Wildboerdery: Maak reg vir die winter

winter 10
Die winter kom nader, en daarmee saam talle uitdagings. Die klimaat, plantegroei en wild op wildplase verskil in die verskillende streke van die land, maar algemene riglyne kan gevolg word om te verseker dat die wild in die winter goed bestuur word om verliese te voorkom.
Kuddebestuur kom hoofsaaklik neer op die bestuur van voeding en dieresiektes. Die twee hou verband, want gesonde voeding maak wild meer weerstandig teen siektes en die spanning wat onder meer deur klimaatstoestande veroorsaak word.
Voedingsbestuur
Die belangrikste beginsel van voedingsbestuur is drakrag, want dit verseker dat die weiding op jou plaas ten volle benut word sonder dat dit weens te druk beweiding agteruitgaan.
Drakrag
Die konsep van drakrag is oorspronklik vir grootvee wat almal dieselfde weidingspatroon volg uitgewerk. Wild het ՚n ander benadering nodig om te bepaal hoeveel en watter tipe wild deur die weiding onderhou kan word. Die geskikte habitat, reënval en die gehalte en hoeveelheid weiding en die voedingsbehoeftes van die verskillende spesies moet in ag geneem word.
Die konvensionele omskakeling van wild na ՚n grootvee-eenheid (GVE) moes vervang word met ՚n grasvretereenheid, wat gelykwaardig is aan ՚n blouwildebees van 180 kg, en ՚n blaarvreter wat gelykwaardig is aan ՚n 140-kg koedoe. Deur die drakrag vir blaar- en grasvreters afsonderlik te bereken kan die plante teenwoordig op die veld optimaal benut word.
Herkouers
Grasvreters, wat herkouers is, kan oorhoofs gegroepeer word as grasvreters, intermediêre vreters en selektiewe grasvreters. Grasvreters is aangepas om groot hoeveelhede ruvoer wat ryk is aan strukturele koolhidrate, soos sellulose, te vreet. Hulle het lang weitydperke met tussenposes vir herkou en rus nodig. Hulle het goed ontwikkelde grootpense (rumens) om vertering deur anaërobiese gisting, te laat plaasvind. Sommige grasvreters is massavreters, soos buffels, wat aangepas is om ՚n rantsoen met hoë veselinhoud en lae proteïeninhoud te benut.
Selektiewe grasvreters, soos swartwitpense, gemsbokke en waterbokke, het ՚n hoër proteïenbehoefte, maar het ook ՚n hoëveselrantsoen nodig. Intermediêre vreters sluit njalas, rooibokke, springbokke en elande in. Hulle is selektiewe gras- en blaarvreters wat ՚n gemengde rantsoen verkies, maar ՚n baie veselagtige voerbron vermy. Hierdie diere het ՚n korter tydperk vir wei, herkou en rus nodig. Hulle verteer nie vesel so goed soos grasvreters nie en sodra die gras houtagtig raak in die winter, pas hulle aan deur meer blare, vrugte en sade te vreet. Hulle rumens is gewoonlik kleiner, minder gespierd en laat voer makliker deurvloei. Hulle maak gebruik van voor- en agtermaag-gisting.
Hou die lading in die kamp waar hierdie wild wei laag om te voorkom dat sekere boomblare se tannienvlakke weens oorbenutting te hoog raak, wat kan lei tot vrektes. Blaarvreters sluit wildsoorte soos koedoes, kameelperde en duikers in wat baie selektief is en aangepas is om minder veselagtige ruvoer te benut. Hulle kies plantmateriaal van hoë gehalte en moet meer gereeld vir ՚n kort tydperk eet en herkou. Diere met verskillende voedingsbehoeftes kan nie altyd in afsonderlike kampe aangehou word nie. Groepeer intermediêre vreters hetsy saam met grasvreters of selektiewe grasvreters.
- Ter wille van biosekerheid moet heinings wat springers soos koedoes en elande insluit, minstens 2,4 m hoog wees. (Bron: Pixabay)
- ՚n Meerkat op die uitkyk vir ՚n roofvoël, of kyk hy waar die reën bly? (Bron: Pixabay)
Byvoeding
Plase en wildkampe op die plaas verskil in grootte, tipografie en die samestelling van die plante. Voedingstekorte kan met die korrekte byvoeding aangevul word. Voordat spesifieke voerkomponente soos proteïen, energie of minerale aangevul word, moet daar genoeg ruvoer beskikbaar wees om voldoende rumenvul te verseker.
Ruvoer is die goedkoopste voedingsbron en ՚n vesellengte van minstens 5 cm sal voldoende herkou, vertering en rumengesondheid verseker. Die totale styselvlakke moet onder 15% gehou word, want te veel kan lei tot suurpens(asidose), diarree en selfs vrektes. Byvoeding moet egter nie veld vervang nie, maar net moontlike tekorte aanvul. ՚n Tekort sal die dier belemmer om sy ontwikkelings- en groeipotensiaal te bereik. Mededinging tussen diere kan vermy word deur voldoende vreetspasie by voerbakke te verskaf. Diere moet ook oor ՚n tydperk van sowat 14 dae aan die byvoeding gewoond gemaak word.
Vermindering van getalle
Wildgetalle moet aanpas by die drakrag van die veld en getalle moet betyds verminder word wanneer die toestand van die veld agteruitgaan. Selektiewe jag van diere wat nie meer produktief is nie, of uitvang en verkoop van lewende wild is ՚n goeie en winsgewende opsie. Die meeste wild word in die wintermaande wanneer dit koeler is geskuif of gejag en hierdie vermindering van wild moet deel vorm van die bestuursplan vir die plaas.

Om vlakvarke en bosvarke, wat draers van Afrika-varkpes kan wees, uit te hou, kan ogiesdraad onderaan die heining onder die grond begrawe word
en met klippe vasgepak word. (Bron: JP Steyn)
Water
Water is net so belangrik vir wild as voldoende voeding. Wanneer weiding welig groen is gedurende en net na die reënseisoen, hoef wild nie so gereeld water te drink nie. Wanneer die gehalte van die weiding in die winter agteruitgaan, moet voldoende vars water voorsien word. Indien nie, sal die diere nie ruvoer kan verteer nie, kondisie verloor, swak reproduseer en meer blootgestel wees aan siektes en gure weer.
Ken Coetzee van Conservation Management Services in George in die Suid-Kaap is van mening dat waterbronne op ՚n wildsplaas afhang van die toestand van die veld: hoe beter die veld opgepas word, hoe meer water is beskikbaar. Die aanvulling van grondwater hang saam met die herstel en beskerming van die veld. Hy sê oorbeweiding is een van die belangrikste oorsake van oorbenutting van grondwaterbronne.
“Oorbeweiding vernietig die beskermende laag plantegroei op die bodem. Wanneer die grond oorbewei is, bak die aarde kurkdroog en die water kan nie indring nie, maar spoel weg.” Damme in rivierlope of slote belemmer ook die natuurlike vloei van water en ontneem nie net die laerliggende ekosisteem van oppervlakwater nie, maar ook die water wat normaalweg die grond sou indring en die grondwatertafel voed.
“Water bevat organiese en anorganiese stowwe wat noodsaaklike minerale aan wild verskaf. Namate natuurlike watergate opdroog, verhoog die konsentrasie van die minerale in die grond en dit kan die wild nadelig beïnvloed. Grondwater wat met sonkrag na die oppervlak gepomp word om krippe te vul, moet so geplaas word dat dit nie lei tot vertrapping en oorbeweiding in die direkte omgewing van die suiping nie. Die suipings moet ook so beplan word dat dit vir diere met verskillende suippatrone voorsiening maak; die meeste wild wil in ՚n oopte drink sodat hulle gevaar betyds kan gewaar. ՚n Helling van klippe aan die buitekant van ՚n krip waarteen ՚n skilpad kan opklouter en ՚n hopie klippe wat net bokant die oppervlak van die water uitsteek, sal ՚n veilige landingsplek vir voëls, bye en skoenlappers verskaf en help dat hulle veilig drink.

Sonpompe wat nie deur beurtkrag geraak word nie is meer betroubaar.
Voorbrande
Veldbrande bly ՚n konstante gevaar vir weiding vir wild in die winter wanneer die veld droog is. Voorbrande, wat volgens ՚n deurdagte brandplan wat deur die gepaste owerhede goedgekeur is, moet voor die aanvang van die winter gemaak word. Die brandbane moet wyd genoeg wees en skoon gehou word van brandbare materiaal sodat sterk wind nie die vlamme laat oorspring na veld wat nie vir brand geoormerk is nie. Veld wat net voor die eerste reëns gebrand word, kan ook waardevolle voeding voorsien na die lang wintermaande. Maar pasop, waarsku ՚n boer van Limpopo, diere wat hulself oorvreet aan proteïenryk groenvoer kan oornag vrek aan bloednier. Beheerde brande kan ook bosindringing bekamp, maar moet oordeelkundig gedoen word anders kan waardevolle voedingsplante vernietig word.
Dieresiektes
Dit is belangrik om ՚n deurdagte gesondheidsprogram, wat inenting, dosering, en die beheer van bosluise en ander bloedsuiende insekte insluit, noukeurig te volg.
- Skaars, sensitiewe wild soos swartwitpense moet goed opgepas word in die winter om siektes en vrektes te voorkom. (Bron: Pixabay)
- Die meeste wild verkies ՚n suiping in die oopte. (Foto: Tisha Steyn)
Heinings
Biosekerheid is die belangrikste deel van voorsorg en grensdrade is die eerste stap. Maak seker jou grensdrade is hoog en sterk genoeg om jou wild binne te hou en siektes en ongewenste besoekers uit te hou. Loop die heinings gereeld na en herstel indien nodig.
Heinings wat springers, soos koedoes, moet inhou, moet minstens 2,4 m hoog wees. Bos- en vlakvarke wat varkpes kan versprei, kan in- of uitgehou word deur ogiesdraad wat onderaan die heining geheg is, onder die grond te begrawe en met klippe vas te pak. Heinings moet sterk genoeg wees om diere soos buffels as draers van bek-en-klouseer uit te hou. Geëlektrifiseerde heinings se onderste drade moet verwyder word om te voorkom dat skilpaaie en ietermagogs wat probeer deurkruip verkool word. ՚n Ou motorband wat onderaan ՚n heining vasgemaak is, kan as ՚n gawe deurgang dien vir grawers soos ystervarke en ander wild wat hulle gate gebruik. Halfdeurlaatbare heinings kan kleiner wild toelaat om vrylik te beweeg na kos en water.
Vra raad
Jou wildveearts is jou beste vriend – maak gebruik van die persoon se kundigheid en ondervinding. As jy onseker is, vra. Net soos uiterste hitte, veroorsaak uiterste koue en nat toestande spanning by diere, wat, veral wanneer hulle weens verskeie faktore kondisie verloor het, meer vatbaar vir siektes is. Hou ՚n oog op die Nasionale Weerburo se maandelikse weerwaarskuwings en voorstelle oor hoe om dit te versag.
Kontak Ken Coetzee van Conservation Management Services by 076-227-5056 of consken@mweb.co.za vir meer inligting.
Bronverwysings
Bothma, J duP., Van Rooyen, N., Van Rooyen, M. (2009) Using diet and plant resources to set wildlife stocking densities in African savannas Wildlife Society Bulletin 32(Sep 2004):840-851 DOI:10.2193/0091- 7648(2004)032[0840:UDAPRT]2.0.CO;2 https://www.researchgate.net/publication/232686540_Using_diet_and_plant_resources_to_set_wildlife_stocking_ densities_in_African_savannas
Furstenburg, D. (2018) Deel 1: Wildplaasbeplanning en die invloed van filobiogeografie op wildboerdery. Afri Wild Services https://www.researchgate.net/publication/322723651_Deel_1_Wildplaasbeplanning_en_die_invloed_van_filobiogeografie_op_wildboerdery
Marquart, A., Van Coller, H., Van Staden, N., Kellner, K. (2023) Response of herbaceous functional types and woody vegetation to selective shrub control on wildlife and cattle ranches in a semi‐arid savanna
Applied Vegetation Science 26(4)DOI:10.1111/avsc.12755https://www.researchgate.net/publication/376785256_Response_of_herbaceous_functional_types_and_woody_vegetation_to_selective_ shrub_control_on_wildlife_and_cattle_ ranches_in_a_semi-arid_savanna
National Agro-meteorological Committee (NAC) Advisory on the 2023/24 summer season. Statement from Climate Change and Disaster Risk Reduction. 5 February 2024 https://mail.google.com/mail/u/0/#search/NAC/FMfcgzGtwqMCZktMRGdgdXBfTCSCcjWV?projector=1&messagePartId=0.1
Potgieter, J. (2017) Wenke vir byvoeding in die winter. Landbouweekblad https://www.pressreader.com/south-africa/landbouweekblad/20170728/282527248494202
Steyn, S. (2023) A review of fire as a veld management practice. Angus Journal 2023 https://www.researchgate.net/publication/371379085_A_review_of_fire_as_a_veld_management_practice
Steyn, T. (2023) Game ranching part 1: Water for game ProAgri.co.za https://proagri.co.za/game-ranchingpart-1-water-for-game/
Steyn, T. (2023) Game ranching part 2: Placement of watering points ProAgri. co.za https://proagri.co.za/game-ranchingpart-2-placement-of-watering-points/
Steyn, T. (2022) FMD could wipe out game ranches. ProAgri.co.za https://proagri.co.za/fmd-could-wipeout-game-ranches/



