Vrystaatse boere gevra om provinsiale paaie op eie koste te herstel

Warden-Vrede S808 12Oct2021
Warden-Vrede pad
Met Vrystaatse paaie wat al hoe meer onrybaar raak, het padherstelwerk en instandhouding in die Vrystaat amper tot stilstand gekom. Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), het die organisasie herhaaldelik versoeke aan die Vrystaatse provinsiale regering gerig om aandag aan die groeiende krisis te gee.
Die Minister van Vervoer, Fikile Mbalula, het vandeesweek aangekondig dat fondse vir padinstandhouding opgedroog het. Hierdie begrotingsbeperkings is tydens ‘n vergadering van die Vrystaatse LUR van Polisie, paaie en vervoer bevestig.
“VL is gevra om die departement by te staan om die paaie reg te maak, maar dat die departement nie boere vir hul uitgawes kan vergoed nie”. Boere betaal skraperoperateurs sodat gruispaaie geskraap kan word en gebruik eie arbeid en hulpbronne om slaggate te vul!
“Dit beteken dat die regering nie aan hul dienslewering verantwoordelikhede kan voldoen nie, terwyl burokrate in die topswaar Vrystaatse provinsiale paaie departement steeds hul salarisse sal ontvang,” het Wilken gesê.
“Op hierdie stadium is daar werklike moontlikheid dat die Vrystaatse plaaslike en provinsiale padnetwerk binne die volgende paar jaar ineen kan stort. Dit sal miljoene mense van basiese en kritieke dienste afsny.”

Die volgende paaie, om net ‘n paar te noem, loop die gevaar van totale verval:
- Die R30 wat ‘n hoofroete is wat Welkom met Bothaville, Klerksdorp en Orkney verbind. Die departement het nie genoeg aanwysingsborde gehad het om ongelukke op ‘n oorstroomde stuk te voorkom en om verkeer na ‘n gruisverbypad wat behoorlik onderhou is, te herlei nie.
- Die Clarens (R711) & Ficksburg (R26) paaie is hoofroetes na groot toerisme- en landbou-toerismebestemmings en vir internasionale handel met Lesotho. Die Ficksburg-Fouriesburg-pad (R26) word as die slegste pad in die provinsie gedoop. Die R34 tussen Memel en Bothaspas is nie ver agter nie – kontrakteurs het opgebou werk omdat hulle nie betaal word nie
- R34, R59 & R505 – Wesselsbron, Makwassie en Hoopstad paaie is krities vir lewering van stapelvoedsel aan silo’s en verwerkingsaanlegte om ons nasie te voed. Die R709 tussen Hobhouse en Winburg is ook ‘n kritieke landbouroete en roete vanaf die Oos-Kaap en Lesotho vir mynwerkers na die Vrystaat Goudvelde toe.
- Om nie eens te praat van die meeste grondpaaie wat boere en plattelandse gesinne en maatskaplike ondersteuningsdienste daagliks moet gebruik wat bitter min geskraap word, nooit meer hul dreinerings en waterbane oopgemaak word of bome en bosse in die padreserwe verwyder nie en waarvan hul padoppervlaklae meestal weg-gewas is.
- Die instandhouding van ons nasionale padnetwerk is ‘n grondwetlike verpligting van die Paaie Departement waarvoor hulle begroting van die nasionale tesourie ontvang en deur belastingbetalers geld befonds word.
- Wat doen die regering met die padbrandstofheffing wat veronderstel is om alleenlik vir herstelwerk aan paaie aangewend te word?
- Watter persentasie van die paaiebegroting gaan na vlak 1-8 (R500k/jr) vlak werknemers en die getalle in diens op elke vlak?
- Waarom sal die provinsiale departement nie hul padinstandhoudingsplanne en – begrotings met ons deel nie? Dit is die tipe vrae waarop ons antwoorde moet kry. Ons is besig met reëlings om die premier te vra en om die voor te lê aan die ekonomiese groepering van die Vrystaatse Wetgewer.
- “Al is ons lede nie padbouers nie, was VL nog altyd bereid om met die provinsiale regering saam te werk, maar SEB en regstellende aksie wetgewing en vereistes is egter die groot struikelblok wat verhoed dat plaaslike boere/ kontrakteurs/ gemeenskappe betaal word om te help met die oplossing van die groeiende krisis”
Bron: Vrystaat Landbou