Yara AllFarm haal die raaiwerk uit boerdery

DSC_0084-scaled (1)
deur Tisha Steyn
Yara help die boer met ‘n deurdagte plan wat op regte intyd, inseisoen inligting van die boerdery gebaseer is.
Yara, wat in 1905 ontstaan het om te help om die dreigende hongersnood in Europa af te weer, het vandag 17 000 werknemers en ‘n teenwoordigheid in 60 lande.
Elkeen van hierdie toegewyde werknemers dra Yara se missie om die groeiende wêreldbevolking te voed sonder om die omgewing te vernietig uit. Ten einde hierdie doelwitte te bereik, het Yara die AllFarm-digitale stelsel ontwikkel wat presisieboerdery ondersteun.
Piet brink, hooflandboukundige by Yara, en Pieter Snyman, hoof digitale landboukundige by die maatskappy, het tydens NAMPO 2023 meer vertel oor Yara en die AllFarm-stelsel.

“Die AllFarm is ‘n digitale platform wat ons gebruik om presisieboerderydata in te samel en te aggregeer,” verduidelik Pieter. “As ons kyk na die geskiedenis van die landskap van presisieboerdery het ons ‘n verskriklike klomp data wat op verskillende plekke rondlê waaruit ons sekere insigte kan kry.” Maar die enigste manier om daardie insigte te bekom en dit te gebruik om sinvolle besluite te neem, moet die inligting op een plek gestoor word sodat intydse, inseisoen besluite oor gewasproduksie geneem kan word.

Volgens Pieter word probleemareas identifiseer in die produk-besluitnemingsproses. “Sou daar oplossings wees wat ons produkte regverdig, kan ons die regte produk aanbeveel om die probleem op te los.”
Piet sê hulle lê die digitale inligting wat deur die AllFarm-stelsel geaggregeer is, aan die boer voor. “Dit is ‘n tipe van factory to farm, of selfs factory to fork-inligting wat die produksiesirkel voltooi. Dit is vir die produsent belangrik om te weet hoe sy koper op sy produk reageer het en hoe ons die produksie kan verbeter. Op die manier word onder meer voedselvermorsing uitgeskakel.”
Volgens Piet evalueer Yara met die stelsel hulle produk se suksesvolle toepassing op die plaas, hoe dit produksie beïnvloed en wat die opbrengs is, en daardie inligting word gebruik om die boer met die besluitneming en beplanning van die volgende seisoen te help.
Pieter verduidelik dat die data wat hulle nodig het om besluite te neem namate die seisoen vorder uit die detail van presisieboerdery bekom word. “As ons ‘n grondmonster trek en ons kry ‘n ontleding van die laboratorium af, kan ons daardie inligting en resultate gebruik om ‘n agronomies-korrekte aanbeveling vir die plantegroei te maak wat terselfdertyd nie ‘n negatiewe invloed op die omgewing sal hê nie.”
Om die nodige inligting te bekom word die landerye in die seisoen met satellietbeelde gemoniteer. Landboukundiges wat die plase besoek en gewasgroei moniteer sodat hulle inseisoen-besluite kan neem, is deel van Yara se naverkoopsdiens.

Volgens Piet is Yara se teenwoordigheid by NAMPO ‘n belangrike deel van hulle blootstelling en bemarking. “Dit is vir ons absoluut ‘n kans om in ons besigheid terug te ploeg, maar ook om ons kliënte ‘n geleentheid te gee om te kom gesels, hul agent en landboukundige te ontmoet.”
Hy nooi die boere wat nie vanjaar by NAMPO uitgekom het nie, om meer oor Yara uit te vind op hul webtuiste by yara.co.za of yara.com. “Gaan kyk gerus daarna en kom kuier volgende jaar by ons stalletjie by NAMPO.”
Samevattend: Yara AllFarm is ‘n digitale platform wat bestaan uit ‘n ekosisteem wat verskillende interne en eksterne komponente integreer ter wille van die ondersteuning van ‘n wye verskeidenheid rolspelers in landbou. Die doel is om by te dra tot ‘n volhoubare boerdery en die boer se welvaart, asook voedselsekerheid in ‘n veranderende omgewing.