Franse slaaisous

16 BASIESE FRANSE SLAAISOUS MET ROOSMARYN, KNOFFEL EN SOETRISSIE
Lewer ± 300 ml
BASIESE FRANSE SLAAISOUS
- 200 ml sonneblom- of olyfolie
- 100 ml wit- of rooiwynasyn
- 10 ml aangemaakte mosterd
- 5 ml bruinsuiker
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- Plaas al die bestanddele in ’n gesteriliseerde bottel en verseël dit.
- Skud baie goed net voor gebruik. Dit kan tot drie maande in die yskas bewaar word.
VARIASIES
Roosmaryn, knoffel en soetrissie-sous
Plaas 1 of 2 takkies vars roosmaryn, 2 geskilde knoffelhuisies en 100 ml gekapte soetrissie in die voedselverwerker en voeg by.
Slaaisous met kruie
Spoel 20 ml vars, gekapte basiliekruid, 20 ml vars, gesnipperde grasui, en 20 ml vars, gekapte Italiaanse pietersielie goed af in steriliseervloeistof. Kap dit in ’n voedselverwerker fyn en voeg dit by.
Slaaisous met kruie en soet rissiesous
Voeg 50 ml soetrissiesous saam met die kruie by.
Knoffelslaaisous
Volg die resep vir Franse slaaisous en verwerk 9 vars knoffelhuisies saam met die ander bestanddele in ’n voedselverwerker.
Bloukaasslaaisous
Verwerk 75 g bloukaas en 50 ml room saam met die ander bestanddele in ’n voedselverwerker. Voeg 50 ml gesnipperde grasui by, giet dit in ’n gesteriliseerde bottel en verseël.
Brandrissie-en-knoffel-slaaisous
Voeg 5 gekneusde knoffelhuisies, 5 ml rissievlokkies, 1 vars brandrissie, ontpit en in ringetjies gesny, en 25 ml vars, gekapte basiliekruid by.
Slaaisous met esdoringstroop
Vervang die suiker met 50 ml esdoringstroop en voeg 10 ml vars, gekapte kruisement by.
Suurlemoenslaaisous
Vervang die asyn met vars suurlemoensap en voeg
10 ml gekapte gepiekelde suurlemoene of
5 ml gerasperde suurlemoenskil, 10 ml gesnipperde grasui en 2 gekneusde knoffelhuisies by.
Palmsuikerslaaisous
Laat die bruinsuiker weg. Verhit 150 ml palmsuiker (by Chinese winkels beskikbaar) en 180 ml water oor lae hitte en roer tot die suiker opgelos is. Verhoog die hitte en kook tot dit met die helfte ingedamp het. Laat dit afkoel en voeg dit by die ander bestanddele.
Uit: Lekker & Vinnig 6: Souse – LAPA samestelling (bl. 36-37)
