Weeg en wen! Hier is die wenners van die Nasionale Oesopbrengskompetisie

weeg-en-wen1
Tony Esmeraldo van Pioneer
Met ‘n opbrengs van 13,53 ton mielies per hektaar is William Gibbings van Winterton die droëlandkoning in die Nasionale Oesopbrengskompetisie wat onder leiding van DuPont Pioneer staan.
William Gibbings ontvang sy prys van Tony Esmeraldo en Brabdeep Bajwa van DuPont Pioneer en Jackie Pretorius van John Deere.
Die wenner in die wesstreek is Bernard Rabe. Die wenners van die kompetisie is vandag in Midrand aangewys. Pryse van R400 000 was in die spel.
Tony Esmeraldo van Pioneer sê dit was seker die moeilikste jaar om met so ‘n projek te begin, as gevolg van die droogte, maar hulle het besluit om deur te druk, want dit gaan op die ou end oor meer as net ‘n paar hektaar se tonnemaat. Dit gaan oor die verbetering van praktyke en algemene opbrengs.
In Amerika is daar gevind dat deelnemers aan hulle opbrengskompetisie se gemiddelde opbrengs op droëland verdubbel het oor die afgelope ses jaar.
Onder die besproeiingsboere in die ooste is Zirk Scheepers van Cradock met ‘n opbrengs van 20,58 ton mielies per hektaar die wenner.
Soja-boere het ook deelgeneem en in Kwazulu-Natal het Mark Stein met die louere weggestap met sy 4,0296 t/ha, met Pieter van Vuuren van Standerton kort op sy hakke met 3,9634 t/ha. In die wesstreek het Armand de Villiers van Fochville ondanks die droogte 3 t/ha gestroop.
Met soja onder besproeiing het Gerrit Roos van Belfast die hoogste opbrengs van 5,236 t/ha behaal.
Die borge van die wedstryd is DuPont Pioneer, John Deere, Syngenta, FNB, Sanlam, Santam en Senter 360.