2015 se Honda gee steeds die pas aan
deur Dirk Galowitz
Honda SA het die eerste Jazz in 2003 plaaslik bekendgestel. ‘n Klein kompakte MPV in die B-segment van die mark wat toe reeds ongeëwenaarde standaarde gestel het met innovering en veiligheidskenmerke in sy klas. Ook het die klein Jazz toe al pas aangegee met ‘n “CVT” ratkas.
Die derde geslag Honda Jazz is einde Januarie 2015 in SA bekendgestel om vanaf middel Februarie landwyd by Honda-handelaars beskikbaar te wees en is steeds klasleidend wat betref innovering, praktiese funksionaliteit en veiligheid.

Gebou in Honda se nuwe hiper-moderne robotiese aanleg in Tapokara, Indië, trek die vars en moderne voorkoms van die nuwe Jazz die aandag van jonger kopers. Ten spyte van meer kompakte afmetings, is die nuwe model egter ruimer binne wat beteken die bykomende beenruimte agter sorg dat die nuwe Jazz met gemak sitplek bied vir tot drie passasiers agter.

Die 2015 model kom ook nou toegerus met ’n meer omvattende lys van standaardtoerusting. Verder is die nuweling volgens Honda meer doeltreffend en maak ’n aansienlike tegnologiese sprong vorentoe in vergelyking met die baie suksesvolle en uiters gewilde vorige Jazz modelle. Terwyl die 2015 Jazz dan omtrent in elke faset aansienlik verbeter is, bly die gewilde buksie nogtans getrou aan sy kernbeginsels van goeie waarde en om sy reputasie as “the world’s best functional compact” gestand te doen.
Honda se innoverende en praktiese aanpasbare Magic Seat™-sitplekstelsel, wat een van die Jazz se unieke sleutelkenmerke was, is steeds deel van die nuwe model en dra by tot die motor se klasleidende standaard toerustinglys in sy segment. Binnekant is die kajuit aangenaam afgewerk met materiale wat gekies is om die kenmerkende Honda gehalte na te doen. Die uitleg van die instrumentepaneel is ergonomies uitstekend, ten einde gemaklike gebruikers-interaksie te verseker. ’n iPad-tipe 18cm hoë-definisie skerm in die middel van die tegnologies gevorderde instrumentepaneel laat die gebruiker toe om met aanraak en vee (swipe) bewegings die Sat/Nav, klankstelsel en telefoon-koppeling te aktiveer, asook ‘n HDMI kabel te gebruik om verskeie toepassings van ‘n iPhone af te laai.

Volgens Honda word die nuwe Jazz nie op ‘n onderstel gebou nie, maar rondom ‘n heel nuwe eenstukromp wat ligter, sterker en minder buigbaar is om gevorderde aanpassings aan die veer- en stuurstelsels moontlik te maak. Tesame met die 30cm verlengde wielbasis, sorg dit vir ‘n merkbaar verbetering in ritgehalte, paddinamika waaronder stabiliteit deur draaie, asook stuurgevoel en hantering. Tydens ons bekendstellingsrit deur die pragtige Boland, kon ons dit eerstehands ervaar met die 5-gang handrat 1.5 i-VTEC Dynamic model.
Kopers kan kies uit sewe modelle, almal voorwielaangedrewe, met ’n keuse van twee enjins, twee ratkaste en vier spesifikasievlakke.

’n Meer doeltreffende 1,2 liter viersilinderenjin word in die 2015 Jazz ingespan, asook die beproefde 1,5 liter kragbron wat ook in die vorige Jazz diens gedoen het. Alle Jazz-modelle, buiten die Trend-intreevlakmodel kom standaard met ‘n diensplan van vier jaar/60 000 km.
“The arrival of the all-new Honda Jazz is a milestone event for the South African market. The Jazz already enjoys an enviable reputation for flexibility, safety, efficiency and quality, but this third-generation sets new benchmarks”, aldus Graham Eagle, Honda SA se bemarkingsbestuurder.
Pryse
Jazz 1,2 Trend-handrat – R179 900
Jazz 1,2 Comfort-handrat – R204 900
Jazz 1,2 Comfort CVT-outo – R221 900
Jazz 1,5 Elegance-handrat – R234 900
Jazz 1,5 Elegance CVT-outo – R249 900
Jazz 1,5 Dynamic-handrat – R249 900
Jazz 1,5 Dynamic CVT-outo – R264 900
![]()
Hierdie artikel is geskryf deur Dirk Gallowitz van Ultimage Drive. Besoek gerus hulle webwerf by www.ultimatedrive.co.za vir nog puik artikels.