Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 1st April 2025

Wat is die wêreld dan sonder KOEIE?

By 5 min read
946 words

World Without Cows Images_Michelle Michael at Buck Island Ranch, Florida,USA_Press Kit 1

Kan jy jouself indink, ‘n wêreld sonder koeie? Wel dit is die vraag wat twee bekroonde joernaliste oor drie jaar aan verskeie akademikusse, kundiges, advokate, spesialiste, boere en voedselprodusente regoor die wêreld gestel het, om die dokumentêr, A world without cows, te produseer.

Hoekom sal ons dan wil lewe in ‘n wêreld sonder koeie?

Daar is 1,5-biljoen koeie op aarde. Dit kom neer op een bees vir elke vyf mense. Michelle Michaela en Brandon Whitworth het bevind dat, hoewel koeie verantwoordelik is vir 5% van die kweekhuisgasse wat na aardverwarming lei, help hulle ook met plantegroei, vewyder hulle koolstof sit die lug en sit dit terug in die grond, verbeter hulle biodiversiteit opweidingslande en verander hulle voedsel wat nie deur mense ingeneem kan word nie, in kos wat die voedingstowwe bevat wat ons nodig het.

A world without cows wys ook die ekonomiese en kulturele impak wat koeie regoor die wêreld het. So die vraag staan eintlik, hoe red ons die aarde? Deur van koeie ontslae te raak of om op ‘n volhoubare manier met koeie te boer, wat dalk net die aarde ook kan red.

Wat dra koeie by?

Volgens A world without cows is een uit elke tien mense op aarde, sowat 800-miljoen mense, van koeie afhanklik om ‘n bestaan te maak, met Indië wat die grootste konsentrasie lewende hawe het en ook die grootste produsent van melk in die wêreld is. Brasilië het nou weer die grootste trop kommersiële koeie met net so oor die 200-miljoen koeie in die land. Daar word beraam dat die markwaarde van koeie wêreldwyd sowat $1-triljoen is.

Lewende hawe, wat koeie insluit, is verantwoordelik vir 40% van die totale waarde van landbou-uitsette wêreldwyd. Dit maak koeie ‘n baie belangrike deel van ons toekomstige voedselsekuriteit. Net een glas melk kan ‘n kind tussen vier en agt jaar oud voorsien van 40% van die proteïene wat hy daagliks benodig. Dit bied ook tussen 50 tot 60% van sy daaglikse kalsiumbehoefte en 10% van sy kaliumbehoefte – dit alles terwyl een uit elke vier (2-biljoen) mense ondervoed is.

Een van die kenners in die dokumentêr het bepaal dat sowat 318 kg graan benodig sal word om drie kinders vir ‘n jaar lank te voorsien van die proteïene wat hulle benodig om te groei. Wanneer jy egter daardie 318 kg graan vir ‘n bees voer, kan hy genoeg vleis produseer om 17 kinders ‘n jaar lank van proteïene te voorsien.

Die probleem met voedselsekerheid en die toekoms

Die wêreldbevolkingvermeerder met meer as 1-biljoen mense elke 11 tot 12 jaar. Dit beteken dat ons binne die volgende vier dekades met meer as 10-biljoen honger mae gaan sit. Hierdie getalle plaas ongelooflike druk op die wêreld se voedselprodusente en gaan daartoe lei dat ons dieselfde hoeveelheid voedsel in die volgende 40 jaar sal moet produseer as wat ons in die afgelope 10 000 jaar geproduseer het.

Die probleem is egter dat net een derde van die wêreld se landbougrond gebruik kan word om gewasse te plant. Die ander twee derdes is nie vrugbaar genoeg nie en word as weiding vir diere gebruik.

Wat sê die kenners?

Na afloop van die eerste Suid Afrikaanse vertoning van A world without cows by die Centurion-teater het Dewald Olivier, uitvoerende beampte van Red Meat Industry Services, landbouskrywer, Lindi Bothma, en Charles Moore, ‘n landboukonsultant, ‘n paneelbespreking oor die dokumentêr gevoer.

“Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om hierdie storie te vertel.

Danksy hierdie dokumentêr en aktiviste is die inligting nou beskikbaar vir almal,” het Lindi geantwoord toe sy gevra is hoe om hierdie boodskap oor te dra. Charles het gesê dat die een ding van die dokumentêr wat vir hom uitgestaan
het, is hoe koeie gebruik word vir vernuwing (upcycling). Die diere eet die reste van plante wat byvoorbeeld net weggegooi sou word, en daaruit kry ons gesonde voedingstowwe deur middel van beesvleis.

Dewald het gesê dat rooivleisprodusente hulle eie “narratief moet begin dryf”, en hulle kant van die storie vertel. Hy het dit gemeet teenoor vegetariërs wat openlik praat oor hulle keuses en die voordele daarvan, en hy het bygevoeg dat rooivleisprodusente hierdie gesprek moet gebruik om te vertel wat koeie alles vir die voedseltekort en omgewing kan doen.

“Vir die afgelope paar jaar het ons dieselfde hoeveelheid vleis uitgeslag. Ons het nie minder vleis geproduseer nie, net meer volhoubare metodes begin toepas om vleis te produseer. In Suid-Afrika het ons reeds na mededingende boerdery toe beweeg en een van ons grootste aanwinste is ons kleinskaalse boerderye. Die vraag is hoe help ons hulle ook om meer volhoubaar te boer,” het Dewald gevra.

Lindi meen dat Suid-Afrikaanse boere reeds besig is om volhoubare boerdery toe te pas en voordeel daaruit te put.

“Hoe meer boere hulle kant vertel en hulle metodes deel, hoe meer kan ander by hulle leer,” het sy gesê.

*Wanneer daar in die artikel en in die dokumentêr na koeie verwys word, sluit dit alle beeste in.

Begin die gesprek

A world without cows is ‘n insiggewende dokumentêr wat nie noodwendig die vraag beantwoord nie, maar mense laat wonder oor hoe ons lewe sou wees sonder koeie. Die idee agter die dokumentêr was ook nooit om net een standpunt in te neem nie, maar om ‘n gesprek te begin; ‘n gesprek wat kan lei na alternatiewe volhoubare idees wat die aardverwarmingprobleem en voedseltekort kan oplos. Saam kan daar ‘n daadwerklike verskil gemaak word en die vraag beantwoord word: Is ons werklik beter af in ‘n wêreld sonder koeie?

Indien jy deel wil word van die gesprek of uitvind waar jy die dokumentêr onder oë kan kry, besoek gerus hulle webstuiste by www.worldwithoutcows.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0