Vrystaat Landbou verwerp EVV se stellings oor grond
Die onverantwoordelike stellings en besluite van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) oor grond tydens sy eerste jaarkongres by die Unversiteit van die Vrystaat in Bloemfontein is ten sterkste deur Vrystaat Landbou (VL) verwerp! Volgens mediaberigte het die party se komitee vir grond- en landbouhervorming onder andere besluit dat mense wat grond geëis het, daardie grond onwettig moet gaan beset en indien dit ‘n plaas is, moet hulle produksie daar stopsit.
Sulke stellings sal nie net lei na anargie nie, maar dit sal ook versoening in Suid-Afrika pootjie. VL wil beklemtoon dat daar ’n wettige manier is om sulke kwessie deur middel van die Grondwet aan te spreek. Die organisasie spreek ook sy kommer uit oor die stellings wat rondom die belemmering van produksie gemaak word, want die verlies van voedselsekerheid in Suid-Afrika sal erge nagevolge vir die land inhou. So ’n situasie sal op die lange duur ook werksverliese tot gevolg hê, terwyl die party hulle ironies genoeg beywer om werk te skep.
Henk Vermeulen, hoofbestuurder van VL, sê die EVV word versoek om hulle politieke aspirasies binne die Grondwetlike raamwerk wat opgestel is, te rig. “Voedselsekerheid en beskerming van eiendomsregte is ononderhandelbaar vir die land, en ons reken ons leiers moet op die toekoms fokus en hoe om die land op te bou. Dit gaan die land nie baat om op die verlede te fokus nie. Ons verwerp alle eensydige uitsprake wat die produsente van die land asook die land in geheel sal benadeel.”
VL het Donderdag, 18 Desember 2014, ’n vergadering met die topstruktuur van die SAPD in die provinsie, en dié kwessie asook vinnige optrede deur die SAPD as onwettige betreding/besettings aangemeld word, sal bespreek word.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se wet en orde komitee, het lede en boere aanmoedig om kalm te bly te midde van sulke uitsprake, en hy versoek alle boere om bedag te wees op onwettige betredings/besetting, en om hulle plaaslike polisiestasie onmiddellik daaroor te kontak.
Gernie Botha, ’n veiligheidsrisiko-ontleder by VL se Veiligheidslessenaar, kan ook gekontak word by 082-376-4435.