Warm nuus: Bek-en-klouseer vermoedelik ook in Wes-Kaap

Foot_and_mouth_disease_in_mouth
Daar heers groot onsekerheid oor die gevolge wat die moontlike uitbreking van bek-en-klouseer in die Wes-Kaap vir vee-eienaars inhou.
“Die nuus hang soos ’n swaard oor ons koppe,” sê Henry Meyer, suiwelboer van Mosselbaai en verteenwoordiger van Agri Wes-Kaap in die Suid-Kaap. “Ons het gisteraand die slegte nuus gehoor en my foon lui aanmekaar soos wat bekommerde boere wil weet wat nou. Tot dusver het ons bietjie laat slaplê met biosekerheid omdat bek-en-klouseer ver van ons af was …”
Die slegte nuus is dat bek-en-klouseer op ’n Vrystaatse plaas moontlik teruggespoor kan word na die Wes-Kaap, tot dusver een van net twee provinsies wat die gevreesde siekte vrygespring het.
Tot die siekte 2024 in die Oos-Kaap uitgebreek het, was die drie Kaapse provinsies, naamlik die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Noord-Kaap die enigste wat sonder inenting vry was van die siekte.
Volgens ’n mediaverklaring van die Departement van Landbou hou ’n voorval van bek-en-klouseer op 1 November op ’n plaas in die Vrystaat verband met beeste wat vanaf die Goudagebied in die Wes-Kaap kom.
Die Wes-Kaapse Veeartsenydienste het die eiendom in Gouda onder kwarantyn geplaas nadat beeste met verdagte sere aan die bek opgemerk is. Monsters word in ’n laboratorium ontleed om te bevestig of die dier/e met die staatsbeheerde, aanmeldbare siekte besmet is.
Intussen is nog twee eiendomme by Velddrif aan die Wes-Kus en Bredasdorp in die Overberg ook onder kwarantyn geplaas en word ondersoek ingestel nadat beeste op 30 Oktober van daar af verskuif is.
Dit is nog duister hoe die diere in die Wes-Kaap besmet geraak het; die vervoermaatskappy wat die diere vervoer het, word ook ondersoek, net soos al die plekke wat die maatskappy gedurende die afgelope 30 dae besoek het.
Volgens Henry word juis bespiegel dat vervoerkontrakteurs dalk die oorsaak kan wees van die voorkoms van die siekte in die Wes-Kaap. “A-graad slagbeespryse is tans amper so goed soos speenkalfpryse. Jong beeste wat lekker steaks maak verkoop goed op veilings, want na die droogte is daar nie vet beeste beskikbaar nie. Wat kon gebeur het, is dat ’n vervoerkontrakteur wat speenkalwers vervoer op pad terug jong slagbeeste kon vervoer het, want hy kan ’n paar rand maak as hy nie met ’n leë trok terugry nie …”
Almal is bekommerd oor die impak wat hierdie dilemma op nie net die vleisbedryf nie, maar ook op die melkbedryf gaan hê. “Dit is ’n moeilike situasie om te bestuur. Baie melkboere verkoop verse om die koöperasierekening te betaal, maar bek-en-klouseer maak daardie agterdeur toe.”
Volgens hom het Agri Wes-Kaap verlede jaar al voorsorg begin tref vir die moontlikheid. “Twee slagpale is gereed gemaak om diere met bek-en-klouseer te slag. Maar daar is nog baie praktiese goed wat in plek moet kom.”
Varkpes wat in die omgewing van Bredasdorp voorkom is veral kommerwekkend. “Varke dra die siekte die maklikste oor. Veral nou voor die Kersseisoen is varke baie gewild. Ek het nou die middag omstreeks vyfuur tussen Albertinia en Mosselbaai’n bakkie met varke teëgekom, maar ek kon nêrens ’n polisiebeampte opspoor om te kom ondersoek instel of die varke wettig vervoer word nie.”
Meld aan
Vee-eienaars wat tekens van die hoogs aansteeklike siekte onder hulle vee opmerk, moet dit onmiddellik by die naaste staatsveearts aanmeld. Spore van die siekte word oorgedra wanneer besmette diere met ander in aanraking kom, maar ook deur besmette voertuie, toerusting, vee en klere. Alle spleethoewige diere insluitend beeste, skape, bokke, en varke is vatbaar vir bek-en-klouseer. Hoewel dit nie mense aantas nie, kan mense die siekte oordra.
Bisekerheidsmaatreëls moet streng toegepas word. Dit sluit in dat alle spleethoewige diere slegs vervoer kan word indien hulle vergesel word van ’n amptelike verklaring dat hulle gesond is en 28 dae lank by hulbestemming in afsondering gehou sal word.
Alle beweging van lewende hawe na en van die Wes-Kaap moet aanlyn aangemeld word met ’n vorm wat hier https://tinyurl.com/AnimalMovementApp beskikbaar is. Dit sal die Wes-Kaapse Veeartsenydienste in staat stel om alle bewegings na te spoor en te monitor.
Almal in die rooivleisbedryf-waardeketting, insluitend grondeienaars, afslaers en vervoermaatskappye wat lewende hawe vervoer, moet aan hierdie vereistes voldoen. Meer inligting is beskikbaar by https://www.elsenburg.com/western-cape/infopaks/
Vir meer inligting, kontak die Wes-Kaapse Veeartsenydienste by https://www.elsenburg.com/western-cape/frequently-asked-questions/faq-foot-and-mouth-disease/