Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 21st April 2026

WEIDINGSBESTUUR DEEL 3: Die rol van mikrobes in veldherstel

By 6 min read
1229 words

mikrobes 2

Grondmikrobes is onsigbare helpers wat ’n kritieke rol in veldgesondheid speel omdat hulle organiese materiaal afbreek en grondstruktuur bou. (Bron: Topveld)

Daar word gesê dat ’n veeboer eintlik ’n grasboer is, wat korrek is, maar eintlik boer hy met sy grond.

Gras en ander plante wat in ’n kamp voorkom, is ’n direkte uitvloeisel van die grondgesondheid. Wanneer ’n veld begin agteruitgaan, kyk boere dikwels na reënval, weidingdruk of grondtipe om die probleem te verstaan. Maar die werklike herstelwerk begin veel dieper – by die miljoene mikroörganismes of mikrobes in die grond.

Dit is die mening van weiveld-ekoloog Shobie Arnoldi van Ermelo wat veldmonitering doen waaruit ’n volhoubare weidingsbestuursplan saamgestel kan word sodat kampe se grondgesondheid kan verbeter.

“Grondmikrobes is onsigbare helpers wat ’n kritieke rol in veldgesondheid speel. Die mikrobes breek organiese materiaal af en bou grondstruktuur,” sê Shobie.

Grondmikrobes vorm veral ’n kragtige simbiotiese span met plantwortels van grasse en kruide wat die plante help om water en voedingstowwe tot drie keer meer doeltreffend op te neem. Omdat die grondmikrobes fosfate en atmosferiese stikstof wat in die grond opgesluit is, oplos, kan plante dit opneem en sal dit dus tot verhoogde produktiwiteit lei.

Sekere swamme kan nadelige swamme onderdruk en die plant se verdedigingsmeganismes bevorder. Protosoë het die vermoë om op bakterieë te teer wat hul getalle beheer en terselfdertyd bakteriese stikstof vrystel wat die groei van plante bevorder.

In dié simbiotiese proses verskaf die plant suikers as voedsel aan die mikrobes en sodoende word die gasheer en die swam bevoordeel.

Wanbestuur, soos oorbeweiding, verdigting, versteuring en die verkeerde toepassing en tydsberekening van vuur, kan kaal kolle tot gevolg hê, wat hierdie mikrolewe vinnig vernietig.

Die hersteltempo van die grond se gesondheid hang af van die bestuur bo-op die grond, en daarom is rusperiodes, goeie veldmonitering en ’n beplande weidingsiklus belangrik om die grond se biologiese fabriek aan die gang te hou.

Waar mikrolewe gesond is, sien ’n mens vinniger herstel, beter waterinfiltrasie en ’n merkbare toename in grasbedekking en die diversiteit in plante wat smaaklik en produktief is vir vee. Gesonde veld beteken ’n winsgewende plaas.

Definisie van grondgesondheid

Grondgesondheid word omskryf as die vermoë van grond om ʼn lewensvatbare ekosisteem te onderhou wat hoë produktiwiteit en omgewingsgehalte bevorder. Grondgesondheid word bepaal deur fisiese grondeienskappe, chemiese faktore en biologiese prosesse.

Grondgesondheid is ’n holistiese en dus ’n geïntegreerde benadering en nie net ’n produk of praktyk nie. Gesonde grond word gevorm deur die gebruik van toepaslike gebruike, metodes en gereedskap wat lei tot grondgesondheidstrategieë wat oor jare heen ontwikkel.

Biologiese prosesse is ʼn sleutelfaktor wat tot grondgesondheid bydra en mikro-organismes kan tot 90% van alle biogeologiese prosesse in grond fasiliteer.

Die prosesse sluit verskeie grondverwante funksies wat deur mikroörganismes  ondersteun word, insluitend die verwerking en retensie van voedingstowwe, die afbreek van afvalstowwe, siekte-onderdrukking sowel as die ontbinding en stabilisering van grondaggregate.

Mikorisa is een van talle tipes mikroörganismes wat tot grondgesondheid bydra. Mikorisa is voordelige grondmikrobes wat deur middel van die wortelstelsel ’n simbiotiese verhouding met gasheerplante het. Mikorisa kan as twee hooftipes geklassifiseer word wat bepaal word deur die plek waar die hifusnetwerk in of op die wortelstelsel voorkom.

Endo-mikorisa se filamente of hifus verleng binne die korteksselle van die wortels en vorm stoororgane. Die uitruiling van water en voedingstowwe tussen die swam en gasheerplant vind hier plaas. Hierdie tipe mikorisa, waarvan arbuskulêre mikorisa ’n voorbeeld is, word met die meeste plantspesies op aarde vereenselwig.

Ekto-mikorisa vorm ’n dik laag hifus wat die oppervlakte van die wortelstelsel bedek. Die hifus dring die ruimtes tussen die kortikale selle binne sonder om die selle self binne te dring. Hierdie tipe mikorisa word gewoonlik met houtagtige plante vereenselwig.

Risosfeer

Die risosfeer is die dun lagie grond rondom wortels wat regstreeks deur die simbiotiese verhouding van die plantwortels se afskeidingsverbindings en mikroörganismes beïnvloed word.

’n Groep verbindings wat deur die wortels vrygestel word, is suikers wat in die plant se blare gemaak word. Die suikers beweeg na die risosfeer en dien as voedsel vir bakterieë en swamme. Wortelafskeidings tree ook op as boodskappers wat die mikrobiese bevolking stimuleer.

Mikorisa vorm ’n netwerk van fyn swamdrade of filamente in die risosfeer om die worteloppervlak te verleng en sodoende die absorpsie-oppervlak van wortels met tussen 100 en 1 000 maal te vergroot. (Bron: Katharina Bill, Unsplash)

Mikorisa en fosfaat-vrystellende mikrobes

Mikorisa, ook bekend as wortelswam, word in die meeste gronde gevind. Die mikorisa-swamme kan net in die risosfeer groei en voortplant.

Sekere plante, soos mielies, peulgewasse en sonneblomme, is uitstekende gashere vir mikorisa-swamme, terwyl kanola en koolgewasse nie as gasheer dien nie. Elke plant of gewas het sy eie groep spesies van mikorisa.

Mikorisa vorm ’n netwerk van fyn swamdrade of filamente in die risosfeer om die worteloppervlak te verleng en sodoende die absorpsie-oppervlak van wortels met tussen 100 en 1 000 maal te vergroot. Die uitgebreide netwerk van swamdrade help plantwortels om water en ander voedingstowwe soos fosfor (P) en sink (Zn) op te neem.

Op sy beurt kry die mikorisa-swam weer suikers (koolstof) en ander stowwe van die plantwortels. Die gasheer en swam word dus albei bevoordeel.

Grondbewerking is uiters nadelig vir mikorisa omdat dit die wortelstelsel versteur of selfs vernietig. Al is mikorisa-inokulante kommersieel beskikbaar, sal grondbewerking die voordele van innokulante uitbalanseer. Wisselbou is beter vir die mikorisa.

Onderdrukking en beskerming teen siektes
Veral jong gewasse se wortels is vatbaar vir infeksie deur patogeniese swamme, bakterieë of virusse.

Mikorisa-swamme kan chemiese verbindings met antimikrobiese eienskappe afskei, wat verhoed dat ongewenste swamme die wortels van die gasheerplant binnedring.

Mikorisa dien dus as doeltreffende biologiese beheer-tussenganger.

’n Uitstekende voorbeeld waar mikorisa die plant teen patogene beskerm, is Fusarium spp. wat wortelvrot en kroonvrot in mielies veroorsaak.

In gevalle waar mikorisa nie die patogene heeltemal kan onderdruk nie, kan dit in samewerking met ander biologiese agente, soos wortelknoppie-bakterieë

(Rhizobium spp.) steeds help om die gasheerplant te beskerm.

Die risosfeer is die dun lagie grond rondom wortels wat regstreeks deur die simbiotiese verhouding van die plantwortels se afskeidingsverbindings en mikroörganismes beïnvloed word. (Bron: Topveld)

Grondstruktuur en voedingsvoordeel
Die netwerk van mikorisa-swamdrade dra by tot grondstruktuur en -stabiliteit. Mikorisa vervaardig glomalien, wat soos gom kleipartikels aan mekaar bind

om groter aggregate te vorm. Sodoende word groter porieë-ruimtes in die grond gevorm wat gaswisseling om die wortelsone bevorder, wat beter groei veroorsaak.

Die ruimtes bevorder ook die vinnige verdeling van voordelige aërobiese bakterieë wat stikstof kan bind en fosfor kan oplos en dit aan die plant beskikbaar stel.

Mikorisa-swamdrade bind ook sand saam wat beter vogretensie in die wortelomgewing skep.

Die toevoeging van organiese materiaal, soos kompos, kan ook ’n positiewe uitwerking op arbuskulêre mikorisa-swamme se spoorgetalle hê. In droë gebiede help die mikorisa-swamme om water na die plant te vervoer.

Samevattend kan gesê word dat gunstige mikrobes in die grond dus nie net verantwoordelik vir die afbreking van organiese materiaal nie, maar hulle bind en stel ook belangrike plantopneembare voedingstowwe vry, bou die grondstruktuur op, breek giftige stowwe af en onderdruk siektes en plae – alles vir die bevordering van ’n volhoubare plant- en gewasproduksiestelsel.

Vir meer inligting, kontak Shobie Arnoldi by 082-801-4114 of besoek sy Facebook-blad by  https://www.facebook.com/veldmanagement

Bronverwysings

Genis, A. (2022) Bestuur grond as habitat vir mikrobes Landbou.com

https://www.landbou.com/bedrywe/herlewingslandbou/bestuur-grond-as-habitat-vir-mikrobes-20220919

Marais, J. (2024) Die bydrae van mikorisa tot ʼn grondgesondheidstrategie (Philagro)

https://laeveld.co.za/die-bydrae-van-mikorisa-tot-n-grondgesondheidstrategie-philagro/

Rhode, O. (2018) Gunstige mikrobes in volhoubare landbou LNR Graangewasse https://sagrainmag.co.za/2018/07/30/gunstige-mikrobes-in-volhoubare-landbou/

Verminder ondergrondse verdigting en stimuleer grondbiologie (2026) Humefert

https://www.humefert.com/af-za/

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0