Categories: NuusPublished On: 15th December 2025

Wes-Kaapse bewaringsgebied brei met 47 000 ha uit

By 6 min read
1121 words

Anysberg1

Anysberg Natuurreservaat is met 6 918 ha uitgebrei om sleutel botaniese diversiteit, insluitend veertien plantegroeitipes van die Sukkulente Karoo- en Fynbosbiome, waarvan vyf nog nooit voorheen in ‘n bewaringsgebied opgeneem is nie, te beskerm. (Bron: CapeNature)

Die Wes-Kaap se bewaringsgebiede is met 47 000 ha uitgebrei. Dit is ‘n aansienlike stap nader aan die teiken om teen 2030 altesaam 30% van die provinsie onder bewaring te hê.

Die 47 000 ha sluit die uitbreiding van twee bestaande natuurreservate en twee nuwes in.

Die aansienlike uitbreiding in bewaringsgebiede maak voorsiening vir die voortgesette telling van die bedreigde Kaapse bergsebra, ander soogdiere, voëlspesies en bedreigde sukkulente in die provinsie.

Die nuwe toevoegings brei die bestaande Anysberg Natuurreservaat in die Karoo, en die Knersvlakte Natuurreservaat in Namakwaland met uit met altesaam 41 000 ha.

Die nuutverklaarde natuurreservate van nog 6 000 ha in die Klein Karoo sluit die Waterkloof Natuurreservaat  naby Ladismith en die Zebraskop Natuureservaat in die Gamkaberggebied in.

Die grond is deur die WWF Suid-Afrika aangekoop met fondse wat deur die Leslie Hill Sukkulente Karoo Trust en ander bronne beskikbaar gemaak is.

Hierdie gebied verbeter die ekologiese integriteit en dra by daartoe dat die gebiede aan mekaar verbid word. Volgens CapeNature word dit toenemend belangrik om bewaringsgebiede met mekaar te verbind ten einde noodsaaklike korridors te skep waarlangs wild vrylik tussen die bewaringsgebiede kan beweeg.

Die nuwe gebiede bring CapeNature nader aan die ideaal om 30% van die grond en see teen 2030 onder bewaring te hê, soos uiteengesit deur die Verenigde Nasies.

“Hierdie is ‘n betekenisvolle stap om die Wes-Kaapse bewaringsgebied uit te brei en met mekaar te verbind en terselfdertyd van die wêreld se mees bedreigde plante en diere te bewaar, asook die langtermyn oorlewing van die Kaapse Bergsebra te verseker,” sê dr Ashleigh Naidoo, hoof uitvoerende beampte van CapeNature.

“Hierdie werk sou nie moontlik gewees het sonder ons vennote en veral die WWF SA en die Leslie Hill Succulent Karoo Trust nie; hulle ondersteuning het ‘n verskil van hierdie formaat moontlik gemaak.”:

“Hierdie prestasie is die gevolg van jarelange toewyding en samewerking. Dit is ‘n belangrike oorwinning vir bewaring, die provinsie en sy mense om hierdie kritieke gebiede vir toekomstige geslagte te bewaar,” sê Jan Coetzee, WWF SA se landskapbestuurder vir die Kaapse Floristiese Streek. “Dit is slegs moontlik deur die sterk vennootskappe met sleutel-donateurs, bewaringsinstansies, regskenners en provinsiale regerings wat saamgewerk het tot voordeel van almal.”

Die Knersvlakte Natuurreservaat in Namakwaland is met 34 084 ha uitgebrei, die grootste uitbreiding sedert die reservaat se ontstaan in 2014.

Anysberg Natuurreservaat uitgebrei

Met die ondersteuning van die Leslie Hill Succulent Karoo Trust is die Anysberg Natuurreservaat met 6918 ha uitgebrei om sleutel botaniese diversiteit te beskerm. Die uitbreiding bied beskerming teen veertien plantegroeitipes van die Sukkulente Karoo- en Fynbosbiome waarvan vyf nog nooit voorheen in ‘n bewaringsgebied voorgekom het nie. Dit versterk die ekologiese korridors tussen Anysberg, Sanbona Natuurreservaat, Destiny Natuurreservaat en die Klipgat Bewarea.

Die landskap is ryk aan biodiversiteit, sowat 180 voëlspesies kom hier voor, asook verskeie antiloopspesies, erdvarke, luiperds, Kaapse Bergsebras en die kritiek-bedreigde oewerkonyn. Die uitbreiding ondersteun ook aanpassing by klimaatsverandering deur noodsaaklike ekologiese prosesse te onderhou.

Knersvlakte Reservaat uitgebrei

Die Knersvlakte het ‘n verstommende verskeidenheid miniatuur sukkulente, hoogs endemiese spesies en betekenisvolle kulturele erfenisgebiede. (Bron: CapeNature)

Die Knersvlakte Natuurreservaat in Namakwaland is met 34 084 ha uitgebrei. Dit is die grootste enkele uitbreiding sedert die reservaat se ontstaan in 2014. Die uitbreiding, wat deur die Leslie Hill Succulent Karoo Trust befonds is, versterk die reservaat se ekologiese integriteit en bevestig die grense.

De gebied sluit nou nege addisionele plantegroeitipes in, waarvan talle voorheen geen of baie min beskerming geniet het. Die Sukkulente Karoobioom word internasionaal erken as ‘n biodiversiteits-brandpunt wat toenemend druk ervaar van onwettige plantversameling, prospektering en mynbou.

Die Knersvlakte het ‘n verstommende verskeidenheid miniatuur sukkulente, hoogs endemiese spesies en betekenisvolle kulturele erfenisgebiede.

Nuwe Zebraskop Natuurreservaat

Die Zebraskop Natuurreservaat van 3952 ha wat geskep is om die Kaapse Bergsebra genetiese program te ondersteun deur noodsaaklike laagland habitat te bekom wat die potensiaal het om die geneties belangrike Gamkaberg sebrabevolking te verdubbel. Die reservaat sal as deel van Gamkaberg Natuurreservaat bestuur word.

CapeNature is besig om ‘n korridor tussen Gamkaberg en Zebraskop te ontwikkel en die drie Kaapse bergsebras wat in 2024 vanaf die Kammanassie Natuurreservaat oorgeplaas is te moniteer.

Die nuwe reservaat sluit elf plantegroeitipes in, waaronder die kritiek bedreigde Gourits Asbos-Gwarrieveld wat nou vir die eerste keer formeel beskerm word.

Nuwe Waterkloof Natuurreservaat

Die nuut verklaarde Waterkloof Natuurreservaat van 2062 ha maak deel uit van die Klein Swartberg-opvangsgebied en sal as deel van die Swartberg Kompleks deur CapeNature bestuur word. Dit is ‘n kritieke opvanggebied en een van die hoof waterbronne vir Ladismith en aangrensende gemeenskappe.

Waterkloof sluit sewe plantegroeitipes in, insluitend twee wat voorheen gedeeltelik beskerm was, en nog een wat as bedreig gelys is. Die reservaat versterk die formele bewaring van die suidelike hange van die Klein Swartberg en dra by tot die daarstel van ‘n belangrike bewaringskorridor.

Gamkaberg Natuurreservaat is ryk aan geskiedenis. Die interpretasiesentrum is opgerig om meer inligting te verskaf oor die erfenis van die Attakwa en Kannaland-Khoi. (Bron: Tisha Steyn)

Provinsiale status vir Doringkloof Natuurreservaat

Vroeër in November het die Doringkloof Natuurreservaat provinsiale status gekry. Die reservaat van 209 ha vorm deel van die Touwvallei Cluster en speel ‘n belangrike rol in die uitbreiding van bewaringskorridors tussen Anysberg, Warmwaterberg en Langeberg tot voordeel van biodiversiteit in die streek en weerstandigheid  teen klimaatsverandering.

Nuwe Karoo Gate Bewarea

Die nuwe Karoo Gate Bewarea naby Klaarstroom in die Sentraal-Karoo is ook onlangs aangekondig. Die gebied bestaan uit sowat 18 000 hektaar wat deur sewe grondeienaars opsygesit is vir die bewaring van die besondere biodiversiteit wat hier uit vier biome bestaan, naamlik Fynbos, Sukkulente Karoo, Nama Karoo en Subtropiese Ruigtewoud, elk met hulle eie kenmerkende plantegroei wat duisende plantspesies beloop.

CapeNature is ‘n openbare instansie met die mandaat om biodiversiteitsbewaring in die Wes-Kaap te bevorder en te verseker. CapeNature is ook die beskermingsheer van die Kaapse Floristiese Gebied en bestuur die meeste van die berg-opvangsgebiede en reservate wat ekosisteemdienste aan die inwoners van die provinsie verleen. Die bestuur is baseer op wetenskaplike data, ‘n begrip van Fynbosekologie en ‘n verbintenis tot die beginsels van geïntegreerde biodiversiteitsbestuur en -beplanning. Die meeste van die werk word verrig waar dit nie sigbaar is nie, maar het ‘n direkte invloed op die lewenstandaard van miljoene inwoners van die provinsie.

Die Zebraskop Natuurreservaat van 3952 ha is geskep is om die Kaapse Bergsebra genetiese program te ondersteun en het die potensiaal om die geneties belangrike Gamkaberg sebrabevolking te verdubbel. (Bron: CapeNature)

Die WWF is een van die grootste en mees gerespekteerde onafhanklike bewaringsorganisasie in meer as 100 lande in sy netwerk, insluitend ‘n nasionale kantoor in Suid-Afrika. Die WWF se missie is om die agteruitgang van die aarde se natuurlike omgewing te stuit en om ‘n toekoms te bou waar mense in harmonie met die natuur bestaan. Dit word gedoen deur die wêreld se biologiese diversiteit te bewaar, te verseker dat hernubare natuurlike hulpbronne volhoubaar gebruik word en besoedeling en oorbenutting bekamp word. .

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0