid-Afrikaanse kopers, wat bakkies nie kan weerstaan nie, bied.

Wat ook duidelik blyk is dat sedanvoertuie wêreldwyd nie meer gewild is nie as gevolg van ’n voorkeur vir kompakte sportnutse – en omdat elektriese voertuie nog nie vastrapplek in Suid-Afrika gekry het nie. Die res van die wêreld stel nie veel belang in dieselaangedrewe voertuie nie; kleiner petrolenjins met turbo-aanjaging geniet tans voorkeur.

Kom ons kyk na enkele van die nuwe en opgedateerde voertuie wat in 2025 plaaslik bekend gestel is met die uitskieters (na ons mening) in elke onderskeie kategorie.

  • Dubbelkajuit bakkies

Uitskieter! GWM P300 2.4TD

Ons reken hierdie voertuig is die beste dubbelkajuitbakkie wat in 2025 bekend gestel is. Die GWM P300 2.4TD is ’n viersilinder-2.4-liter-turbodiesel wat 135 kW en 480 Nm bied – toegerus met n negegang-outomatiese ratkas. Die bakkie is permanent in 4×4-modus.

Die ryding is goed geprys met ’n goeie waarborg- en diensplan, gerugsteun deur die beste Chinese vervaardiger in Suid-Afrika (na ons mening).

Nie net bied die P300-dieselbakkie  ’n ruim, luukse en gemaklike kajuit wat uitstekend afgewerk is nie, maar kom dit ook standaard toegerus met die jongste aktiewe en passiewe veiligheidstelsels en bestuurdershulp. Dis ook nie te versmaai dat die voertuig meer as R200 000 minder kos as sy kompeteerders wat nie noodwendig so omvattend toegerus is nie. Die bakkie bied goeie brandstofverbruik en is boonop ook uiters bekwaam in die veld. Prys: R699 900

Foton Tunland V7 en V9

Hierdie voertuig is pas in Suid-Afrika bekend gestel en sorg reeds vir groot opwinding. Die Tunland se 2.OTD-dubbelkajuit dryf deur die agterwiele of al vier. Krag en wring van 120 kW en 390 Nm kom uit ’n Cummins-viersilinder-turbodiesel.

Dié Chinees-vervaardigde rondritser spog met ’n agtspoed-ZF-outokas, ’n Eaton-ewenaarslot asook Bosch-elektronika.Goeie veiligheidstoerusting behels onder meer ses lugsakke, elektroniese remdrukverspreiding en ABS-remme. Prys: Tussen R400 000 en R600 000

BYD Shark 6 Premium

Hierdie ratse (pad)haai maak gebruik van ’n 1.5-viersilinder-turbo-petrolenjin en is ’n PHEV-inprop-hibriede voertuig. Dus gooi hierdie dubbelkajuitbakkie 321 kW en 650 Nm uit.

Volgens BYD, kan die Shark ’n 0-100 km/h snelren in 5,7 sekondes voltooi. Hoewel die brandstofverbruik gemiddeld was, lewer die indrukwekkende bakkie ’n maksimum reikafstand van 760 km vanweë sy bykomende 29,6 kWh-battery en 70 liter-brandstoftenk. Die kajuit is uitstekend toegerus met hoëgehalte standaard toerusting.

Hoewel die grondvryhoogte 230 mm is, is veldry minder doeltreffend weens die afwesigheid van ’n laestrek-funksie. Prys: R959 900

Toyota Hilux Legend 55

Hierdie betroubare bakkie is steeds die gewildste voertuig in Suid-Afrika en kraai al 10 jaar koning as die land se topverkopervoetuig met uitstekende inruilwaarde.

Dit bied 150 kW en 500 Nm se wringkrag deur die 2.8-liter-viersilinder-turbodiesel, gekoppel aan ’n sesgang- outomatiese ratkas. Hierdie veilige keuse kort egter vernuwing. Prys: R935 900

VW Amarok 2.3 Panamericana

Die opgedateerde model beskik oor ’n viersilinder-turbopetrolenjin wat 222 kW krag en 452 Nm wringkrag lewer. Die petrolaangedrewe Amarok is tans net in die Panamericana-afwerkingsvlak beskikbaar.

Uitstekende bougehalte en verrigting met ’n supergladde tiengang-outokas sonder hierdie bakkie uit. Ongelukkig sukkel Amarok om goeie verkope in plaaslik aan te teken. Prys: R1 099 000

  • Bekostigbare kompakte motors

Uitskieter! Suzuki Dzire 1.2GL+

Die Suzuki DZire het ons tydens die toetsperiode beïndruk. Die nuwe Dzire beskik oor ’n onaangejaagde 1.2-liter-driesilinderenjin met 60 kW wring en 112 Nm wringkrag. Die luukse 1.2GL+ bied ook die keuse van ’n CVT-tipe ratkas.

Aangesien die kajuit baie ruim is, kan dit gemaklik vyf passasiers akkommodeer. Die sitplekke is gerieflik met genoeg skouer-, kop- en beenspasie vir al die insittendes. Verder is die kajuit goed afgewerk sowel as toegerus gegewe die prys – met ’n uiters groot bagasieruim (378 liter) vir hierdie segment.

Die rit voel verbasend gemaklik, selfs op grondpaaie, met goeie greep en stabiliteit. Verder is die enjin gewillig en die ratkas se oorgooie stel beslis die standaard in sy klas. Hoewel die amptelike brandstofverbruik op 4,4 liter/100 km aangedui word, kon ons gemaklik tussen 4,5 en 4,8 liter/100 km handhaaf.

Die klein Japanees verdien sy uitskieterstatus. Prys: R246 900 (handrat)

BYD Atto 1(ook bekend as BYD Dolphin Surf Dynamic)

Hierdie Chinese rakker is amptelik Suid-Afrika se goedkoopste vol-elektriese motortjie. Die fris Dynamic (dit is ook beskikbaar in die meer bekostigbare Comfort), bied ’n reikafstand van tot 295 km in stadsverkeer met ’n enkelrat- outomatiese ratkas.

Die dolfyn het ’n 38 kWh-battery wat binne ’n halfuur tussen 30% en 80% herlaai kan word. Die Dolphin Surf het ’n streng 5-ster Euro NCAP-botsingtoets geslaag.

Die prys sluit ’n drie jaar/100 000 km-voertuigwaarborg, ’n addisionele 3-jaar/100 000 km-batterywaarborg sowel as ’n 3-jaar/60 000 km-diensplan in. Prys: R389 000

Honda Amaze 1.2 Comfort CVT

Die derdegenerasie Honda Amaze wat in Indië gebou word, het vroeër vanjaar plaaslik geland en het ten doel om voort te bou op sy voorganger. Aangedryf deur ’n 1.2-liter-enjin is die Comfort beskikbaar met ’n CVT-tipe outomatiese ratkas.

Met ’n totale lengte van 3 995 mm en ’n wielbasis van 2 470 mm, kan die Amaze gemaklik sitplek bied aan groot volwassenes. Die gewilde voertuig bied ’n 416-liter-bagasieruimte.

Die petrolenjin het goed vertoon aan die Kaapse kus en ritgehalte was goed met hantering wat beïndruk het. Jou beursie gaan boonop juig, want sy brandstofverbruik is 5,5 liter per 100 km!

Die kajuit is oulik beklee en die harde plastiekoppervlaktes vertoon goed. Standaard toerusting is aanvaarbaar vir hierdie segment en algeheel het dié buksie beïndruk.

Die prys sluit ’n 5-jaar/200 000 km-waarborg en ’n 4-jaar/60 000 km-diensplan in. Prys: R294 900 (die Trend-handrat kos R254 900)

  • Klein/kompakte SUV’s en crossovers (kruisvoertuie)

Uitskieter! Hyundai Alcazar Elite Outo 1.5D

Die Alcazar vervang Hyundai se gewilde sewesitplek-Grand Creta met ’n nuwe ontwerp wat ooglopend meer modern vertoon. Aangesien die Alcazar sewe sitplekke het, is dit tegnies nie meer ’n kompakte SUV nie, maar dit is te klein om in die mediumgrootte segment te kan meeding.

Die 1.5-liter-dieselenjin, wat net in die topmodel Elite te kry is, is ’n juweel in die vervaardiger se kroon met brandstofverbruik van gemiddeld tussen 4 en 5 liter per 100 km. Die Elite lewer 84 kW en 250 Nm se piekkrag vir lewendige verrigting. Krag word na die voorwiele gestuur danksy ’n sesgang-outokas. Brandstofverbruik is indrukwekkend teen 5,8 liter vir ’n reikafstand van 800 km.

Die oulike voertuig se ruim kajuit is pragtig beklee en uitstekend toegerus met ’n lang lys standaard toerusting. Hierdie voertuig is ideaal as ’n gesinsmotor en bied Hyundai se ekonomiese en betroubare mobiliteit teen ’n relatief bekostigbare prys.

Die prys van die Alcazar sluit Hyundai se 7-jaar/200 000 km-waarborg asook ’n 3-jaar/45 000km-diensplan in. Prys: R669 900 (diesel)

Renault Kiger Techno-model

As intreevoertuig het die Renault Kiger deurlopend goed verkoop in hierdie gewilde segment. Die opgeknapte Fransman beskik steeds oor dieselfde 1-liter-driesilinderenjin wat 53 kW en 96 Nm lewer met ’n outomatiese ratkas.

’n Grondvryhoogte van 203 mm beteken dat die waentjie gemaklik op ’n tweespoor-grondpad draf – solank dit nie vierwieltrek vereis nie. Die kajuit is modern uitgelê en relatief goed toegerus.

Die prys sluit ’n 5 jaar/150 000 km-waarborg en ’n 2 jaar/30 000 km-diensplan in wat help om die onderhoudskoste laag te hou. Prys: R254 999 (vyfspoed outomaties)

MG ZS Luxury

Die Chinese SAIC-groep, nou die sewende grootste motorvervaardiger in die wêreld, het die MG ZS in Suid-Afrika beskikbaar gestel. Aandrywing is deur die voorwiele danksy ’n 1.5-liter-turbopetrolenjin wat 84 kW en 150 Nm se piekkrag lewer – met ’n viergang- outomatiese ratkas. Die kajuit is goed toegerus en, gegewe die prys, ook goed afgewerk.

Die prys sluit ’n 7-jaar/200 000km-waarborg en ’n 5-jaar/60 000 km-diensplan in. Prys: R309 900

  • Mediumgrootte SUV’s en SAV’s (sportaktiwiteitsvoertuie)

Die spesifieke segment blyk tans die besigste en gewildste in Suid-Afrika te wees. ’n Lang lys van modelle in hierdie klas is in 2025 plaaslikbekend gestel.

Uitskieter! Haval H6 GT PHEV

DieHaval H6 is ’n sportaktiwiteitsvoertuig (SAV) wat ’n 1.5-liter-viersilinder-turboaangejaagde-petrolenjin (110 kW/230 Nm) kombineer met twee elektriese motors (een op elke as) wat krag kry danksy ’n 35,43 kWh-batterypak wat dan die krag na al vier wiele stuur.

Gekombineerde piekkraglewering is 321 kW en 762 Nm wat die totale gewig (2 075 kg) van die H6 van 0-100 km in slegs 4.9 sekondes laat versnel – wat dit een van die vinnigste SUV’s in sy kategorie maak. Die Haval H6 GT PHEV is ’n reusesprong vorentoe vir GWM.

Die voertuig het al ons verwagtinge oortref en ons mateloos beïndruk met talle verbeteringe. Nie net het die kajuit se gehalte-afwerking, toerusting en uitleg ons aangenaam verras nie, maar ons was mateloos beïndruk met die indrukwekkende kraglewering en verrigting. Verstommend genoeg het ons algeheel ’n gemiddelde brandstofverbruik van 5,5 liter/100 km oor meer as 1 000km behaal!

Volgens Haval bied die nuwe H6 GT PHEV ’n 100 km plus-reikafstand op die battery met ’n gekombineerde reikafstand op petrol en battery van meer as 1 000 km.

Gegewe die luukse afwerking, uitstekende ekonomie en gemaklik ritgehalte, is die Haval H6 GT PHEV beslis waarde vir geld in hierdie segment vanweë die koopprys van minder as R800 000.

Die Haval H6 GT PHEV is ongetwyfeld die voertuig wat ons tot dusver vanjaar die meeste verras en beïndruk het! Prys: R799 900

VW Tiguan Tayron 1.4TSi R-Line

Die R-Line se 1.4-liter-petrolenjin is gekoppel aan ’n sewegang-DSG-ratkas. Hierdie voorwielaangedrewe sportnuts lewer goeie ritgehalte en brandstofgebruik van 6,1 liter/100 km.

Die Tayron spog met ’n pragtige, moderne kajuit wat goed toegerus is. Die passasier kan agter die stuur inskuif op leerbedekte sportsitplekke.

Ongelukkig tel die stywe prys teen dié bulletjie. Prys: R899 900

Omoda C7 SHS PHEV

Dié inprop-hibried se gedeelde dryfstelsel bestaan uit ’n 1.5-liter-petrolturbo-enjin en ’n 18,3-kWh-batterypak om altesame 225 kW en 525 Nm se wringkrag te lewer. Gemiddelde brandstofverbruik is ’n skaflike 5 liter/100 km met ’n reikafstand van 1 200 km. Hierdie Haval lewer goeie ritgehalte en paddinamika.

Sy luukse, moderne kajuit is omvattend toegerus met uitstekende afwerking wat bydrae tot ’n luukse ervaring. In hierdie segment bied die C7 goeie waarde vir geld.

Die prys sluit ’n 7-jaar/200 000 km-waarborg in met ’n 10-jaar/onbeperkte kilometer-waarborg op die batterypak vir die eerste eienaar. ’n Vyf-jaar/75 000 km-diensplan is ook ingesluit. Prys: R689 900

Toyota Corolla Cross 1.8 Hybrid XR

Die hibriede dryfstelsel van hierdie deftige kêrel bestaan uit ’n 1.8-liter- onaangejaagde petrolenjin en ’n addisionele elektriese motor wat deur ’n batterypak aangedryf word om gesamentlik 92 kW en 142 Nm piekkrag te lewer.

Krag word na die voorwiele gestuur deur middel van ’n CVT-ratkas. Brandstofverbruik word amptelik aangedui op 4,3 liter per 100 km.

Die prys sluit Toyota se 3-jaar/100 000 km-voertuigwaarborg in, asook ’n 6-diens/90 000 km-diensplan met intervalle van 15 000 km. Prys: 545 200

Jaecoo J7 SHS PHEV

Die Jaecoo J7 SHS inprop-hibriede voertuig is toegerus met ’n kragtige en tegnologies gevorderde aandrywingstelsel wat gebruik maak van ‘n 1.5-liter-viersilinder-turbopetrolenjin gekombineer met ’n kragtige elektriese motor wat in die slim outomatiese ratkas ingebou is.

Die 18,3-KWh-batterypak lewer 150 kW en 310 Nm se piekkrag. Saam met die turbopetrol-enjin is die totale kraglewering 255 kW en 525 Nm.

Brandstofverbruik is amptelik aangedui op 4,7 liter per 100 km gekombineer met elektriese aandrywing en die ratse sportnuts versnel van 0-100 km/h in slegs 8,5 sekondes. Met slegs elektriese aandrywing, bereik die voertuig ’n reikafstand van ’n skamele 90 km, maar ’n veel indrukwekkender R1 200 km wanneer die aandryfstelsel gekombineer word. Prys: R689 900

*BMW SA (X3 20d X-Drive) en Mercedes SA (AMG GLC 43 Coupe) het nie voertuie beskikbaar gemaak om te toets nie.

  • Familiesportnutse

Uitskieter! Toyota Fortuner GR Sport

Toyota Fortuner se gewildheid op eie bodem neem aaneenlopend toe en die kragreus is reeds oor baie jare heen die topverkoper-SUV in Suid-Afrika.

Die nuwe Toyota Fortuner GR Sport-model spog met beter verrigting danksy ’n opgradering van 150 kW en 500 Nm na 165 kW en 550 Nm. Krag kan steeds tussen 4×2- en 4×4-modus gewissel word vanweë die sesgang- outomatiese ratkas wat behou is in die opgekikkerde weergawe. Sonder die wyer bakpanele as vorige modelle, is hierdie die kragtigste Fortuner nog.

Binne die kajuit is rooi veiligheidsgordels en GR-kentekens gebruik om die Fortuner se sportiewe eienskappe verder te beklemtoon.

Die leerraam-onderstel is nadelig wanneer dit by dinamiese hantering kom, maar danksy verbeterde skokbrekers en vering is die paddinamika van die Fortuner GR-S ook meer sportief – en danksy Toyota se legendariese veldryvermoë is hierdie bielie baie gemaklik en bekwaam op enige terrein.

Die koopprys sluit ’n 3-jaar/100 000 km-waarborg in en ’n 9-diens/90 000 km-diensplan. Prys: R1 miljoen

Omoda C9 2.0T Explore AWD

Die Omoda C9 is ’n luukse SUV wat daarop gemik is om kopers wat swierige Duitse SUV’s aanskaf se koppe te laat draai – en hulle dalk van besluit te laat verander.  Hierdie pragvoertuig het ’n 2-liter-turbopetrolenjin wat 192 kW en 400 Nm wringkrag lewer met ’n agtspoed- outomatiese ratkas.

Wat grootte betref, is die C9 4 775 mm lank en 1 920mm breed met ’n dakhoogte wat 1 671 mm. Die motor is bevoorbeeld langer, breër en hoër as die huidige BMW X4, maar kleiner as die Toyota Fortuner.

Die topmodel C9 Explore AWD se ratkas bied onder meer ratspane agter die stuur asook verskillende ritmodusse onder meer vir veldry en aanpasbare vering. Tog sal ek bestuurders aanraai om eerder grondpad te ry met die bielie.

Die prys sluit ’n 7-jaar/100 000 km-diensplan, ’n 7-jaar/200 000 km-voertuigwaarborg en ’n 10-jaar/1 miljoen km-enjinwaarborg in (vir die eerste eienaar). Prys: R885 900

Kia Sorento 2.2 CRDi SXL AWD

Die Kia Sorento SXL se 2.2-liter-turbodieselenjin lewer 148 kW en 440 Nm met ’n agtgang-dubbelkoppelratkas. Die dryfstelsel-kombinasie lewer goeie brandstofverbruik en met gemiddelde syfers van 6,8 liter per 100 km is dit nog ’n goeie rede om hierdie ryding aan te skaf.

Hierdie luukse maar praktiese sewesitplekker ry gerieflik op 20-duim-bande. Die ruim kajuit ruim is gerieflik toegerus met vir bestuurders en passasiers en beskik oor omvattende passiewe en aktiewe veiligheidstelsels.

Kia se jongste SUV is ewe gemaklik op grondpad as teer – en dit is ideaal vir vakansiekuiers saam met die familie. Die kragtige model kan ook gemaklik ’n boot trek vir avontuurlustige uitstappies. Die koopprys sluit Kia se 5-jaar/onbeperkte km-waarborg sowel as ’n 6-jaar/90 000 km-onderhoudsplan in. Prys: 1 299 995

  • Luukse sportnutse

Uitskieter! Lexus GX550

Die nuwe Lexus GX550, gebaseer op die huidige Toyota Land Cruiser Prado, is nou ook in ’n Overtrail-afwerking beskikbaar. Lexus se nuwe vyfsitplek-Overtrail kragwa is gereed vir die veld maar steeds baie deftig vir fynproewer-kopers. Hy is ook steeds toegerus met al die nodige gesofistikeerde 4×4-veldrytegnologie soos onder meer laestrek.

Die merkwaardige 3.4-liter-V6-turboenjin lewer 260 kW en 650 Nm se piekkrag, soortgelyk aan dié wat vanjaar in die Dakar-wenner se Toyota Hilux gebruik is. Die sterk enjin met sy tiengang- outomatiese ratkas stuur krag na al vier die wiele. . Hierdie indrukwekkende voertuig is ook uiters veldvaardig vanweë die twee ewenaarslotte en die laestrek-ratkas.

Met sy 80-liter-brandstoftenk is die reikafstand sowat 500 km, vir praktiese doeleindes. Brandstofverbruik van tussen 10 en 16 liter per 100/km maak die Lexus ’n dors reus.

Die kajuit is tipies luuks op die Lexus-manier met standaard toerusting wat verseker dat passasiers gerieflik en veilig bly tydens ’n wild-en-wakker veldrit.

Die Lexus GX550 bied die beste van twee wêrelde – ’n luukse koets vir strikdasgeleenthede in betonpaleise, en ook ’n soort Tarzan-superheld wanneer die veld en klipoerwoude getem moet word.

Die stewige koopprys sluit ’n 7-jaar/100 000 km-waarborg en -diensplan in met intervalle van 10 000 km. Prys: R1 867 000

Range Rover Sport D350 AutobiographyR2 595 100

RICH PEARCE 07590054874

Hierdie kragtige kêrel se 3.0-liter-turbodiesel is weer ’n slag van nader bekyk. Die nuwe D350, soos hy gedoop is, stoot die krag van 221 kW na 257 kW op en wringkrag van 650 Nm tot 700 Nm. Brandstofverbruik is goed tussen 8,4 liter en 8,7 liter per 100 km.

As gevolg van wakker verrigting, versnel die D350 van 0-100 km in slegs 6,8 sekondes. Sou jy jou voet op die petrolpedaal hou, sal die Range Rover eers op 234 km/h uitasem raak.

Binne is die kajuit weelderig beklee en omvattend toegerus soos dit die koets van ’n koning betaam. Die laestrek-ratkas en 4×4-vastrap is uitsonderlike kenmerke van hierdie uber-luukse voertuig.

Die prys sluit ’n 5-jaar/100 000 km-waarborg en ’n 5-jaar/100 000 km-diensplan in. Prys: R2 595 100

Audi Q7  55 TFSI quattro Tiptronic Platinum Edition

Die 2025 Q7 is reeds die derdegenerasie luukse Audi SUV – en met elke generasie verbeter hierdie spoggerige ryding!

Die Q7 55 TFSI is die basiese petrolweergawe van die reeks, maar’n dieselmodel sal blykbaar later beskikbaar raak. Die 55 TFSI is toegerus met ’n kragtige 3.0-liter-turbo-aangejaagde-V6-petrolenjin wat 250 kW en 500 Nm se piekkrag uitskop danksy onder meer die hulp van ’n ligte hibriedestelsel. Die stelsel maak gebruik van ’n elektriese motor wat nie net help om kraglewering te verhoog nie, maar toesien dat die enjin krag meer effektief lewer.

Danksy die Quattro se vierwielaandrywing, word die krag met ’n agtgang- outomatiese ratkas na al die wiele gestuur vir blitsige versnelling. Terwyl die topspoed elektronies tot 250km/h  beperk word, duur die 0-100 km/h-lopie slegs 5,6 sekondes. Brandstofverbruik van 9,3 liter/100 km is uitstekend en plaas hom in dieselfde klas as die Q8, hoewel die Q7 meer geskik is vir die gesin wat waarde heg aan daaglikse gerief en veelsydigheid.Die paneelbord voel ekstra luuks vanweë topgehalte-afwerking, leer en tegnologie. En met topklas-ingenieurswese is veiligheid ’n besliste waarborg.

Die koopprys sluit ’n 5-jaar/100 000 km-Audi Freeway-diens- en onderhoudsplan in. Prys: R1 958 000

Met al hierdie wonderlike koetse en nutse wat vanjaar bekend gestel is, is daar veel te kies en keur vir enige begroting hierdie Kersfees.

’n Geseënde feestyd aan al die lesers en ’n voorspoedige 2026 word u toegewens. Veilig ry!

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0