Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 16th December 2025

Wat hou die weer in vir Suid-Afrikaanse boere in 2026?

By 3 min read
644 words

pexels-binyaminmellish-108941

Meeste boere kan die reën sien kom, hulle voel dit in die lug. Ander het permanente weerstasies op hul plase wat waarskuwings uitreik. Hoe dit ook al sy, die weer speel een van die belangrikste rolle in enige boerdery.

Met waterskaarste is daar soms nie genoeg water nie, terwyl swaar reën al jou harde werk kan wegspoel. 2025 was ’n goeie voorbeeld hiervan: boere het gesukkel om te oes weens nat toestande, gewasse het langer gevat om uit te droog en aflewerings is vertraag. In 2024 het Suid-Afrika droogtes en rekordhitte ervaar, met wisselvallige reënval wat sommige streke in droogte gelaat het en ander in vloede.

Weerpatrone en hul betekenis

Teen die tweede helfte van 2025 het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) gemeld dat die land na ’n La Niña-patroon begin oorskakel. Dit beteken verhoogde kanse op somerreënval in die noordooste en ooste, terwyl die suidweste droër as normaal was.

In 2026 kan drie patrone voorkom:

•El Niño: warmer, droër toestande wat droogte en waterskaarste veroorsaak.
•La Niña: koeler toestande met bogemiddelde reënval, veral in die Hoëveld, Vrystaat en KwaZulu-Natal, met vloedrisiko.

•El Niño-Suidelike Ossillasie (ENSO)-neutraal: gemiddelde see-oppervlaktemperature, met gemengde effekte.

Hierdie patrone word internasionaal gemonitor deur die Wêreld- Metereologiese Organisasie (WMO) en plaaslik deur SAWS.

Weervoorspelling vir 2026

Volgens die SAWS se Seasonal Climate Watch (November 2025) is die ENSO steeds in ’n neutrale toestand maar besig om oor te gaan na ’n swak
La Niña-toestand.

Voorspellings dui daarop dat ons na hierdie gebeurtenis beweeg gedurende die komende somerseisoen en dat dit veral middel- en laatsomer sal tref.

Vir Suid-Afrikaners beteken dit bonormale reënval oor die noordoostelike dele van die land. Minimum temperature word verwag om bonormaal te wees vir die meeste dele van Suid-Afrika gedurende die somer, terwyl maksimum temperature waarskynlik ondernormaal sal wees vir die noordoostelike dele en bonormaal vir die suidweste.
Hierdie verhoogde waarskynlikheid van ondernormale maksimum temperature dui op langdurige wolkbedekking en gee ekstra vertroue in ’n bonormale somerreënvalseisoen.

•Januarie tot Februarie 2026 gaan La Niña oorheers met bogemiddelde reënval in die sentrale en oostelike streke. Vloedrisiko’s kan in laagliggende gebiede voorkom.
•Maart tot April 2026 is die oorgang na neutraal, die reënval verminder en plaaslike droogtes kan moontlik voorkom.
•Mei tot Augustus 2026 (winter) gaan die neutrale toestande voortduur met droër toestande in die Wes-Kaap en natter toestande by die ooskus. Daar is ook ՚n rypgevaar in hoëliggende gebiede.
•September tot Desember 2026 sal die neutrale ENSO-toestande aanhou met bonormale temperature en vroeë somerreënval kan vertraag wees.

Praktiese implikasies van die voorspelling

Bonormale reënval word voorspel vir alle streke in die land se somerreënvalgebiede gedurende die somermaande. Dit sal ՚n positiewe impak op gewas- en veeboerdery hê.

Daar is egter ’n verhoogde risiko van versuiping wat gewasskade kan veroorsaak en boere word aangemoedig om praktyke soos grond- en waterbewaring toe te pas, behoorlike wateropvang en -berging te verseker, goeie dreineringstelsels te vestig en ander toepaslike boerderypraktyke te implementeer.

Boere moet ook die toename in plae en siektes monitor en hul vee inent om siekte-uitbrekings weens die nat toestande te voorkom.

Afgesien van hierdie voorspellings, lui die gesegde egter: “Die weer is onvoorspelbaar.” Suid-Afrikaanse boere het dit die afgelope jare weereens besef. Hou jou vinger op die pols deur gereeld die SAWS (weathersa.co.za) en Accuweather (accuweather.com) te raadpleeg

Bydraende instellings en nuttige skakels

Al die voorspellings wat hier aangebied word, is die resultaat van waarskynlikheidsvoorspellings gebaseer op die ensemble-lede van die gekoppelde klimaatmodel van die SAWS en twee modelle van die North American Multi-Model Ensemble (NMME).

Data-oorsig (Weather25.com)

Nuttige skakels vir seisoenale voorspellings:

•SAWS – jongste voorspellings vir die hele SADC
•https://www.weathersa.co.za/home/seasonal
•ENSO-voorspellings van verskeie sentrums- https://iri.columbia.edu/our-xpertise/climate/forecasts/enso/current/
•Copernicus Global-voorspellings –https://iri.columbia.edu/our-expertise/climate/forecasts/seasonal-climate-forecasts/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0