Weidingsbestuur deel 4: Vuur se invloed op weiding

vuur 1
Kenners is dit eens dat vuur nie ‘n swak weidingsplan kan regstel nie. (Bron: Pixabay)
Suid-Afrika word verdeel in ’n somer- en winterreënseisoen. Die grootste deel van die land kry somerreëns van November tot Maart, terwyl die Wes-Kaap winterreëns van Mei tot Augustus kry.
Weens klimaatsverandering, kom daar laer of hoër reënval asook oorstromings of langer droogteperiodes in albei gebiede voor. El Niño en La Niña het ook elkeen hulle eie invloed op die reënvalpatroon en dit is moeilik om vooruit te bepaal hoe die weer gaan draai, al probeer weerprofete baie hard om boere te help voorberei op die volgende seisoen se weergrille.
Of jy nou in ’n somer- of winterreënvalgebied boer, ná ’n lekker nat reënseisoen staan die weiding geil. Maar uiteindelik verlep en verdor die gras en die voedingswaarde kwyn. Dan is dit tyd om te besluit of jy die weiding wil brand of los. Hoewel goeie weidingsbestuur altyd die eerste keuse is, is daar voor- en nadele verbonde aan brand, en moet jy ’n sinvolle brandplan hê wat jou gaan help om die regte besluit te neem.
Volgens weiveld-ekoloog Shobie Arnoldi van Ermelo, wat veldmonitering doen waaruit ’n volhoubare weidingsbestuursplan saamgestel kan word sodat kampe se grondgesondheid kan verbeter, is dit belangrik om te besin voordat jy brand.
“Vuur is van kritieke belang vir die instandhouding van biodiversiteit en ekologiese prosesse en dra by tot die eiesoortige aard van weiveld,” sê Shobie.
“Vuur kan ook gebruik word om onwelkome plantmateriaal, soos ’n dik graslaag en of dooie materiaal, te verwyder en om ongewenste plantspesies uit te roei en of te voorkom.”
Navorsing het getoon dat weiveld gewoonlik gebrand word om oortollige plantmateriaal of biomassa en ongewenste plantegroei, soos uitheemse indringerplante wat tot bosverdigting lei, te vernietig.
“ ’n Belangrike aspek om in ag te neem wanneer vuur as bestuurshulpmiddel gebruik word, is om slegs te brand as die veld daarvoor kwalifiseer.”
Volgens Shobie is dit wenslik om brand te vermy op ’n veld wat deur Toenemer 2-grasspesies gedomineer word, want dit kan hierdie grasspesiegetalle verhoog, die veldtoestand verswak en drakrag benadeel.
As die fitomassa, of biomassa van plantaardige oorsprong, op die veld minder as twee ton per hektaar is, sal die brandstoflading nie genoeg wees om ’n behoorlike brand te onderhou nie. Sulke brande kan die bestaande plantgemeenskap en grondmikrobes beskadig.
Veld met sensitiewe grond soos sanderige grond – in die vorige artikel het ons spesifiek na die uitwerking van weiding op sanderige en kleierige grond gekyk – moet ook nie vir brande oorweeg word nie.
Die brand van savannaveld vir weidingsdoeleindes kan ook doelloos wees as die veld verby ’n sekere vlak van ekologiese suksessie, oftewel die biologiese verandering van plantegroei in reaksie tot omgewingsfaktore, gevorder het.

Navorsing oor impak van brand in droër dele
Navorsing deur prof. Hennie Snyman, afgetrede hoogleraar van die departement weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het getoon die impak wat veldbrande in die droër dele van die land op die weiding-ekosisteem het, word dikwels onderskat.
Volgens hom is die probleem dat die werklike uitwerking of trefkrag daarvan op die weiding-ekosisteem ’n seisoen of twee daarna eers werklik waargeneem word.
In die hoër reënvalgebiede vorm brand dikwels deel van die volhoubare benutting van die weiding-ekosisteem. In droër dele ry onbeplande brande egter risikobestuur in die wiele en boere weet nie regtig wat die omvang van produksieverliese as gevolg hiervan is nie.
Veral in die lig van klimaatsverandering, is dit bykans onmoontlik om te raai wat die toestande ná die brand gaan wees omdat reënval in droë dele wisselvallig is en daar kan nie op opvolgreën aan die begin van die reënseisoen staatgemaak word nie.
Snyman beaam Shobie se mening dat vuur nie swak weiveldbestuur kan regstel nie. In droër dele waar die veld in die winter goed benut word en daar nie juis biomassa opbou nie, word vuur as ’n bestuurshulpmiddel geensins aanbeveel nie.
Onbeplande brande in droër dele noop ’n boer soms om te brand om weiding te stimuleer omdat sy oupa en sy pa dit dan altyd so gedoen het! Hierdie besluit is gebaseer op “ondervinding” van wat dalk destyds gewerk het en nie op wetenskaplike kennis oor die groei van die weidingsplante bo én onder die grond nie.
Volgens Snyman vorm die wortelstelsel die ratwerk vir volhoubare benutting van die weiding-ekosisteem. Vroeër jare is besluite geneem op grond van wat jy bo die grond kan sien, terwyl daar min of geen kennis beskikbaar was oor die invloed van ’n vuur op die wortelgroei van ’n weiveld, veral in droëer dele nie.
Vuurintensiteit
Die navorsing het bevind dat ’n brand saam met die wind ’n “koue” vuur was wat vinnig oor die plantegroei beweeg het. ’n Brand teen die wind was ’n stadige, “warm” vuur wat baie hitte naby die grondoppervlak genereer het en hoër plantegroei-afsterwing tot gevolg gehad het.
Die vuur het nie die botaniese samestelling van die veld beïnvloed nie, maar het tot ’n groot afname in plantbedekking gelei – veral die groot polle wat die warmste vuur genereer het, het die grootste afsterwing getoon.
Die navorsing het getoon dat:
- veral Themeda triandra (rooigras), Cymbopogon plurinodis (terpentyngras) en Elionurus muticus (koperdraadgras) die grootste persentasie afsterwing weens die brand getoon het;
- die pionierspesie Tragus koelerioides (wortelsaadgras) die meeste as gevolg van die brand toegeneem het;
- ’n maand ná die brand was die basale bedekking 66% laer weens die brand en ná twee groeiseisoene was dit steeds 11% laer as ongebrande veld.
- ՚n Vuur kan die groei van graswortels onder die grond benadeel. (Bron: GG, Unsplash.com)
- Die ondergrondse wortelgroei is net so belangrik vir ’‘n plant as die plant self. (Bron: Curated Lifestyle, Unsplash.com)
Bo- en ondergrondse produksie
Die afname in plantbedekking weens die brand het tot ’n afname in bo- en ondergrondse produksie meegebring. Die wortelmassa van die grasse het dramaties afgeneem gedurende die eerste groeiseisoen na die brand. Die wortelmassa op 0 mm tot 900 mm diep op nie-gebrande veld was 80% hoër as gebrande veld.
Hoewel bogrondse produksie na die tweede seisoen ná die brand begin herstel het, was die wortelmassa in die eerste seisoen ná die brand – 35% laer as in nie-gebrande veld. Die beter seisoenale wortelontwikkeling en die digter plantbedekking by die nie-gebrande veld was grootliks verantwoordelik vir die hoër bogrondse produksie in vergelyking met gebrande veld.
In droër gebiede was die ondergrondse produksie baie hoër is as dié van die bogrondse produksie. Die afname in bogrondse produksie weens brand was 773 kg/ha, teenoor die 1 924 kg/ha verlies in wortelmassa.
Dit dui daarop dat die wortelgroei in droër dele meer sensitief is vir brand as die bogrondse ontwikkeling, en nán behoorlike rusperiode is noodsaaklik om die gebrande veld so gou moontlik te laat herstel.
Seisoenale groeisiklus van wortels
Die navorsing het getoon dat wortelgroei baie seisoenaal is en met reënperiodes gepaardgaan, maar dit plat af wanneer die grasse saad maak. Stadige bogrondse groei vind plaas wanneer die grasse dormant is, maar in dié tyd het wortelmassa toegeneem.
Wortelgroei met diepte
Die dieper wortelstelsel van ongebrande veld verklaar die groter bestandheid teen droogte in vergelyking met gebrande veld wat meer gevoelig daarvoor is.
Die meeste graswortels het, ongeag brand, in die boonste grondlae voorgekom. Brand het die wortelverspreiding ná ses maande veral tot 100 mm aansienlik verhoog, maar reeds binne twee maande wortelverspreiding dieper as 100 mm verlaag.
Die styging in wortelmassa oor die boonste grondlae as gevolg van die brand kan dalk toegeskryf word aan die tydelike toevoeging van voedingstowwe vanweë die brand.
Die navorsing het getoon dat droogtes – ’n normale verskynsel in die droër dele – se intensiteit en frekwensie kan deur brand verhoog word.
Wortelgroei en ontblaring
Die persentasie blare wat verwyder word deur ontblaring sonder ’n brand het ’n invloed op die wortelgroei en -ontwikkeling.
Indien ’n klimaksplant in die droër dele se blaaroppervlakte met 80 tot 90% verwyder word, kan dit wortelgroei tot 17 dae laat staak. Ontblaring van 60 tot 70% laat die wortels stadiger groei, terwyl ’n ontblaring van tussen 40 en 50% die wortelgroei minder beïnvloed en dus beter is vir vinniger herstel.
Die rusperiode ná brand in droër dele moet voorsiening maak vir bogrondse en ondergrondse produksie – die gras moet kans kry om uit te groei ter wille van groeikragtigheid, beter grondbedekking en saailingvestiging. Die plante moet dus eers uitgroei voordat dit bewei word.

Ná goeie reën staan die weiding geil, maar uiteindelik verlep en verdor die gras en die voedingswaarde kwyn – en dan is dit tyd om te
besluit of jy die weiding wil brand of los. (Bron: Topveld Facebook)
Kontakbesonderhede
Kontak Shobie Arnoldi by 082-801-4114 of besoek sy Facebook-blad by https://www.facebook.com/veldmanagement
Bronverwysings
Snyman, H. (2004) Die impak van vuur in die droër weivelddele word ondersoek (Senwes) https://www2.senwes.co.za/Files/main_Scenario/archive_articles/2004/2004-09_impak_van_vuur_in_weivelde.htm

