Werkers erg aangerand tydens plaasaanval

doringdraad
’n Veeroof het na ’n plaasaanval op die plaas, Jakkalsdraai, in die Hertzogville-distrik gelei. Sarel Bornman loop gedurende die drie maande van sy skaapvoerkraal se piek produksietyd in ‘n jaar, ten minste een keer ’n week onder veediewe deur.
Sarel sê omstreeks eenuur Saterdagnag het veediewe weer op sy skaapkrale toegeslaan. Hy het na die skaapkrale gegaan en waarskuwingskote afgevuur. Jan Makgetla en sy vrou, Mogobo, werk al die afgelope vyf jaar vir hom en het hulle ook na die skaapkraal gehaas om hom te gaan bystaan. Die Polisie is ontbied, maar geen verdagtes kon gevind word nie.
Met die Makgetlas se terugkeer na hulle huis het vier verdagtes hulle egter ingewag. Jan is twee keer met ‘n mes gesteek en erg aangerand. Mogobo is ook ernstig aangerand en al haar tande is uitgeslaan.
“Hoe doen ‘n mens dit aan iemand anders? My mense is erg verniel. Jan sê vir my hulle het hom so geslaan en geskop dat hy gedink het dat hulle hom gaan doodslaan,” vertel Sarel.
Die Makgetlas is in die plaaslike hospitaal behandel en sterk tuis aan. Sarel sê ondertussen bring hy nog sekuriteit by sy werkers se wonings aan. Dit was die tweede veediefstalvoorval by hom verlede week. Vroeër die week het veediewe ook daar toegeslaan. Toe hy weer vinnig gereageer het, het die veediewe een van sy lammers se bene gebreek en op die vlug geslaan. Soos wat hulle verby die werkers se huise gehardloop het, het hulle die werkers se huise met klippe bestook in ’n poging om die werkers te intimideer.
Die VKB/VL Veiligheidslessenaar se statistiek dui aan dat hierdie aanval die 16 de een die jaar in die Vrystaat was. Altesaam agt van die aanvalle was op boere, waarvan een slagoffer ’n opkomende boer was. Die ander agt was op werkers, waartydens erge aanranding en verkragting ook aangemeld is. Geen moorde is tot dusver die jaar al aangemeld in die Vrystaat nie.
Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van Vrystaat Landbou (VL), sê volgens die organisasie se statistiek is dit duidelik dat misdaad op plase die totale landelike gemeenskap raak. “Ons verwerp alle voorvalle van misdaad en geweld op plase en hoop dat die skuldiges spoedig aangekeer sal word. Verder rig ons weer eens ’n versoek aan die Regering om in te gryp in die situasie om alle lede van landelike gemeenskappe veilig te hou deur daadwerklike stappe, soos in die Landelike Beveiligingsplan uitgestippel, aktief in werking te stel en vol te hou daarmee. Aanvalle op boere en werkers bedreig voedselsekerheid en werksgeleenthede op plase. Werkers raak toenemend bang om op plase te woon, en wil eerder op dorpe gaan woon en daar werk, wat druk vir werksgeleenthede en armoede op plattelandse dorpe verhoog.”
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, sê voorvalle waar diefstal, veral veediefstal, op plase later lei tot plaasaanvalle, neem toe in die provinsie. “Boere moet paraat wees vir sulke voorvalle, en ook hulle werkers daaroor in kennis stel. Rus jou werkers ook toe met kennis en toerusting om te kan deelneem aan die plaaslike plaaswagstelsel en om jou en die stelsel ingelig te hou oor verdagte optrede, persone of voertuie op plase.”
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar