Categories: Artikels, Gewasproduksie, SA295-gewasproduksiePublished On: 5th September 2024

Vyebedryf in Suid-Afrika

By 7 min read
1352 words

vye 6

Vyeproduksie gedy in Suid-Afrika, veral in die Wes-Kaap waar die Mediterreense klimaat ideaal geskik is vir die produksie van die gesogte vrug. En wie hou dan nie van ՚n vy nie? Vars van die boom af, ՚n groenvy blink van die stroop, ՚n sny brood met ՚n dik laag vyekonfyt. . . Die eetvy (Ficus carica) is een van sowat 750 Ficus-spesies wat wêreldwyd voorkom.

Dit is die enigste vyspesie waarvan die groot, smaaklike vrugte al duisende jare lank verbou word. Dit het sy oorsprong in TransKaukasië en die Midde-Ooste, vanwaar dit na Europa en Noord-Afrika versprei het. Dit het Suid-Afrika eers teen die einde van die 17de eeu bereik. In die 1800’s is vye op plase en in tuine in Suid-Afrika geplant, maar is eers in die 1900’s kommersieel verbou. In 1910 het Piet Cillie plantmateriaal uit Kalifornië ingevoer en die eerste kommersiële vyeboord op sy plaas by Wellington in die Wes-Kaap geplant. Aanvanklik is gefokus op gedroogte vye en vyekonfyt, maar toe die kommersiële produksie van konfyt begin, is voorvye, ook bekend as breba-vye, wat groen van die bome gepluk word, begin bemark.

Eers in die vroeë 2000’s is hier met eetvye begin boer wat uitgevoer is vir verspreiding in supermarkte in Brittanje en die res van Europa. In 2020 tot 2021 is 425 ton vye uitgevoer waarvan die meeste na Brittanje (51%), die Verre Ooste en Asië (33%), die Europese Unie (11%) en die MiddeOoste (5%) gegaan het. Tans is daar meer as 30 kommersiële vyeboere op sowat 300 ha. Die produksie-eenhede wissel van 4 ha tot 8 ha, maar daar is ook boere wat baie groter aanplantings het.

Daar bestaan ՚n groot mark vir donkerkleurige vye met rooipienk vleis in die buiteland. Weens die aanvraag het die vyeproduksie en -bemarkingsorganisasie Alternafruit (Edms) Bpk verskeie nuwe donkerkleurige vyekultivars soos partenokarpies, ingevoer. Die vye word toenemend hier verbou. Tans is daar meer as 30 kommersiële vyeboere in die land. Elders in die wêreld word meer as ՚n miljoen ton vye jaarliks in sowat 50 lande wêreldwyd geproduseer. Turkye produseer die meeste, gevolg deur die VSA en Brasilië, Egipte, Algerië, Tunisië en Marokko, Sirië, Iran en Spanje.

Klimaat (temperatuur)

Volgens Koos Lotter, vyekenner en skrywer van Die vy in Suid-Afrika, is eetvye in gematigde klimaatsomstandighede bladwisselend en die knoppe het winterrus nodig, hoewel kultivars se kouebehoeftes kan verskil.

In Brasilië, die tweede grootste uitvoerder van vye, word vye in subtropiese en selfs tropiese gebiede verbou, maar die rusbreekmiddel Dormex help om die vye te laat bot. In Israel word hulle voorvy-kultivar Nazareth ook met Dormex behandel wat die breba-oes oor die groot deel van die jaar versprei. Droogte of lae omgewingstemperatuur in die lente kan bot en nuwe groei vertraag, wat neerkom op ekologies geïnduseerde winterrus. Koue in die herfs kan die groei tot stilstand laat kom. Koeler klimaatstoestande bevorder die grootte van vye, maar in die herfs kan dit te koud word vir optimale rypmaak van die laat vrugte aan die punte van lote. Jong bome is meer gevoelig vir ryp en -1 ºC kan nuwe lootgroei in die lente doodmaak. Somertemperature van 32 tot 37 ºC kan lei tot goeie gehalte vrugte wat bestem is vir droogdoeleindes, maar hoër temperature bo 44 tot 47 ºC gee die vrugte ՚n taai tekstuur wat nie geskik is vir kommersiële vyeboerdery nie.

Vogtigheid

Warm, droë klimaatstoestande tydens oestyd is noodsaaklik, want klam weer skep gunstige toestande vir bederforganismes soos botritis en gisswamme wat deur asynvliegies en ander insekte versprei word. Vogtigheid veroorsaak krakies of barste in die vrug wat dit blootstel aan verrottingsiektes. Dit kom veral voor in somerreënvalstreke. Vyebome het ՚n groot, vlak voedingswortelstelsel van drie maal die omvang van die boom se blaredak en die besproeiingstelsel moet voorsiening maak daarvoor. Vye hou ook nie van oortollige vrywater in die grond nie.

Grond en voeding

Volwasse vyebome is redelik verdraagsaam teenoor ligte brakgrond, maar gevoelig vir natrium, chloriede en boorsoute. Die ideale pH is 6,0 tot 7,8 en te lae pH kan met kalk reggestel word. Waar ՚n te hoë kalkinhoud voorkom, soos in die duingrond van die Weskus-sandveld, kan sink- en mangaantekorte met spoorelementspuite beheer word. Die grond moet voor aanplanting minstens 1,5 m diep losgemaak word en voorsien word van organiese materiaal, fosfaat en potasreserwevoedingstowwe. Oortollige stikstof veroorsaak onnodige geil groei. In huistuine kan groot hoeveelhede kompos met BounceBack as bemesting die plantgat dien. Grassnysels wat gereeld toegedien word kan soms voldoende stikstofbemesting deur die seisoen verskaf.

Die vlak wortelstelsel is gevoelig vir onkruid. Daarom is kweek en skoon bewerking met ՚n skoffel en chemiese onkruidbeheer noodsaaklik. Enige vorm van dekgewasse is voordelig. Vye onder nette of in waterkultuur verhoog produksie en vruggehalte en maak dit makliker om insekplae te beheer.

Groeiwyse van die vyeboom

Vyebome se groot, enkelvoudig en gelobde blare dui op ՚n kragtige metaboliese vermoë wat duidelik blyk uit die vyeboom se geil groei en dravermoë. Die loot verleng na bot en ontwikkel in elk van die oksels van die blare drie knoppe – ՚n vegetatiewe knop met twee reproduktiewe knoppe weerskante. Die blaarknop bly onontwikkeld terwyl die loot se terminale loot verder groei. Afhangend van die kultivar ontwikkel die reproduktiewe knoppe in een of twee vye per nodium. Namate die loot verleng, word die vye volwasse en ryp vanaf die basis na die terminale deel van die loot.

Die White Genoa-kultivar is die gewildste in Suid-Afrika omdat dit in Oktober baie voorvye dra wat by inmakers gewild is vir groenvyekonfyt. Vye is enige tyd gedurende die seisoen geskik vir groenvyekonfyt solank as wat dit ferm genoeg is en die regte grootte is. Die hoofoes is ook geskik vir rypvyekonfyt.

Snoei en oplei

Die doel met die snoei van bome is om maksimum beligting te verseker. Alle vyebome het ՚n stam van sowat 30 tot 40 cm lank waaruit die raamtakke ontstaan. Slegs een hoofstam moet ontwikkel en alle ander lote wat daarmee meeding moet met top van jaaroud lote en terugsnoei van meerjarige lote verswak of heeltemal verwyder word. Die meeste kommersiële vyebome word in ՚n kelkvorm of gewysigde kelkvorm opgelei, wat voorkom dat ՚n massa onproduktiewe hout op die boom opbou wat beskaduwing meebring en standhoudende oeste tot die buitenste deel van die boom beperk.

Bloeiwyse en bestuiwing

Die meeste eetvye het nie bestuiwing nodig nie. Die Kapri-vy wat vir die bestuiwing van Smyrna-vye nodig is, het bestuiwing deur die Blastophaga psenes-wesp nodig. Die vye word in die somer ryp en dit duur ՚n paar maande afhangend van die groei-omstandighede en veral die temperatuur van die omgewing. Die lote is tussen een en drie meter lank en die vye aan die lote, wat laatvye genoem word, maak die hoofoes van die boom uit.

Voedingswaarde

Hoewel kultivars van mekaar verskil, dra vye in die dieet by tot die daaglikse inname van anti-oksidante, dieetvesel, vitamien B6 en minerale soos magnesium en mangaan.

Voortplanting

Vir kommersiële verbouing word vye vegetatief met steggies voortgeplant. Vyebome word gewoonlik op hulle eie onderstame gekweek, maar aalwurmbestande onderstamme word ook gebruik.

Deanna, wat deur die Landbounavorsingsraad Infruitec vanuit Kalifornië na Suid-Afrika ingevoer is, is ՚n produktiewe draer van groot geel-groenvye. (Bron: Pixabay)

Vyesiektes

Buiten aalwurm is die algemeenste probleem van vye in ՚n huistuin dat die vye suur word. Dit word veroorsaak deur gisting van die suikers in die vy na alkohol en asyn wat deur gisswamme wat in die atmosfeer voorkom, veroorsaak word. Die asynvliegie wat met die swamme besmet is, dring die vy deur die ostiool (opening aan die onderkant van die vy) binne. Die gisting word bevorder deur klam toestande en dit is minder van ՚n probleem tydens die Wes-Kaapse droë warm somermaande en in die Klein-Karoo.

Die antwoord is boordsanitasie deur die ryp en besmette of gebarste vrugte uit die boom en van die grond af te verwyder. Verskeie ander swam- en virussiektes en insekte soos die stamboorder en boorwurm kan groot skade in ՚n vyeboord aanrig. Daar is ook ՚n menigte siektes wat vyebome aantas. Voëls kan eweneens groot skade aanrig, maar gewoonlik is dit beperk tot ryp vye. Huiseienaars kan ou straalplate in die boom hang wat sonlig weerkaats en die voëls (hopelik) weghou.

Bronverwysings

Lotter, J. de V. (2012). Die vy in Suid-Afrika. J de V Lotter

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0