Vrystaat Landbou sal alles in stryd werp om eiendomsreg te beskerm

trees-2900064_1920 (1)
Foto: Pixabay
Na maande van afwagting is die Onteieningswet deur president Ramaphosa onderteken, maar Vrystaat Landbou (VL) is van mening dat die wet nie die grondwetlike toets sal slaag nie.
Die organisasie wys daarop dat die wet se definisie van “onteiening in die openbare belang” vaag is en subjektief toegepas kan word. Francois Wilken, president van VL, meen die Onteieningswet is irrasioneel aangesien dit alle bates (nie net grond nie) vir onteiening teiken teen ʼn vergoeding van R0. Verder plaas dit die onregverdige las op die slagoffers van onteienings om die koste van besware en regshersienings te dra. “Die staat gebruik jou eie belastinggeld om teen jou te veg, terwyl jy die volle rekening betaal,” verduidelik Wilken.
Die vae en verreikende bepalings van die wet skep ruimte vir magsmisbruik en korrupsie op alle regeringsvlakke.
“Die toepassing van die Onteieningswet kan ekonomiese en politieke chaos tot gevolg hê, omdat dit toelaat dat enige persoon se bates geteiken kan word – van ʼn arm bestaansboer tot ʼn regter van die konstitusionele hof, of selfs politieke teenstaanders,” waarsku Vrystaat Landbou.
President Ramaphosa is reeds uit verskeie oorde versoek om die wet na die Grondwethof te verwys. Hy het egter nie hieraan gehoor gegee nie – “waarskynlik omdat hy weet die wet is ongrondwetlik, maar nie die moed het om Suid-Afrikaners teen die ANC se ideologie te beskerm nie.’ sê Wilken. Nou word dit aan die burgers van Suid-Afrika oorgelaat om hul regte op eiendom te verdedig, en Vrystaat Landbou sal deel van hierdie stryd wees.
Vrystaat Landbou meen verder dat daar ʼn politieke vakuum in die land ontstaan het. Die voormalige opposisiepartye in die RNE het hul kritiese stem verloor en bied nie meer daadwerklike teenkanting teen die regering se beleid nie, terwyl die ANC voort stoomroller met hul planne. Suid-Afrika sit dus met verkose verteenwoordigers wat geen visie of rigtinggewende beleid bied nie.
Tydens die 2024 verkiesing is kiesers beloof dat die opposiesblok ʼn sogenaamde oordeelsdagkoalisie sou stuit. Nou is hulle deel van die kabinet wat ʼn oordeelsdagbeleid deurvoer. Die vraag is: waarom is hierdie partye deel van die regering as hulle geen invloed op beleidsbesluite het nie?
Vrystaat Landbou beklemtoon: “Ons sal alles binne ons vermoë doen om eiendomsreg op landbougrond te beskerm. Hoewel ons fokus tans op landbougrond is, glo ons dat hierdie kwessie ook ander sektore sal raak.”
Bron: Vrystaat Landbou