Vrystaat Landbou (VL) vra publiek se hulp om brande te voorkom

droogte
Die droogte is steeds vars in die landboubedryf se geheue, en boere en die totale bedryf gaan nog jare neem om van die effek daarvan te herstel. Miljoene is gespandeer om Vrystaatse boere by te staan met droogtevoer.
Landboumaatskappye het hulle harte en beursies oopgemaak, en skenkings gegee asook boere in verskeie gevalle in terme van krediet tegemoet gekom. Daardie krediet is egter nou tydens die herstelperiode betaalbaar, so die druk op boere en die bedryf is steeds aanwesig.
Volgens weervoorspellings deur Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, die afgelope paar maande, kan die ontwikkeling van nog ’n El Niño stelsel gesien word, met die uitkoms daarvan tans onseker. Boere is reeds vir weke, en sommige maande, lankal besig om voorbereidings te tref vir die brandseisoen, veral aangesien die veld goed op reën gereageer het en daar dus baie gras en/of weiding is wat kan brand sou ’n brand ontstaan. Die behoud van dié weiding en/of gras is egter baie belangrik vir boere, veral in die lig van die onseker toestande in die komende seisoen.
Dit is teen dié agtergrond wat Vrystaat Landbou (VL) ’n ernstige versoek aan nie net boere rig om tydige voorbereidings te tref nie, maar ook aan lede van die publiek om nie brande te laat ontstaan nie.
“Met die droogte wat pas verby is en gegewe weervoorspellings van nog ’n El Niño weerstelsel wat moontlik in die 2017/18 seisoen kan voorkom, kan die Vrystaat nie nog ‘n ramp bekostig nie. Ons wil boere vra, beskerm asb jou veld, want ons weet nie wat volgende jaar kan gebeur nie. Ons wil bestuurders vra om nie sigaretstompies by voertuie uit te gooi nie, want dit kan gras aan die kante van paaie aan die brand steek. Verder vra ons asb dat die maak van oop vure sover moontlik beperk word, veral op winderige dae. So ’n oop vuur kan buite beheer raak en groot skade vir ’n totale gemeenskap veroorsaak,” aldus Henk Vermeulen, hoof uitvoende beampte van VL.
Vermeulen sê die organisasie is dankbaar om te sien dat die Departement van Paaie en brandverenigings in sekere dele van die Vrystaat reeds padreserwes begin sny het om brande te probeer voorkom. “Ons moedig die departement en brandverenigings wat dit nog nie begin doen het nie, om dit as ’n saak van erns te beskou en so gou moontlik aan te spreek.”
VL deel hier ook graag wenke vir die brandseisoen wat die Vrystaat Sambreel Brandbeskermings Vereniging (VSSBBV) in Vrystaat Landbou se Mei 2017 Nuusflits gedeel het. Thinus Steenkamp, voorsitter, deel hierin ook inligting oor wat brandverenigings alles te doen staan.
Bron: Vrystaat Landbou