Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 10th May 2022

Wat is nuut in boerdery?

By 5 min read
1040 words

Picture2

FarmDroid is die jongste geoutomatiseerde oplossing

Watter groenteboer sal nie giflose onkruidbeheer verwelkom nie? Dit is presies wat FarmDroid doen!

Twee Deense boerseuns, Jens en Kristian Warning, het ՚n robot ontwikkel om die skoffelwerk te doen. Maar dit is nie al nie — die robot plant ook die saadjies en hy werk met sonkrag! Die resultaat is geen brandstofrekening en geen gifrekening.

Die FarmDroid gebruik ultra-akkurate GPS om te onthou waar hy elke saadjie geplaas het. Met elke skoffelskof wat volg, onthou hy presies waar die plantjies is en skoffel rondom hulle. Hy gebruik skoffelskare tussen rye en lemme om die onkruid in rye tussen die plantjies af te sny.

Met hierdie metode is geen duur hoëdefinisiekameras en ingewikkelde rekenaars nodig om teikenonkruid te identifiseer nie, en skoffelwerk kan selfs voordat die plantjies verskyn begin.

Met in-ry en inter-ry-aksie doen FarmDroid ՚n volledige werk. Hy werk tot 5 mm vanaf elke saailing in die ry en 20 mm tussen die rye.

Die hele werktuig weeg 800 kg

Suikerbeetboere wat die eerste FarmDroid getoets het, het ՚n opbrengsverbetering van 40 tot 60% bo trekkergedrewe skoffels behaal. Hulle glo dit is die gevolg van die kombinasie van presiese saadplasing en in-ry onkruidbeheer, wat eenvormige gewasontwikkeling meegebring het.

Bo-op die werktuig se staalraam is vier sonpanele wat twee litium-ioonbatterye laai. Met volgelaaide batterye werk die FarmDroid aaneen vir 24 uur. As die batterye pap word, stop hy en wag vir die son om op te kom.

Die FarmDroid skoffel sowat 6 hektaar per dag

Die twee Deense broers het die eerste prototipes met die hulp van robotikaspesialiste in hulle plaaswerkswinkel gebou. Na die loodsing by Agritechnika, word die skoffelrobot nou in ‘n toegewyde fabriek vervaardig en meer as 250 van hulle werk al fluks in Noord-Europa.

FarmDroid word deur Opico versprei

Opico se besturende direkteur, James Woolway, sê: “FarmDroid is ՚n unieke oplossing vir sowel groot as klein boerderystelsels. Ons verspreidingsnetwerk, onderdele- en tegniese spanne is meer as bevoeg om hierdie beproefde en bewese werktuig te rugsteun.”

Die Suid-Afrikaanse boer sal sowat R1,2-miljoen uit die sak moet skud om ՚n sesry-FarmDroid in te voer … en dan nog ՚n paar rand vir ՚n basisstasie. Opico sal die werktuig by die LAMMA-skou vertoon. (Bron: Farmers Weekly — VK)

Krone-kuilvoerwaens kry nuwe kerfstelsel

Krone het ՚n vernuftige nuwe kerfstelsel vir hulle kuilvoerwaens ontwerp. Die stelsel verhoed ongekerfde materiaal om te ontsnap.

Die jongste ZX- kuilvoerwaens se SplitCut-stelsel is ontwerp om ongekerfde materiaal te keer as dit oor die rotor se kante in die wa se pens wil val.

Terselfdertyd bied die stelsel meer akkuraatheid, sagte materiaalhantering en ՚n kleiner trekkerkragbehoefte.

Met die SplitCut-kerfstelsel is die rotor se kante heeltemal van die laairuimte geïsoleer met kantafskortings. Dit sorg dat geen ongekerfde materiaal in die laairuimte beland nie; nie eers van die kante van die rotor af nie.

Die afgesnyde materiaal word by die eerste mes verdeel en oor die vervoertande vorentoe begelei; twee materiaalkaatsers voer dit na die middel van die rotor, waar dit gekerf en na die laairuim gevoer word.

Die nuwe kerfstelsel het ook die voordeel van stewiger beskerming van die kerfmesse en die dubbelgetemperde lemme bied ook meer weerstand teen spanning en las.

՚n Nuwe ZX-opsie verminder die rotorspoed wanneer ՚n minder kragtige trekker (<184 kW) gebruik word of wanneer yl materiaal gesny word. (Bron: profi)

MERGENTO VT 9220: Pöttinger loods ՚n nuwe vervoerbandhark

Die hooispesialis, Pöttinger, het nou nog ՚n nuttige werktuig by sy omvattende reeks gevoeg: Die nuwe MERGENTO VT 9220-vervoerbandhark met werkwydtes van tot 9,2 meter vir ՚n sentrale windry en 8,7 meter vir ՚n windry langs die kant, is ontwerp vir lusern, klawer en ՚n wye verskeidenheid gewasse van permanente grasveld tot strooi.

MERGENTO se opteller tel die gewas netjies en volledig op terwyl grond en klippe agterbly. Sonder verdere grondkontak voer bande die materiaal na die windry.

Die MERGENTO word veral verwelkom vir droë, blaarryke gewasse, want hy beperk blaarverlies tot die minimum omdat die materiaal nie oor die grond gehark word nie en deurgaans sagkens en sorgsaam hanteer word. Die eindresultaat is voer met meer energie, meer ruproteïen en minder ru-as.

Optimale materiaalvloei

Die MERGENTO se hart is die voerbandeenheid. Hierdie perfek gekoördineerde stelsel verseker ՚n steekhoudende vloei van materiaal en perfek gevormde windrye, selfs met kort gewasse. Die vervoerbandeenheid bestaan uit die opteller, die gewaspersroller, en die vervoerband.

Die beheerde sesry-opteller gee die maksimum prestasie met die minimum gewasbesoedeling of -vermorsing. Die opteltande tel die materiaal sagkens van die grond af op en plaas dit op die vervoerband. Die nokbaan trek die tande terug sodra die materiaal bo die band is.

Die leweringspunt is 120 mm bokant die vervoerband sodat materiaal vrylik en sonder dwang op die band kan val.

Die vervoerbandeenheid werk steeds doeltreffend wanneer jy afdraand ry en met ՚n kortgesnyde gewas. Die onderstelrollers is baie naby aan die tande se optelpunt geplaas en verseker dus perfekte grondvolging.

Die volle vryheid van beweging wat die sentrale skarniermontering van die band bied sorg ook dat die gewig eweredig oor die hele werkwydte versprei word. Dit is ook die grondslag van grondvolging in alle rigtings. Die balk met drie hidrouliese silinders reageer in ՚n deeltjie van ՚n sekonde op enige bulte in die terrein.

(Bron: Pöttinger)

Wanneer die windry in die middel geplaas word, is die vertikale vryheid van beweging +475 mm tot -195 mm en die sywaartse speling +30 grade tot -13 grade. Die skuinste in die rigting van beweging kan wissel tussen +11,5 grade tot 0 grade.

Die MERGENTO skakel die vervoerbande outomaties af op die wenakkers en skakel dit weer aan by die begin van die volgende lopie. Dit verseker dat elke windry netjies begin en eindig. Die bespaar ook baie tyd, want dit is nie nodig om die vervoerband aan die einde van elke windry skoon te maak nie. Die vertragingstyd om die vervoerbande aan- en af te skakel kan gerieflik vanuit die trekkerkajuit beheer word.

Gerieflike werking en maksimum aanpasbaarheid

Die draairigting en die posisie van die twee vervoerbande kan vanuit die trekkerkajuit verstel word. Afhangende van die land se vorm, die volume materiaal en die baler wat die windry agterna moet optel, kan die MERGENTO VT 9220 ՚n windry in die middel of na links of regs, of twee enkelwindrye links en regs pak — en selfs vir ՚n kort tydperk materiaal laai.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0