՚n Varkie in haar hartjie …! Irmarie Süllwald draai die varkbedryf op sy kop

_DSC4159
Dinamies, opgevoed, gedrewe. ՚n Vrou van formaat, met ՚n goeie dosis kennis oor alles van varke. Dít is Irmarie Süllwald.
՚n Passie vir ՚n varkie
Al van jongs af het Irmarie ՚n liefde vir landbou en diere. “Soos elke perderuiter, wou ek graag iets in die lyn van perde gaan studeer en in daardie stadium was ek nie bewus van al die geleenthede wat werklik in die landboubedryf bestaan nie. Na my tweede jaar op universiteit het ek besef daar is ontelbare geleenthede.”
Ondanks haar aangetrokkenheid tot perde, het Irmarie uiteindelik in die varkbedryf beland! Nadat sy haar BScAgric-graad in Veekunde in 2016 voltooi het, het sy haar loopbaan afgeskop by “Gene Transfer Centre” van ALZU Pig Genetics, oftewel PIC Suid-Afrika. Soos sy verder studeer het, het sy haarself begin opwerk.
“Ek het in 2019 die rol as voedingkundige by PIC Suid-Afrika se teelplase oorgeneem en ook voedingsdienste aan klante en ander voedingkundiges gebied. In 2020 het my rol in PIC verder uitgebrei na dié van Genetiese Dienste met die fokus op genetiese bevordering by PIC Suid-Afrika en die varkbedryf. Tans is my fokus op die genetiese bevordering in ons interne kuddes sowel as dié van klante. Dit behels genetiese evaluasies en data-ontleding van die diere en hulle indekse, die opstel van seleksie-strategieë, teelprogrambestuur en koördinering tussen plase, produksie en tegniese spanlede.”

Irmarie sien haarself binne die volgende tien jaar as ՚n belangrike speler in die landboubedryf, waar sy haar ervaring en kundigheid gebruik om betekenisvolle bydraes te maak tot volhoubare boerderypraktyke, spesifiek in die varkbedryf.
Irmarie sê sy het nooit gedink dat dit is waar sy haarself sou bevind nie. Aanvanklik in ՚n onderhoud by ALZU se voermeule het een van die direkteure haar gevra hoe sy oor varke voel. Haar antwoord? “Ek hou niks van varke nie, maar ek het ՚n vriendin wat ek vir julle kan aanbeveel.” Tog het sy die werk gekry en haar geesdrif het begin blom.
En dit hou nie daar op nie! Tans is Irmarie deeltyds besig met haar MBA by Regent Business School, met ՚n fokus op risikobestuur se rol in die volhoubaarheid van familie-ondernemings. Haar gevallestudie fokus spesifiek op familieboerderye in die Suid-Afrikaanse varkbedryf.

“Die vooruitsigte om by te dra tot die toekoms van volhoubare landbou is opwindend vir my. Ons bedryf is uiters dinamies, en ons moet daarmee saam kan verander.”
“Ek probeer myself konstant verbeter deur voortdurend te leer. Ek bly op hoogte van die nuutste ontwikkelinge in die bedryf deur middel van kursusse, seminare en interaksie met ander kenners in die bedryf. Ek neem ook aktief deel aan netwerke binne die bedryf om idees en beste praktyke uit te ruil. Verder evalueer ek my werk gereeld, leer uit foute, en stel my doelwitte vir persoonlike groei en sukses in die bedryf.”
Dit is duidelik dat hierdie vrou ՚n liefde vir die landbou het. Haar gunsteling deel van Suid-Afrikaanse landbou is die weerstandigheid en veerkragtigheid van boere. “Die beste deel van Suid-Afrikaanse landbou is die onbreekbare gees van ons boere wat ons nie net trots maak nie, maar wat die kern vorm van ՚n bedryf wat ՚n beter toekoms vir ons almal bou,” voeg sy by.

Varkgenetika en genetiese verbetering is vir Irmarie aanloklik, want hierdie veld verteenwoordig ՚n perfekte samevloeiing van haar liefde vir landbou, wetenskaplike navorsing en die geleentheid om ՚n verskil aan voedselproduksiestelsels te maak.
Vrou-wees is ՚n superkrag
Irmarie se gunsteling deel van vrou-wees, is die feit dat dit beteken ‘n mens kan terselfdertyd sterk en sag wees. “Ons is dinamies en kan gedrewe en sorgsaam wees op dieselfde tyd. Hierdie eienskappe maak dit moontlik vir ons om situasies met deernis en vasberadenheid te hanteer.” Sy brei uit dat dit ՚n voorreg is om deel van so ՚n veerkragtige geslag te wees.
Hoe sou sy ՚n suksesvolle vrou beskryf? Irmarie glo dat ՚n suksesvolle vrou soveel meer is as net haar individuele prestasies. “Dit gaan ook oor haar vermoë om ander met integriteit te inspireer en lei. Sy erken ook die belangrikheid van voortdurende groei en ontwikkeling. ՚n Suksesvolle vrou soek kennis, omarm nuwe uitdagings en pas aan by veranderende omstandighede en geleenthede,” sluit sy af.
- Irmarie is ook ՚n bok vir sports! Saam met haar man geniet Irmarie dit om op motorfietsavonture te gaan.
- Wanneer Irmarie aan die einde van ՚n harde dag se werk kom, geniet sy dit om saam met haar man te ontspan op die plaas met hulle troetel-diere, perde, ՚n glasie rooiwyn en ՚n sonsondergang.
Irmarie staan vas dat vroue in landbou ՚n onmisbare rol speel. “Hulle bring ՚n waardevolle bydrae deur die bevordering van diversiteit en insig in ons boerderypraktyke. Die unieke perspektiewe wat vroue bied, help om nuwe idees en benaderings aan te moedig wat bydra tot die skeppingskrag en volhoubaarheid van die bedryf. Vrouens het ook ՚n natuurlike aanslag om ander te leer en is dus ՚n bron van opleiding en ontwikkeling in die landbousektor. Dit skep geleentheid vir groei en verbeterde vaardighede wat die hele gemeenskap bevoordeel.”
En wat is die beste ding van varke?
Soos dit enige intelligente, goed opgevoede vrou betaam, is Irmarie se lag-lag antwoord op hierdie vraag: “Spek!”
Vir al jou varkvrae kan jy Irmarie kontak per e-pos by irmarie@picrsa.co.za of (+27)60-989-0799.

