Wolbedryf moet eie lot bepaal

sheep-1822137_1280
Deur Tisha Steyn
Die wolbedryf is een van die min bedrywe wat volhoubaar veerkragtigheid en groei toon en bewys dat Suid-Afrikaners self moet uitspring en saam met die regering oplossings vir probleme vind.
“Moenie die bestuur van die land aan politici oorlaat nie; raak betrokke!” is die boodskap van Retief Odendaal, voormalige burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro en hoofspreker by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se algemene jaarvergadering.
Met verwysing na die sowat 100 000 werksgeleenthede wat die landbousektor in die Oos-Kaap bied, het Retief gesê hy koester geloof in Suid-Afrika, die Oos-Kaap en Nelson Mandelabaai waar hy vanaf September verlede jaar tot Mei vanjaar die burgemeester was. Hy het die hoop uitgespreek dat die NWKV sal voortgaan om druk op die provinsiale departement uit te oefen en nou met hulle sal saamwerk om nog meer suksesvol te wees.
Met verwysing na die grond in die provinsie wat nog onbenut is, voorsien hy groot geleenthede vir landbou. Hy het egter die nasionale departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling geroskam omdat daar nie genoeg vir landbou gedoen word nie en min of geen ondersteuning aan kommunale of kommersiële boere gebied word. Dit, ten spyte daarvan dat landbou sowat 20% bydra tot die bruto binnelandse produk van die provinsie.
Setel van wolbedryf
Port Elizabeth was nog altyd die setel van die land se wolbedryf sedert die ontstaan van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in 1929 in die stad. Die NWKV, wat ondertussen ontwikkel het in ՚n landwye organisasie met verteenwoordiging in die ses provinsies waar met wolskape geboer word, se doel is steeds om wolboere se belange plaaslik en internasionaal te bevorder. Toe die ledetal van kommersiële wolboere in 1994 daal met gepaardgaande daling in wolproduksie, het die NWKV sy deure oopgegooi vir boere in die voormalige Transkei en Ciskei.
Teen 1996 het die NWK altesame 182 swart en kommunale lede gehad. In 2013 was daar meer as 4 300 kommersiële boere en sowat 756 kommunale skeerhuise, wat meer as 15 000 boere verteenwoordig. Kommunale boere het by die aanvang van die ontwikkelingsprogram in 1997/98 slegs sowat 222 610 kg wol met ’n waarde van R1,5-miljoen deur die formele mark bemark. Dit het teen 2012/13 gegroei tot 3,462-miljoen kg wol met ’n waarde van R131,8-miljoen.
“Tans is daar 8 000 kommersiële boere, waarvan 3 000 NWKV-lede is wat 75% van die nasionale wolskeersel verteenwoordig. Daar is 40 000 kommunale boere, waarvan 30 000 lid is van die NWKV,” sê Leon de Beer, NWKV se hoofbestuurder.
Suid-Afrika se totale wolproduksie is 42-tot 44-miljoen kg per jaar en die kommunale wolproduksie is nou sowat 8-miljoen kg. “NWKV sou graag wou sien dat die departemente van Landbou (plaaslik en nasionaal) weer geld beskikbaar stel om ՚n genetiese verbeteringsprogram op die been te bring om die gehalte en volume van kommunale wol te verbeter,” sê Leon.
“Die projek is in 2019 laas geldelik ondersteun.” Volgens hom is geld vir die ontwikkeling van skeerinfrastruktuur in kommunale gebiede ook steeds ՚n groot behoefte.

Nuwe groeipunt
Volgens Retief is die ineenstorting van die infrastruktuur, soos wat in Johannesburg gebeur, een van die belangrikste uitdagings in die land. Hy meen met verloop van tyd gaan sakelui al hoe minder in groter munisipaliteite soos Johannesburg, Ekurhuleni en eThekwini belê en eerder hulle belange en geld verskuif na Nelson Mandelabaai. Hy grond sy mening daarop dat NMB een van die finansieel gesonder munisipaliteite in die land is, dat dit die vierde mees gematigde klimaat ter wêreld het; dat passasierskepe gereeld hier aandoen en toeriste gaande daaroor is dat hulle slegs 35 km vanaf Addo Nasionale Park is waar hulle die Groot Vyf kan sien. Daarby is die verkeer in die stad sodanig dat ՚n mens sonder enige verkeersknope binne 20 minute by die strand kan wees.
Retief meen organisasies soos NWKV en indiwiduele boere moet belangstel in wat veral in die plaaslike regering gebeur. Indien die infrastruktuur in duie stort, gaan dit onvermydelik ՚n nadelige invloed op sakeondernemings en boere hê. Ondanks politieke onstabiliteit ín die munisipale raad, koester Retief die verwagting dat die stad meer beleggings sal lok wat tot ekonomiese groei sal lei. Hy het onderneem om met elke bedryf in gesprek te tree om hulle aan te moedig om aktief deel te neem aan die groei van die stad.
Vir meer inligting, kontak Retief Odendaal by 082-462-0668 of stuur ՚n e-pos aan retiefodendaal1@gmail.com