Word ’n graanprysmaker met GSI

gsi sept feature
’n Nuttige luuksheid waarna elke boer kan hunker, is die vermoë om graan op te berg. Tydens strooptyd hoef jou trokke nie meer lang afstande tussen jou lande en die koöperasies se silo’s af te lê en ewighede in toue by die silo’s te staan en wag terwyl jou stropers kosbare tyd verloor nie. Jy kan ook die graan op jou eie plaas berg sonder bergingskoste om self te besluit wanneer die graanprys reg is om te verkoop.
GSI is een van die bekendste silo-maatskappye in Suid-Afrika, maar hulle silo’s word al vir baie jare in Amerika ontwerp. Die ervaring en kennis wat opgebou is, maak van hulle ’n markleier op die gebied. Elke onderdeel word sorgsaam vervaardig voordat dit verskeep word. Die plate is van versinkte staal gemaak en nie van sink soos dit op die oog af lyk nie. ’n GSI-silo se senterpunt op die dak kan selfs vyf ton dra!
Om ’n GSI-silo of twee op te rig, is makliker as wat dit lyk. ’n Boer kan sy eie kontrakteurs kies om die put en fondasie te bou, of hy kan vra dat GSI iemand aanwys. Die opleiding word dan deur GSI se tegniese mense op die plaas gedoen. Sodra die betonwerk voltooi is, kom rig GSI se span die staalwerk binne 2,5 weke op.
Francois Louw van die plaas, Uitsicht, buite Davel se sake het vanjaar mooi uitgewerk en hy kon in Februarie twee 1 500 ton silo’s met ’n in- en uitlaaispoed van 60 ton per uur oprig: “Ek het eerste met Jaco Barnard, die verkoopsman in die streek, kontak gemaak. Hy het my deur die hele proses bygestaan. Ek kan glad nie kla oor GSI se diens nie. Die silo’s is in die laaste helfte van die stroopseisoen voltooi en ek kon een silo vul. Die mielies gaan nou daar lê tot die prys reg is,” sê hy.
Francois het platvloersilos verkies wat ’n vals, geperforeerde vloer het. Een uittrekskroef met drie openinge is onder die vloer aangebring om die graan te onttrek.
GSI se silo’s is ontwerp om van vog ontslae te raak. Die blasers blaas lug onder die vloer om te sorg dat vog eweredig deur die hele silo boontoe geblaas word. Reg rondom die silo is daar openinge, oftewel druplippe, tussen die dak en die muurwand. Soos enige vog uit die graan ontsnap, kondenseer dit teen die dak en loop af deur die gate tot aan die buitekant van die silo waar dit afloop. “As daar vog op die grond reg rondom jou silo is, weet jy dit werk mooi,” sê Jaco Barnard. Die vals vloer word elke tweede tot derde seisoen opgelig om die stof te verwyder.
Die onderste muurwandplate dra die meeste gewig en is lekker dik. Om koste te bespaar word die plate stelselmatig dunner boontoe, maar dit het geen invloed op die struktuur-sterkte nie. Die bene waarop die dak rus word ook ondertoe dikker om die sywaartse druk te hanteer.
Niels Erichsen van die plaas, Keerom, buite Middelburg het ’n kontrak met ’n hoenderboerdery om vir hulle geelmielies te lewer, maar hulle kan in die stroopseisoen nie al die mielies vinnig genoeg inneem nie. “Wanneer hulle vol was, moes ons dorp toe ry en die mielies gaan berg en dit dan later weer uitry na die hoenderplaas toe. Dit het baie geld gekos en dit het gesukkel met my trekkers saam met die baie vragmotors op die pad. Toe ek die eerste silo in 2014 oprig, het sake heeltemal verander. Nou kan ons selfs tot tienuur in die aand aanhou stroop en graan aflaai,” sê hy. Verlede jaar het hy ’n tweede silo opgerig wat nou ook vol mielies is vir later se verkoop. Sy silo’s kan elkeen 1 000 ton graan berg.
Niels beplan om sy silo’s in die nabye toekoms hoër te maak om elkeen se kapasiteit met nog 500 ton te vergroot. Gelukkig is dit kinderspeletjies met ’n GSI-silo en daarom dring hulle daarop aan dat die fondasies gebou word om die maksimum silohoogte te dra, sodat dit later verhoog kan word soos die plaas se bergingsbehoeftes meer word. Tydens die proses word die silo net opgelig terwyl die nuwe plate van onder af ingeskuif word. Na elke tweede ring plate word ’n ekstra stel stutte bygesit.
Omdat die silo’s openinge aan die bokant het, verkies Niels om sy mielies eerder met ’n spesiale insekdoder te behandel in plaas daarvan om dit te berook. Hy het bloot ’n tenk langs die put se awegaar gesit wat die graan outomaties met ’n spuit behandel soos dit na die bakkieshyser toe gevoer word. Vir die daaropvolgende twaalf maande is die graan dan veilig teen kalanders en ander lastige insekte.
Die silo’s se toegangsopening het twee deure waarvan een net binnekant toe oopgemaak kan word sodat dit nooit per ongeluk oopgemaak kan word as die silo vol is nie. Dié deur bestaan verder uit drie klein deurtjies bo-op mekaar wat dan afsonderlik oopgemaak kan word om die graan te moniteer soos die silo voller word. Daar is ook ’n loergaatjie waardeur graanmonsters onttrek kan word. Die buitenste deur maak buitentoe oop en kan gesluit word.
In vergelyking met porieuse sementsilomure, is GSI se staalsilo’s se binnewande seepglad, wat verhoed dat die kalanders daarin kan eiers lê. Anders as sementsilo’s word staalsilo’s deur die son warm gebak, wat saam met die eweredige verspreiding van die lug uit die blasers help om van die vog in die graan ontslae te raak. Staalsilo’s verg veel minder onderhoud as betonsilo’s. Versinkte staal hoef nie geverf te word nie, breek nie uit nie en die sand en wind veroorsaak ook nie dat dit verweer nie.
Jozua du Plessis van Jozua du Plessis Boerdery buite Delmas moes in 1999 droërs oprig sodat hy sy koring in Desember betyds kon stroop vir die boontjies of mielies wat daarna in die grond moes kom.
“Ek het van die begin af net Bt-vrye mielies geplant en een van die kopers se voorwaardes was dat dit glad nie in aanraking met enige ander Bt-graan mag kom nie. Ek moes dit toe regstreeks van die lande af wegry, maar die vragmotors het by die aflaaipunt opgehoop,” sê hy. Ek het toe twee silo’s opgerig om dit as ’n oorlaaifasiliteit te gebruik.”
Jozua se twee silo’s kan elk 1 200 ton graan berg en oor Desember kan hy dan sy koring, wat ook Bt-vry is, tot in Maart bêre sodat die gehalte boonop ook kan verbeter. Die boerdery het mettertyd uitgebrei en die oorlaaifasiliteit kon nie bybly nie. Daar was toe plek vir nog drie silo’s. Vandag kan Jozua 6 000 ton berg vir later se verkoop. Jozua het geen vog- of grondwaterprobleme nie en het dus koniese vloere verkies, wat beteken dat hy ’n ekstra 100 ton in elke silo kan kry. “Omdat ons die koring in Desember, wanneer dit reëntyd is, oes, gebeur dit partykeer dat dit nat hier aankom. Die deurlugtingstelsel van die silo’s werk egter so goed dat dit soms nie eers nodig is om die koring deur die droërs te stuur nie.”
André Meyer is Jozua se plaasbestuurder en hy is baie dankbaar oor die silo’s wat sy lewe baie makliker maak. “Onderhoud op die silo’s is eenvoudig en maklik. Na elke seisoen ghries ons net die kritieke punte, trek die kettings styf, gaan die trekskroewe se vinne deur en trek die boute van die silo’s vas,” sê hy.
“Ons gebruik net een persoon om al vyf die silos, die drie aflaaipunte en die drogingsaanleg te beman en die kontrolekas is ook duidelik uiteengesit en maklik verstaanbaar,” sê André.
“Ek verkies GSI-silo’s want ek moet drie keer in ’n jaar graan ruil, wat baie spanning op die konstruksie plaas en ek is baie tevrede met wat ek gekoop het. In die jaar toe ek die laaste drie silo’s opgerig het, het die mielieprys toevallig so sterk geklim dat ek al drie die silo’s kon betaal met die mielies wat ek kon terughou,” sê Jozua.
GSI-vooruitstrewendheid is ook binne jou bereik. Skakel 011-794-4455 of stuur ’n e-pos na sales@gsiafrica.co.za om meer uit te vind.

Die versinkte staalwande van GSI se silo’s het ’n elastiese seëlaar tussen die plate om die vog uit te hou. Dit rek en krimp ook saam met die silo soos dit voller en leër gemaak word.

Natasha Coleman, Niels Erichsen van die plaas, Keerom, en Jaco Barnard staan voor die 24 meter hoë bakkieshyser wat die graan ophys om dit in die silo’s te stort.

Die veeskroef wat in platvloersilo’s gebruik word, neem die laaste bietjie graan wat teen die kante versamel stelselmatig weg.

Niels Erichsen van Keerom buite Middelburg wys hoe eenvoudig sy kontrolekas werk sodat daar geen foute kan insluip nie. Die vervoereenhede word so bedraad dat een nie aangeskakel kan word as die volgende een nie reeds loop nie.

Saam met sy weegbrug werk Niels Erichsen se stelsel nou met die minste verliese of onnodige onkostes.

Die vervoerkettings van en na die silo’s is feitlik onbreekbaar en kan met gemak 80 ton per uur skuif.

André Meyer, plaasbestuurder van Jozua du Plessis Boerdery; Natasha Coleman; Jaco Barnard en Jozua du Plessis, eienaar, staan by die vyf silo’s wat ’n baie belangrike rol in die boerdery se bestaan speel. Aan die regterkant is die aflaaipunte wat saam met die silo’s ’n baie rustiger stroopseisoen verseker.

André Meyer wys met hoe min knoppies en eenvoudig die kontrolekas uitgelê is sodat die enkele werker wat in die seisoen daar werk dit maklik kan verstaan.

