Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 10th August 2022

Wildwood-wynfees: ‘n Groot sukses

By 6 min read
1197 words

1

Foto's Bron: Merize Blom Photography

Vanjaar se Wildwood-wynfees, wat Saterdag, 9 Julie 2022 by Wildwood Events Venue & Nature Retreat buite Groblersdal gehou is, was sonder twyfel ՚n reuse sukses.

Wildwood het die Kaap na Limpopo gebring. Die koue het beslis nie die warm atmosfeer van die fees bederf nie. Die feesgangers het aan ՚n wye verskeidenheid disse gesmul en lekker wyn geproe — presies wat die siel nodig gehad het op ՚n wintersdag in die Bosveld.

“Die idee was om ՚n wynfees vanaf die Wes-Kaap na die Loskopvallei toe te bring, met die klem op Loskop-vallei,” vertel Lorraine Wentzel, eienaar van Wildwood Events Venue & Nature Retreat asook die stigter van Wildwood-wynfees.

“Die wynfees gee ons die geleentheid om van krag tot krag te gaan en plaas ons op ՚n gelyke vlak met soortgelyke feeste in die res van die land. Dit is ook lekker om iets in die gemeenskap te bied wat almal weer bymekaar bring.”

Wyn van die voorste landgoedere is geproe. Altesaam twaalf wynplase het deelgeneem, en dit was duidelik dat die feesgangers ՚n behoefte gehad het om meer oor die verskillende wynvariëteite te leer. Feesgangers kon kies en keur tussen wyn van bekende name soos Oranjerivier Kelders, Vaalbos, Riebeek Valley, Jakkalsvlei, Niel Joubert, Time4Wine, Deetlefs, Doolhof, Le Bonheur, Bizoe, Babylonstoren en Spier. Vermaak vir kinders is ook tydens die wynfees aangebied — Wildwood het ՚n plaaslike kleuterskool genader om te sorg vir genoeg vermaak, sodat kinders die dag ook saam met hulle gesinne kon geniet.

“Wildwood Events is die perfekte plek vir onthale en troues. Ons het ՚n heerlike restaurant en verblyf, daarom het ons dit goedgedink om ook die Wynfees hier te hou,” voeg Lorraine by.

Verteenwoordigers van die welbekende wynplase vertel meer:

Oranjerivier Kelders

Niks is so lekker soos ՚n heerlike
Rooi- of Witmuskadel van Oranjerivier Kelders op ՚n koue winterdag nie.

Herold de Beer vertel ons meer van Oranjerivier Kelders se uitstalling: “Ons stel ons wyne vanaf Upington bekend aan die Loskop-valleigemeenskap, onder meer ons vlagskip, Hedgehog, ons drie wit variëteite wat insluit ՚n Sauvignon Blanc, Chenin Blanc organies, Colombard en ook twee rooi variëteite, ՚n Pinotage en Shiraz. Dan ook vir die koue winterdae, ons welbekende Rooi- en Witmuskadel asook ՚n Cape Ruby en dan laaste maar nie die minste ons nuwe maatjie op die speelveld, ons Lyra Irsai Oliver-vonkelwyn van ՚n Hongaarse variëteit.”

Spier

Spier se “Wine in a can” of in pront Afrikaans sommer wyn-in-՚n-blik, was
baie gewild onder die feesgangers.

Tanita Pote, streeksverkoopbestuurder van Spier, vertel ons meer van hulle reeks wyn: “Spier is in 1692 gestig en maak al driehonderd jaar lank wyn. Ons Secret vonkelwyn is beslis ՚n aandagtrekker. Ons het ook onlangs ՚n nuwe reeks bekendgestel, Seawood. Die Seawoodreeks is net bo die Signature-reeks, wat hoofsaaklik gemaak word van ons wingerde naby die see, en dit is ook waar die wyn se naam vandaan kom. Die Seawood-reeks se kultivars sluit in ՚n Sauvignon Blanc, Chardonnay, Shiraz en Cabernet.”

Spier dink ook uit die boks met hulle nuwe “wine in a can”-toevoeging tot hulle reeks wat in verskillende kultivars beskikbaar is; Sauvignon Blanc, Merlot en Rosé. “Dit is ideaal en baie gerieflik as jy wil kampeer, of piekniek hou. Ons is die heel eerste wynplaas wat die oorspronklike kultivars geblik het. Dit is presies dieselfde wyn as wat in die bottels is, net in blik,” sê Tanita. “Dit is baie lekker vir ons om deel van die Wildwood-wynfees te kan wees; ons glo dat dit die eerste van nog baie gaan wees,” sluit Tanita af.

Vaalbos

Bianca Kooij en Plaxedes Kugarisana van Vaalbos spog met hulle wyn.

Uit die hartjie van die Loskop-vallei het Bianca Kooij die geleentheid raakgesien om iets eie aan die vallei en sy gemeenskap te bied. Saam met Bianca behartig Plaxedes Kugarisana die wynmakery op die plaas. “Wildwood se wynfees bied vir ons ՚n wonderlike geleentheid om ons Rosé en Ginvariëteite bekend te stel, en waar dan nou beter as hier in die vallei. Ons hoop dat hierdie wynfees sommer ՚n jaarlikse instelling vir die vallei sal wees,” sê Bianca.

Jakkalsvlei

Jeanine du Toit, verteenwoordiger van Jakkalsvlei-wyne, het Jakkalsvlei se stalletjie met ՚n groot verskeidenheid wyn by Wildwood-wynfees beman.

“Ek was nog nooit vantevore in Groblersdal nie, maar wat ՚n pragtige area. Dit is ՚n fantastiese plek, ek dink ook die mense is uitgehonger vir ՚n wynfees na twee jaar wat ons nie mekaar kon sien nie, of letterlik nie mekaar gesien het sonder maskers nie. Jakkalsvlei is ՚n unieke wynplaas — dit is nie ՚n wynplaas in die weste van die Kaap nie, maar 40 km van Langeberg. Dit is die enigste wynplaas in die Tuinroete-omgewing. Jakkalsvlei is redelik nuut op die mark. Die eerste oesjaar wat gebottel is, was in 2010, maar die plaas bestaan al sedert 1978. Dit is die vierdegeslag-Jonkers wat wyn maak,” vertel Jeanine.

Jeanine du Toit en Justin Dreyer van Jakkalsvlei-wyne by hulle stalletjie.

Deetlefs en Time 4 Wine

Johan Muller het die wynlandgoed Deetlefs verteenwoordig, en ook Time 4 Wine. Johan vertel meer: “Deetlefs is ՚n Rawsonville-plaas, wat die tweede oudste wynplaas in die land is. Deetlefs spesialiseer in Chenin Blanc- en Pinotage-druiwe. Ons glo dat hierdie wynfees die geleentheid bied vir mense in die gemeenskap om van nuwe wynvariëteite te leer.”

Babylonstoren

“Babylonstoren is geleë in die Paarl se Simonsberg-omgewing,” vertel Marcel du Preez van Babylonstoren wyne. “Ons bekendste wyn is ons Rosé, wat ook vanjaar by die Chelsea-blommeskou in die Verenigde Koninkryk gepronk het. Ons het ook ՚n unieke produk wat ons graag wil voorstel, die bitterlekker nie-alkoholiese aperitief beskikbaar in bloedlemoen-, roosmaryn- en heuningbosteegeur. Dit is altyd lekker om in die buitewyke te kom, en wat ՚n voorreg ook om ons wyn bekend te stel by die Wildwoodwynfees, veral aan die mense wat bietjie vêr van ons af geleë is.”

Doolhof

Edmund Taljaard vertel meer van Doolhof se wyne: “Doolhof is geleë in die Limietbergreeks in die Wellington-distrik. Een van ons meer bekende wyne is Bloedklip, aanvanklik ՚n Argentynse versnit wat ons in Suid-Afrika begin maak het. Dit is een van die mees gewilde Mallbec-wyne in die land.”

Le Bonheur

“Ons wynplaas is geleë in Stellenbosch, in die Simonsberg landgoed op die suidelike hange van Klapmutskop,” vertel William Wilkinson, wynmaker van Le Bonheur-wynplaas.

“Ons grond is baie ryk aan graniet en minerale. Die wingerde op die plaas in baie oud en diep gewortel; ons wyne is baie vruggedrewe, met ՚n baie elegante mineraalinhoud wat dit uniek maak. Ons fokus hoofsaaklik op Bordeauxkultivars. Die spesiale variant, Petit Verdot, is ons vlagskip, wat ook die afgelope drie jaar die nasionale prys verower het as die beste Petit Verdot. Ons het ook die oudste Sauvignon Blanc, geplant in 1977, en ook die heel eerste Sauvignon Blanc op ՚n kommersiële platform gemaak in Suid-Afrika. Ons sien baie daarna uit om almal weer volgende jaar en die jaar daarna hier te sien.”

Die stalletjies is uitstekend ondersteun deur inwoners van die gemeenskap en van ver. Die atmosfeer was wonderlik, die musiek was lekker en dit was ՚n hoogtepunt om weer saam met ou vriende te kuier.

Om meer uit te vind oor Wildwood Events Venue & Nature Retreat, kontak Lorraine Wentzel by (+27) 61-582-2096 of besoek hulle webwerf by www.wildwoodvenue.com.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0